Kykers onthou vir Anrich Herbst veral as die ougat Wimpie (toe 15 jaar oud) in Orkney snork nie, as Dewald Vorster in Egoli: Plek van goud en natuurlik as Duncan Haines in Isidingo.
Drama bruis deur sy bloed. Sy ma, Kristie Herbst, was in Nommer asseblief as Belinda Jonker te sien, en in Trompie en die Boksombende was sy Mev. Gerritse. Kykers sal ook sus Karleine onthou vir reekse soos Die sonkring en Grondbaronne. Ja, die toneeltalent loop diep deur die Herbst-are.
Nou is Anrich weer in die kykNET-sepie Suidooster te sien. Hy vertel meer.
Wat kan kykers van jou karakter en die storielyn verwag?
Mike van Wyk is Frankie (Mienke Ehlers) se pa. Hy en sy vrou, Amanda (Lindie Strydom), kom loer onverwags by hulle dogter in, al die pad uit Pretoria. Frankie is nie heeltemal eerlik met hulle oor haar en haar kêrel, Justin (Eden Classens), se verblyfreëlings nie, en die drie eindig by ’n terapeut om die konflik tussen hulle op te klaar.
Wat volg, gaan die kykers se asem wegslaan. Al wat ek kan sê is: Onthou, dis net ’n storie, en dié soort dinge gebeur. Ek sien baie uit om te sien hoe die kykers gaan reageer op Mike van Wyk se storielyn.
Hoe is dit vir jou om teenoor Lindie Strydom te speel?
Ons is baie gemaklik saam en lag omtrent heeltyd. Sy is uiters professioneel en ’n aanmoediging vir my om op my stukke te wees. Sy is ’n fantastiese aktrise en ’n mooi vrou.

(Foto: Verskaf/ Gys Loubser)
Hoe is dit vir jou om weer jou sepie-skoene aan te trek?
Ek geniet die onmiddellikheid van die sepie-styl. Dit het my wel so ’n paar weke gevat om weer gewoond te raak aan die tegnieke wat benodig word. Die uitdaging is egter goed vir my, en aan die einde van die dag kan ek voel dat ek gewerk het. Ook daarmee saam dat dit vir my lekker en stimulerend was.
Dis natuurlik ’n groot bonus om ontbyt en middagete ingesluit te hê by jou dagtaak.
Wat het jy spesifiek op die Suidooster-stel geniet?
Die mense is vriendelik! Die hele lot. Ek het nuwe vriende gemaak, ’n klomp grappies gedeel en lekker saamgewerk. Hulle het my almal baie welkom laat voel.

(Foto: Verskaf/ Gys Loubser)
Jy het ’n uiteenlopende en suksesvolle loopbaan. Wat hou jou steeds passievol oor toneelspel ná al hierdie jare?
My mede-akteurs is beslis ’n inspirasie. Elke nou en dan wanneer ek uitmuntende spel sien, gebeur daar iets in my wat hoër kwaliteit werk wil lewer.
Hoe ontspan jy wanneer jy nie op stel is nie?
My tuisateljee is ’n bietjie van ’n man cave. Die werk wat ek daar doen, stuur my gedagtes in ander, vars rigtings. Ek probeer wel ook om my woorde vir die volgende dag reeds te ken teen die tyd wat ek by die huis kom sodat ek kan ontspan deur te kook, iets op die TV te kyk of speletjies saam met ons kinders te speel.
Ek en Xtine, my verloofde, doen pilates saam wanneer ons kans kry en probeer ook gereeld wegglip, selfs al is dit net vir ’n dag of twee.
Dit kan uitdagend wees om werk en persoonlike lewe in balans te hou. Hoe bly jy positief en energiek?
Ek het redelik baie slaap nodig om goed te funksioneer. So, ek maak ’n punt daarvan om dit te doen. Ek is gelukkig om ’n positiewe instelling te hê wanneer ek besig is met die regte dinge.
Xtine help my ook baie deur my aan te moedig en te ondersteun en bloot ’n goeie partner te wees. En dan is daar rekeninge om te betaal. So, ek is dankbaar vir elke stukkie werk wat my kant toe kom.
Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Mnr. en Mev. Samsodien – vir ’n tweede keer! Jawaahier Petersen vertel meer oor dié storielyn
