Genoeg vir 4-6
Bestanddele
- 500 g waterblommetjies
- 150 g dik spek, in stukke gesny
Slaaisous
- 5 ml (1 t) gekapte knoffel
- 5 ml (1 t) dijon-mosterd
- 10 ml (2 t) heuning
- 30 ml (2 e) suurlemoensap
- 80 ml (1⁄3 k) olyfolie
- ’n klein hand vol pietersielie, fyn gekap
- 5 ml (1 t) kappertjiesaad, fyn gekap
- 60 ml (¼ k) dennepitte of gepelde amandels, liggies gerooster
- sout en peper
- ’n hand vol vars babaslaaiblare
Metode
- Sit die waterblommetjies in ’n bak en bedek met skoon soutwater. Laat staan vir 15 min. Spoel af en hou eenkant.
- Slaaisous: Meng die knoffel, mosterd en heuning. Voeg die suurlemoensap en olie by en meng goed. Voeg die pietersielie, kappertjiesaad en dennepitte by. Geur met sout en peper. Hou eenkant tot benodig.
- Blansjeer die waterblommetjies vir 5-7 min. in kokende water. Skep dadelik oor in ’n bak met
yskoue water en dreineer. - Verhit die olie in ’n braaipan en braai die spekstukkies daarin tot bros. Voeg die waterblommetjies by en braai vir nog 3 min. Skep in ’n mooi opdienbak.
- Strooi die slaaiblare oor en sit dadelik voor met die slaaisous bo-oor.
