Deur Martjie Roos. Foto’s: verskaf en kykNET
Ons lewe in ’n wêreld wat deur veranderings gekenmerk word en hierdie veranderings neem soms teen ’n duiselingwekkende spoed toe, sê die lewensafrigter Liezl Thom. “Baie mense in hul middeljare en ouer het met die idee grootgeword dat jy ’n loopbaan kies en die res van jou lewe in jou gekose loopbaan werk. Die gedagte was dat jy saam met jou loopbaan groei, ’n paar keer bevorder word en wanneer jy in jou sestigerjare is, dan tree jy af,” sê Liezl.
Maar die prentjie het vandag aansienlik verander. Al hoe meer mense kies vrywilliglik of noodgedwonge om in die middel van hul loopbane rigting te verander of ’n tweede beroep aan te durf en soms is dit ’n radikale omwenteling.
“Daar is natuurlik ’n hele rits redes soos die huidige, onstabiele ekonomie en kunsmatige intelligensie wat in die toekoms ’n enorme impak kan hê,” sê sy.
“As werknemers hulself kan herdefinieer en herskep, is hul ‘raklewe’ merkbaar langer, veral in beroepe waarin die fisieke ’n groot rol speel, soos fisieke krag of ’n jeugdige voorkoms. Hoe meer veerkragtig en buigsaam jy is, hoe makliker kan jy veranderings hanteer en hoe meer aanpasbaar is jy in die werksplek.”
Dit het uiteraard ’n groot sielkundige uitwerking op enigeen wanneer hulle in hul middeljare is en besef hulle is vervangbaar en dat hulle die weg vir die jonger geslag moet baan, selfs al het hulle die kundigheid en vermoëns om hul werkspligte 100% uit te voer. “Die wete dat jy vervangbaar is, gaan dikwels met ’n gevoel van verlies gepaard. Dit het ook ’n reuse-impak op jou selfbeeld en kan tot stres, angs en depressie lei. Die Amerikaanse skrywer en lewensafrigter Martha Beck beskryf die veranderingsiklus in vier fases. Die eerste fase, die impetus vir verandering, beskryf sy as dood en wedergeboorte. Hierdie komponent van verandering kan dikwels traumaties wees en gaan met ’n mindere of meerdere mate van rou gepaard. Wanneer ’n mens voel dat jy magteloos is en teen jou sin uit jou werksplek gedruk word, kan dit ook woede en aggressie veroorsaak,” verduidelik Liezl.
Steeds produktief ná aftrede
Selfs nadat seniors die tuig neergelê het, voel hulle dikwels onvervuld en wil steeds ’n werkie hier en daar verrig om hul brein aktief besig te hou. “Aftrede kan ’n baie eensame tyd wees, veral as jy ’n alleenloper is en niemand het om dit saam met jou te geniet nie. Dit bring ook ’n groot verandering in lewenstyl, en dikwels lewensgehalte te weeg, waarop mense nie altyd op voorbereid is nie. Een van die grootste menslike behoeftes is die behoefte aan sosiale interaksie, en wanneer jy dit nie meer het nie omdat jy nie meer kantoor toe gaan nie, kan dit tot depressie lei,” sê Liezl.
“Mense het ook ’n behoefte aan stimulasie en om te voel hulle lewer ’n produktiewe bydrae. Wanneer hierdie behoeftes onvervuld bly, kan dit verveeldheid en terneergedruktheid tot gevolg hê. Om aan aktiwiteite deel te neem, wat hierdie behoeftes vervul, kan tot beter geestesgesondheid en lewensgehalte lei.”
Met die stygende lewenskoste, die rand wat verswak en ekonomiese resessie, besef talle mense dat hulle nie genoegsame voorsiening vir hul oudag of aftrede gemaak het nie. Hulle moet dan inspring om hulself te vernuwe om nog steeds ‘onvervangbaar’ in hul beroep te bly of om ’n ekstra inkomste te genereer.
