Deur Vilien-Miri Coetzee. Foto’s: Verskaf.
Ek het al soveel keer hier verbygery. En elke keer is daar vir my gesê: “Jy móét stop. Dis net jou tipe plek dié.” Daarom was ek opgewonde toe rooi rose vir Nasionale Rooibosdag op 16 Januarie na Carmién Tea genooi is vir ’n spesiale media-geleentheid – en ek uiteindelik alles self kon ervaar wat binne die klein wit geboutjies langs die N7 op pad na Citrusdal aangaan.
Van die pad af lyk dit eenvoudig: ’n groen grasperk, ’n speelplek vir kinders, ’n paar rooi vlaggies wat wapper. Maar dié dag was duidelik nie net ’n gewone besoek nie. Carmién, een van Suid-Afrika se grootste vervaardigers en uitvoerders van rooibos en rooibosgebaseerde produkte, het baie moeite gedoen om ons nie net die besigheid se bedrywighede te wys nie, maar die storie agter rooibos – waarin hul familie en familieplaas op Bergendal ’n groot rol speel – te deel.
Ons is in ’n oop safari-karretjie gelaai en tussen rye en rye rooibosbossies ingery. Skielik het dit meer as net stokkies in ’n boksie op ’n winkelrak geraak. Dis hier in die ongenaakbare Sederberge waar dit groei en in baie warm winde en weer aan die lewe bly, danksy wortels wat tot vyf meter diep die grond in strek. Die geur van rooibos-cappuccino het soos parfuum in die lug gehang.
Toe ons voete grond raak, het ons self sekels opgetel en gehelp om die bossies met die hand te sny. Ons het gesien waar die rooibos in die son gefermenteer word en daarna lê en bak om sy kenmerkende rooi kleur te kry. Alles word sover moontlik in samewerking met die natuur gedoen – selfs die teesakkies bevat geen plastiek nie en kan op jou komposhoop gegooi word.
As gaste is ons nie net ingelig nie; ons is diep ingetrek in die wêreld waarin Mientjie Mouton, stigter en besturende direkteur van Carmién, grootgeword het. Omdat rooibos so ’n groot deel van haar kinderjare was, het sy later besluit om dié stukkie erfenis met die wêreld te deel. Met net ’n rugsak en ’n telefoonboek het sy oorsese markte begin verken om die idee van “crop to cup” te verkoop. Vandag word Carmién se produkte nie net plaaslik verkoop nie, maar in grootmaat na lande soos Taiwan en Japan uitgevoer.
Terug by die De Tol – eens ’n tolhek waar reisigers ses pennies betaal het om oor die pas te gaan – het nog iets besonders vir ons gewag. Die klein teewinkel, sag belig en byna anderwêrelds, was vir my ’n hoogtepunt. Orals het pruttende glasteepotte gestaan wat jy na hartelus kon probeer. Rye en rye boksies het ondersteuning belowe vir alles van beter spysvertering tot meer kalmte en fokus.
Ek is nie baie lief vir winkels nie, maar hier kon ek ure bly. En baie koop. Daar is byna alles denkbaar om jou tyd met tee ’n besonderse ritueel van selfversorging te maak. Ons is ook heeldag bederf met ystees en ander rooibosversnitte. Maar ek het gou besef: rooibos is nie net iets wat jy drink nie. Jy kan dit, tot ’n mate, eet ook.
Agter die Piekenierskloof-proelokaal, onder hangende antieke teekoppies, het die bekende kosredakteur en sjef – en Mientjie se tweelingsuster – Carmen Niehaus vir ons haar weergawe van ’n tradisionele Sondagete aan ’n langtafel voorgesit. Elke verrassende gereg het een bestanddeel in gemeen gehad: rooibos. En dit is met groot trots met van Piekenierskloof se wyne gepas.
Wyn en rooibos gaan verbasend goed saam. ’n Idee wat Mientjie se pa, oom Carel van Zyl, dekades gelede onwetend begin vorm het toe hy die grenache noir-variëteit hier tussen die rooibos aangeplant het wat toe nog wild gegroei het. Vandag boer die vierde generasie steeds hier en maak wyn in dieselfde grond waarvan die rooibos so baie hou.
Piekenierskloof self was lankal op my avontuurlysie. Dié lodge op die rand van die Sederberge, skaars ’n uur en ’n half uit die stad, bied daardie absolute stilte wat mens weer laat asemhaal. Ek het uiteindelik in hul swembaddens met hout-sambrele geswem wat ek al soveel keer van die pad af bewonder het, in hul buffet-ontbyt ingeduik en selfs ’n sonsakrit tot bo-op die pas meegemaak.
So het ons Rooibosdag-media-geleentheid tot ’n einde gekom – met koppies tee en glase wyn wat in die lug teen mekaar klink. Hierdie byeenkoms het my weer laat besef dat ons soveel beter wérk wanneer ons sáámwerk – en met groot sorg iets besonders uit iets heel eenvoudigs maak.
Lees ook: WEN ’n geskenkbewys vanaf Carmién Tea!










