Deur Christa Swanepoel
Is die sêding waar? ’n Verkoue of griep klaar binne 14 dae op mét medisyne en binne twee weke sonder medisyne. Dieselfde tydperk dus! Ons het meer gaan uitvind oor hierdie virussiektes.
Wat presies is ’n virus?
Volgens die Merck- mediese handleiding is ’n virus ’n klein aansteeklike organisme, baie kleiner as ’n fungus of bakterie wat ’n lewende sel nodig het om voort te plant. As die virus eers aan ’n lewende sel haak, stel die virus sy DNS of RNA vry (wat die inligting bevat om nuwe virus-partikels te skep) en neem beheer van sekere aspekte van die sel se metabolisme oor.
WAT IS DIE VERSKIL?
Verkoue
Verkoue is een van die algemeenste virusinfeksies wat die neusmembraan, sinusse, keel en groot lugweë affekteer. Verskillende virusse kan verkoue veroorsaak. Die pikornavirusse, soos die rhinovirus veroorsaak meestal verkoues wat in die lente, somer en herfs voorkom. Griepvirusse en respiratoriese sinsitiale virusse (RSV), wat in laatherfs en winter voorkom, veroorsaak verskeie siektes, waaronder verkoue. Dit versprei deur die inaseming van besmette fyn sproei wat uitgehoes of uitgenies word, of om direk met ’n besmette persoon se uitskeidings in aanraking te kom, soos om aan dieselfde oppervlakte of artikel te vat.
Griep
Net soos verkoue is griep ’n virale infeksie. Dit veroorsaak koors, ’n loopneus, hoes, hoofpyn en inflammasie van die binnewand van die neus en lugweë. Jy sal ook sieker voel as met verkoue. Baie virusse veroorsaak griepagtige simptome, maar dis gewoonlik influenza A- en -B-virusse wat die winterverkoues tot gevolg het. Griep word op dieselfde manier as verkoues oorgedra.
SIMPTOME
Verkoue
Simptome begin een tot drie dae ná infeksie. Die eerste simptome is gewoonlik ongemak in die neus en keel. Dan begin jy nies, jou neus loop en jy voel goor. Jy kan bietjie koors hê as die simptome begin, maar meestal gaan koors nie saam met verkoue nie. Uitskeiding uit die neus is oormatig en waterig, en verkleur later en raak dikker. Jy kan ’n hoes ontwikkel.
Simptome klaar ná vier tot tien dae op, maar kan tot 14 dae duur. As daar ’n komplikasie is, kan die simptome nog langer aanhou. Dit sluit infeksie van die lugpyp en ’n benoude bors in. Mense wat tot brongitis en asma geneig is, sal meer met asemhaling tydens ’n verkoue sukkel.
Ná die verkoue kan bakteriese infeksies voorkom, soos in die ore, sinusse en boonste lugweë. Jou dokter kan dan antibiotika daarvoor voorskryf.
Griep
Simptome begin 24 tot 48 uur ná infeksie en kan skielik begin.
Kouekoors kan die eerste aanduiding wees dat jy griep kry. Koors is algemeen tydens die eerste paar dae van griep en jy sal tien teen een sleg genoeg voel dat jy in die bed wil bly. Jou lyf en veral jou rug en bene kan pyn, en erge hoofpyn kan voorkom, wat deur skerp lig vererger word.
Lugwegsimptome begin met ’n seer keel en ’n brandgevoel in die bors asook ’n loopneus. Die hoes kan erg raak met slym wat uitgehoes word. Die mond en keel raak rooi, die vel is warm en jou oë water.
Veral kinders kan naar word en braak.
Simptome klaar ná ’n paar dae op, maar koors kan langer aanhou. Brongitis kan egter tien dae of langer aanhou en die lugweë kan ses tot agt weke vat om heeltemal op te klaar. Jy kan ook vir dae of weke nog swak voel.
BEHANDELING
Verkoue
- Bly warm en gemaklik en probeer om nie die infeksie na ander oor te dra nie, veral in die vroeë stadium van die verkoue. As jy koors het en die simptome fel is, is dit raadsaam om tuis te bly en te rus.
- Drink baie vloeistowwe, wat die uitskeidings losser maak en dit makliker maak om daarvan ontslae te raak.