ENTREPRENEURS EN COVID
Met Suid-Afrika wat een van die hoogste werkloosheidsyfers in die wêreld het, het die rol van entrepreneurs al hoe meer kritiek geword, want dikwels skep hulle nie net vir hulself werksgeleenthede nie, maar ook vir ander, meen sy.
“Entrepreneurs skep hul eie geleenthede en dus is die vraag nie noodwendig of daar geleenthede is nie, maar eerder hoe hulle bemagtig kan word.”
Suid-Afrikaners is ook goed daarmee om uit die boks te dink, voeg sy by. “Die gesegde lui nie verniet ‘’n Boer maak ’n plan’ nie. Vanweë beleidsbesluite soos BBBEE (Broad Based Black Economic Empowerment) en regstellende aksie het derduisende Suid-Afrikaners geen ander keuse gehad as om drastiese veranderings in hul loopbane te maak nie. Maar ’n mens hoef nie te wag vir ’n krisis om hierdie kopskuif te maak nie. Wanneer jy vrede maak met die beginsel dat verandering onvermydelik is en pro-aktief optree om jou eie veerkragtigheid en aanpasbaarheid op te bou, verminder jy die impak van verandering op jou eie lewe en dié van die mense om jou.”
Elke donker wolk het ook ’n silwer randjie en volgens Liezl is die een goeie ding wat uit die Covid-19-pandemie en gevolglike inperkings gekom het, juis dat dit mense uit hulle gemaksones gedwing het. “Wanneer ons in ons gemaksones funksioneer, hou ons aan om dieselfde dinge op dieselfde manier te doen. Covid-19 het mense gedwing om nuwe opsies te ondersoek en te probeer – en om aan te hou oplossings soek totdat hulle iets gekry het wat die probleem, naamlik om ’n inkomste te genereer waar daar nie een is nie, op te los.”
HOE OM JOUSELF TE VERNUWE
Liezl gee ’n paar riglyne:
- Die eerste stap (en waarskynlik die moeilikste een) is om verandering aan te gryp en te verwelkom. Daar’s ’n gesegde in lewensafrigting wat sê “what you resist, will persist,” met ander woorde hoe harder jy skop teen die feit dat jy moet verander, hoe moeiliker maak jy dit vir jouself en almal om jou.
- Dit is dan ook tyd om bietjie introspeksie te doen. Een van my gunsteling-tools om met my kliënte te gebruik is ’n SWOT-analise (Strenghts, Weaknesses, Opportunities and Threats). Gewoonlik word hierdie ontledings in ’n sake-omgewing gebruik – ek vind daar is geweldig baie waarde daarin om ’n mens se persoonlike situasie ook deur hierdie lens te bestudeer.
- Vra ’n paar ander mense wat hul mening oor jou (en die situasie) is – ’n buitestaander se perspektief kan jou dalk help om insigte te kry wat jy moeilik op jou eie sou kon vind.
- Kry duidelikheid oor die rede en doelwit waarom jy jouself wil vernuwe. Is dit om jouself te vestig en te verstewig as dié deskundige en mentor in jou kantoor? Of wil jy ’n nuwe roete inslaan?
- Wanneer jy jou doelwit geïdentifiseer het, kan jy begin navorsing doen oor hoe om die gaping tussen waar jy tans is en waar jy wil wees, te oorbrug. Dalk moet jy ’n nuwe vaardigheid aanleer, of aan jou kommunikasievermoëns werk. Identifiseer die stappe wat jy kan neem om jouself te herskep.
- Maak klein veranderings – en maak dit vir jouself pret. Sê dalk vir jouself vir elke boek wat jy lees, kan jy ’n uur bestee aan iets wat vir jou lekker is.
