Deur Leandri de Kock
Die koue, droë lug is nie net sleg vir ons vel in die winter nie, maar ook vir ons hare. Is jou hare droog en bros, dun en gebreek? Die oplossing lê dalk net by ‘n produk of twee. Die winter is nie goed vir ‘n mens se hare nie. Die hare kan brosser en droër voel, gesplate punte is meer opsigtelik en jou hare is heeltyd staties.
Die koue en droë lug veroorsaak dat die buitenste gedeelte van die haarskag effens lig en wanneer jy weer binnenshuis is waar dit warmer is, ontsnap die vog. Dit maak dit ook moeiliker vir enige vog om geseel te bly.

Hoe gemaak? Dit is noodsaaklik om in die winter anders oor jou haarsorgroetine te dink. Omdat jou hare bloot nie dieselfde in die winter as in die somer reageer nie en ander elemente moet verduur, moet jou keuse van sjampoe en bevogtiger eerstens aangepas word.
Gebruik ‘n meer bevogtigende sjampoe en hou jou verhelderende sjampoe vir elke nou en dan wanneer jou hare ‘n bietjie oemf nodig het. So sorg jy vir ekstra vog wanneer jou hare dit die meeste nodig het sonder om dit swaar te laat voel.
Probeer om jou hare minder te was – slaan ‘n dag of twee oor. Kies ‘n bevogtiger en masker wat bestanddele soos gliserien, keratien en keramiede bevat om jou hare te versterk. Bestanddele soos galambotter (shea butter) heuning, jojoba-, mapper- en arganolie is ideaal vir hare wat ekstra droog is.
Lees ook: Kry die “half nat”-voorkoms
