Mevrou Fourie & Kie is ’n splinternuwe komediereeks wat op Sondag 19 April om 20:00 op kykNET begin.

Anita Fourie (Henriëtta Gryffenberg) besluit ná jare van roetine sy wil van haar man, die tandarts Barend (Deon Coetzee), skei. Haar tydsberekening is egter katastrofaal: Hulle dogter, Melissa (Luandri Reynders), los haar man, Quintin (Arno Greeff), nadat sy uitgevind het hy was ontrou. Op soek na stabiliteit trek sy terug huis toe — net toe Anita self probeer om haar lewe weer op koers te kry.
Dan daag Anita se ma, Tina (Elzabé Zietsman), ook onverwags op, want sy’s uit haar ouetehuis gesit. Skielik is daar drie sterk vroue, ’n bedorwe seun in sy laat twintigs, Barry (Luan Jacobs), en ’n oorblufte Barend onder een dak in Randburg – en dit gee chaos, botsings en skreeusnaakse oomblikke af. ’n Paar geheime kom ook aan die lig.
In die rolverdeling is ook Ilse van Niekerk as Phyllis Steyn, ’n sakevrou en Anita se vriendin, Neels Clasen as die nutsman Hardus de Ridder, en Liza du Plessis as Barry se meisie, Sherrie.
Henriëtta Gryffenberg keer terug na die kassie in die titelrol van die reeks. Sy is bekend vir Sonkring, Dominee Tienie, Swartwater en Binnelanders en is ook ’n bekroonde draaiboekskrywer met, onder meer, die TV-reeks Dinge van ’n kind en die speelfilm Die dekonstruksie van Retta Blom op haar kerfstok.

Henriëtta Gryffenberg keer terug na die kassie in die titelrol van die reeks. (Foto: Verskaf)
Mevrou Fourie & Kie is vervaardig deur Duan Wanty, Ingrid Engelbrecht en Philip Nolte van Show/Tell Pictures. Dié span het onlangs die reeks Op skou gemaak, wat op Showmax te sien is. Philip Nolte is die regisseur van Mevrou Fourie & Kie en het die draaiboek saam met Hélène Truter en Augusta Zietsman geskryf.
Die programkonsep is oorspronklik in 2023 by die heel eerste Silwermark tydens die Silwerskermfees voorgelê.
Mevrou Fourie & Kie begin op Sondag 19 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
KYK | Amptelike Lokprent: Mev Fourie & Kie

Lees ook: Kyk wie is terug! Lindie Strydom sluit permanent by ‘Suidooster’ aan






