Ek wou nog altyd op een van daardie pryk. Of is dit pronk? Dié foto’s wat jy in tydskrifte en Sondagkoerante kry – kyk, daar staan sy: vet en vaal op die een, maer en modieus op die ander. Onherkenbaar. Haar (óf sy) arms soms reguit uitgestrek; twee bene in een broekspyp hang sy verbete aan die los lappe wat sy eens ten volle gevul het.
Voor.
En na.
Skuins voor die somer staar meer onbekendes bleek-bleek (voor) en opgetert (na) na ons. Lok hulle jou om te kyk, en weer te kyk. Kom wintertyd (soos nou) raak dié advertensies effe minder. Maar dit gaan nooit heeltemal weg nie.
Bietjie soos my lus vir eet. Weet ek. Joune ook? Ja-ja. Komaan, erken dit maar . . .
Ek’s nou (weer) op daardie pad. Op pad na Voor en Na.
Bulgaarse jogurt en ’n appel in die oggend. Vyf ure vas. Tuna (uit ’n sakkie, want dit pas in my handsak en het darem ’n onwettige sousie by) en komkommer, as ek onthou. Vyf ure vas. Palmgrootte hoenderborsie en ’n bord vol groente. Drie liter water. Drie koppies koffie, suikerloos en swart. Eet tot jy vaak is, slaap tot jy honger is, refrein dit in my kop.
Die skaal se naald skuif. Stadig. Maar hy skuif. Afdraand. Op pad na ’n plek met naam van Na.
Dan begin dit my pla. Om die pad tussen Voor en Na te kry is nie moeilik nie. Daar’s ’n kaart, bakens duidelik uiteengesit:
Bulgaarse jogurt en ’n appel in die oggend. Vyf ure vas. Tuna en komkommer. Vyf ure vas. Palmgrootte hoenderborsie en ’n bord vol gestoomde groente. Drie liter water. Drie koppies swart koffie. Eet tot jy vaak is, slaap tot jy honger is.
Maar hoe gemaak Daarna? Wonder ek toe een van die tydskrifgesiggies skielik voor my staan. Weg is maer en modieus. Vetter en valer as ooit, klem dit skielik om my keel. Ek herken die broek, bultend en breekbaar om die boud.
Weet ek: daar’s Voor, daar’s Na, en dan’s daar Daarna.
Of ek nou daarheen op pad is of nie, by Daarna kom jy uit.
Dan gebeur die onvermydelike: vier dae weg van die huis. Ver van Bulgaarse jogurt, tuna, komkommer, hoenderborsies en gestoomde groente. Water verander in wyn. Koffie kry suiker én room.
Die skaal se naald gaan skuif, dink ek. Vinnig. Op pad na ‘n plek met die naam Daarna.
Met die laaste lepel diepgebraaide melktert (het jy dit al geproe?) weet ek seker: daar’s Voor, Na en Daarna. Maar dalk kyk ek (en ons) dit mis. Daar’s nóg ‘n plek. ‘n Ongepubliseerde, ongefotografeerde, onopgesmukte skat. Kyk mooi, daar’s ’n afdraaipad.
Sowaar. Daar’s ’n plek met die naam Tussenin. Ek draai af, op pad daarheen.
Tot volgende week,
Marí