- Aanvaar nuwe uitdagings. Daar is niks wat ’n mens so gou uit jou gemaksone kry soos om ’n nuwe vaardigheid te leer of iets te doen wat jy nog nie vantevore gedoen het nie. Hoe meer jy jouself uit jou gemaksone kan kry, hoe makliker raak verandering.
ELVIS BLUE

Die sanger Elvis Blue, wat in 2020 die groot sprong gewaag het en met sy eie onderneming Elvis Brew op die Tuinroete begin het, sê die idee was maar altyd in sy agterkop om ook iets anders te doen as sing en liedjies skryf. “’n Musiekloopbaan is soos ’n sport: Jy het vir ’n onbepaalde tyd ’n raklewe omdat daar voortdurend nuwe sangers in die bedryf inkom,” sê Elvis. Hy het ’n paar ander projekte aangepak voordat hy met sy padstal Elvis Brew begin het. “Party het gruwelooslik misluk, soos toe ek goggles vir skoolkinders verkoop het waarmee hulle virtueel uitstappies kon onderneem, soos om Israel te besoek of op ’n kameel te ry.” Omdat hy baie van koffie hou en sy vrou, Chireze, baie kreatief en volgens hom ’n “smous” is, het die idee van ’n padstal waar hy koffie sowel as ander tuisgemaakte artikels en kos kan verkoop, reeds voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie posgevat. “Ons het tydens vlak 4 van die grendeltyd ons deure oopgemaak en omdat die streng reëls bepaal het dat jy wel ’n spaza-winkel mag bedryf, kon ons gelukkig met ons nuwe onderneming voortgaan.”
Dit was ’n groot waagstuk omdat hy nie die vaagste benul gehad het hoe om ’n ondernemng te bedryf nie, bieg hy. “Ek het wel in die proses geleer om na goeie raadgewers te luister en dan ook my eie ‘gut’ te volg. Ek het dan tussen dié twee my eie rigting ingeslaan,” vertel hy. Hy het ook kursusse geloop om koffie te verbrou. Elvis het intussen nog franchises van Elvis Brew oopgemaak. “Maar ek het nog glad nie opgehou om musiek te maak nie, ek ‘juggle’ steeds my twee beroepe en tree gereeld landwyd op en skryf nuwe liedjies. Gelukkig het ek betroubare personeel by Elvis Brew waarop ek kan staatmaak wanneer ek met my musiek besig is.”
LIANE HEYL

Die aktrise Liane Heyl, wat met rolle soos Boeboe in die sitkom Vetkoekpaleis en meer onlangs in die komediereeks Poena as Coco naam gemaak het, sê daar is een ding wat sy in die vermaaklikheidsbedryf geleer het: Die enigste ding wat konstant is, is verandering. “Akteurs kry nie ’n stabiele inkomste nie en daarom het ek lankal geleer om my op ander terreine te bemagtig.” Sy het reeds voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie ’n TEFL-opleidingskursus geneem en gee tussen haar toneelwerk ook aanlyn Engelse klasse aan leerders tussen die ouderdom van 4 tot 12 jaar in verskillende lande soos Korea, Italië, Turkye en Spanje. “Ek het vir etlike jare dramaklasse vir leerders van graad 1 tot matriek gegee voordat ek met die aanlyn klasse begin het. Klasgee is dus nie ’n nuutjie vir my nie, maar die aanlyn lesse verg meer energie omdat ek nie van aangesig tot aangesig les gee nie.” Liane doen ook stemwerk vir Franse, Turkse en Koreaanse oorgeklankte telenovelles wat uit verskeie tale in Engels oorgeklank is. Sy het verder opera-opleiding deur Trinity Kollege gedoen en tree landwyd op. So tussendeur al haar bedrywighede is sy ook ma vir haar 12-jarige dogter Willow. “Gelukkig het ek ’n goeie ondersteuningstelsel,” verduidelik sy oor hoe sy by alles uitkom.
Lees ook: Migraines: Hoe weet jy dis nie net ’n gewone hoofpyn nie?