- Verkouemedisyne kan help om simptome te verlig, maar sal nie andersins ’n verskil aan die verkoue maak nie.
- So sal iets vir ’n toe neus net tydelike en beperkte verligting bring. ’n Antihistamien kan help om ’n loopneus op te klaar, hoewel dit blykbaar meer help vir iemand wat tot allergieë geneig is. Dit veroorsaak ook lomerigheid en het ander newe-effekte, veral vir ouer mense. Vir sommige mense help ’n stoombad om ’n benoude bors te verlig.
- Om met ’n sterk soutoplossing te snuif, kan help om die neus oop te maak.
- Omdat hoes die enigste manier is om van uitskeidings in die lugweë ontslae te raak, is dit nie altyd wenslik om hoesmedikasie te gebruik nie, tensy dit jou wakker hou en jy erg ongemaklik is. ’n Erge hoes kan met ’n hoesonderdrukker beheer word.
Griep
- Die beste wat jy kan doen, is om in die bed te bly. Drink genoeg vloeistowwe, vandat die simptome verskyn tot 24-48 uur nadat jou temperatuur weer normaal is.
- Siekes met erge simptome, maar sonder komplikasies, kan asetaminofen, aspirien, ibuprofen of naproxen neem.
- Simptome kan met medikasie verlig word soos vir verkoue.
- BELANGRIK: MOET NOOIT VIR ’N KIND ASPIRIEN GEE NIE. DIT KAN TOT REYE-SINDROOM LEI WAT DODELIK KAN WEES.
Vra die dokter
Ons het vir dr Jean du Plessis van Meldene Medicross ’n paar vrae gevra.
V: Ná die erge Covid-pandemie, word Covid nou net as respiratoriese siekte saam met bogenoemde virusinfeksies behandel? Is dit nodig om soos tevore vir Covid spesifiek te toets?
J: Behandeling is nou dieselfde as vir verkoue en griep, ja. Doen steeds die toets as jy saam met baie ander mense werk, meer om hulle as jouself te beskerm.
V: Vir wie is griepinspuitings belangrik?
J: Mense met ’n gebrekkige immuunstelsel of diabetes, en hoë-risiko-mense, soos mense op chemoterapie, MIV- en asmalyers.
V: Ek het al gehoor mense sê hulle kies om nie die griepinspuiting te kry nie, want dit maak hulle siek. Hoekom gebeur dit?
J: Dit kan ná enige inenting vir ’n paar dae ná die inspuiting gebeur.
V: Hoekom kry mense in die winter meer verkoue en griep?
J: Onlangse studies wys dat die immuunrespons in koue weer en dus winter afneem. Mense is ook meer binnenshuis en daarom versprei virusse makliker.
V: Steek daar waarheid in die sêding: “Feed a cold and starve a fever”?
J: Nee, dis ’n mite. Jy kort goeie kos en vloeistowwe om enige siekte te beperk.
V: Help antibiotika vir virusinfeksies?
J: Antibiotika werk net teen bakterieë en nie virusse nie. ’n Virusinfeksie kan tot ’n sekondêre bakteriële infeksie lei waar antibiotika wel ’n plek het. Die grense is dikwels moeilik onderskeibaar. En dokters sal dikwels antibiotika gee as die virusinfeksie langer as sewe tot tien dae duur.
V: Ek weet van mense wat aan ’n oordosis vitamien C glo. Help dit?
J: Dit help jou immuniteit, maar enigiets meer as twee gram per dag is nie meer doeltreffend nie.
V: Hoe behandel jy virusinfeksies?
J: Simptomaties, soos vir ’n neus wat verstop is, slym, pyn, koors en keelseer.
V: Wat is jou raad vir tuisbehandeling?
J: Panado, vitamien C, Echinaforce en rus.
V: Wat is jou raad om verkoue en griep te probeer voorkom?
J: Die griepinspuiting help baie mense om dit nie so erg te kry nie. Eet gesond en kry oefening.
Kontak dr Jean du Plessis by Meldene Medicross by [email protected] vir aandag dr Jean.
Interessant
- ’n Hoes kan teen 80 km/u beweeg en sowat 3 000 sproeidruppels vrystel. ’n Nies beweeg tot 160 km/u en stel 100 000 druppels vry.
- Sowat 50 miljoen mense is in 1918 met die Groot Griep-epidemie wêreldwyd dood.