“Elke liewe besluit wat ons neem, het die potensiaal om ons lewenspad onherroeplik te verander,” het Reandi Grey, aanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou in vanaand se episode gesê en bygevoeg dat daar óf liefde kan wink, óf dat die pad vir eers alleen gestap moet word.
En só was daar verlede week groot verwikkelinge op twee van die boere se plase. In Richmond se wêreld het Elizma sélf besluit om die plaas te verlaat omdat sy nie die konneksie met Pieter ervaar het waarop sy gehoop het nie. Maar op Rudi H se plaas het dinge ietwat anders uitgespeel. Hy moes kies tussen Lizelle en Ella – iets wat vir hom duidelik ’n moeilike besluit was. Ella was hartgebroke, maar nie vir haarself nie. Sy was vas oortuig dié goeie man die verkeerde mens gekies het.
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas
Reandi het tyd ingeruim om vir Cilmari en Denike na die Jane Goodall Institute te neem, waar daar in hierdie stadium 33 mishandelde sjimpansees gerehabiliteer word. Hierna moes hul hulself ondergronds in die Galaxy-goudmyn naby Barberton begewe.
In die gesprekke wat die laaste dag op die plaas gevoer is, het Willie sonder huiwering erken dat hy weet wie hy gaan kies.
“Daar’s goeters van haar wat makliker hier gaan inpas sonder om te veel veranderinge te moet maak,” het hy gesê.
Toe die tyd aanbreek vir Willie om sy keuse bekend te maak, het hy begin deur al twee te bedank vir wat hy as ’n “regtig lekker week” beskryf het en ook dat hulle hulself oopgestel het vir die hele proses.
“Vir die meisie wat nie bly nie: Weet net jy’s ongelooflik oulik, en daar is nie een enkele ding wat fout is nie. Dit is maar net hoe die ding verloop.”
“Cilmari, sal jy hierso bly? En Denike, ek is jammer,” het hy eindelik uitgekry.
Toe Denike groet, het sy Willie ’n mooi storie met Cilmari toegewens. Maar in die motor weg van die plaas af was daar heelwat trane en ’n paar diep asemteue.
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
Lauren en Theresa het op hulle beurt saam met Reandi na die plaaslike Dierebeskermingsvereniging gegaan – die einste plek waar Evert onlangs sy brakkie aangeneem het. Terwyl Theresa rustig oor sake gevoel het, wou Lauren hê dinge moet nou na ’n kant toe beweeg – met of sonder Evert. Maar voor dit kon gebeur, moes die twee eers ’n pottebakkersles by Mud & Mingle neem.

Op die laaste dag was Reandi se vraag aan Evert of die kop of die hart in hierdie stadium vir hom die toon aangee.
“Ek dink hulle stap hand aan hand,” het dit van hom gekom, en hy het verduidelik as die kop en die hart nie gelyke kanse gegee word nie, kan daar nie gebalanseerde besluite geneem word nie.
Terwyl Lauren vir Reandi vertel het sy wil nie dink aan die “what-ifs” nie, kon Theresa nie anders as om te erken dat sy tog wel effe verlief op die jong boer is nie. Vir haar is hy “awesome and well-rounded”, kwaliteite wat sy tot nou toe as baie raar in die regte wêreld ervaar het.
Op sy beurt het Evert reguit gesê hy is nie daar is om speletjies te speel nie, en hy is beslis gereed vir ’n verhouding. Hy het soortvan reeds die bakstene gekoop en is reg om te begin bou.
“Ek is so geëerd dat ek ’n paar dae saam met julle kon spandeer,” het Evert die aanloop tot die bekendmaking van sy keuse begin.
“Lauren,” en daarmee het hy sy hand na haar uitgesteek. Toe hy haar omhels het, het hy haar gevra of sy ’n bietjie saam met hom wil rondhang. Daar was geen twyfel oor haar antwoord nie.
Op pad weg van die plaas af, het ‘n tranerige Theresa vir Reandi gesê sy glo hierdie proses het haar aangespoor om beter te weet wat sy wil hê.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal
Ook die pasmaats van Beestekraal, Hannes en Arnold, is in die werk gesteek. Hulle moes ’n uilhuis van herwonne materiale bou onder die vaardige leiding van Brendan, Zietz en Jonathan van die Owl Rescue Centre by Hartbeespoortdam. Daarna is hulle na ’n plek geneem waar leerprodukte vervaardig word en die twee het elkeen vir Rudi ’n leergordel gemaak om dankie te sê vir die afgelope week.
Toe Reandi die laaste dag met Rudi gesels, wou sy weet of Rudi se glimlag ’n teken is van die begin van ’n liefdesverhaal.
“Ek dink dis definitief ’n begin om iemand beter te leer ken – definitief,” was sy antwoord.
Hannes het sonder enige huiwering vir Reandi vertel Rudi is die man vir hom.
“As daai blou oë vir jou kyk, knak jou knieë,” het hy met trane in sy oë verklap en gesê Rudi laat hom veilig voel.
Op sy beurt het Arnold erken hy is verlief, maar ook bang en onseker.
“Ek dink ons het die beste in mekaar uitgebring. Ek dink ons het mekaar die goeie en die minder goeie dinge gewys – wat belangrik is in elke verhouding,” het Rudi aan die twee gesê voor hy een van sy pasmaats gevra het om langer op die plaas te bly.
“Ek sal graag wil weet of Hannes, jy … ek sou jou graag beter wou leer ken en of jy nog sal wil bly? En Arnold – jy is ongelooflik. En ek hoop jy het so baie van jouself geleer. Jy het geleer wie jy is en wat jy is, en wat jy kán doen. Jy’s ’n ongelooflike man,” was Rudi se aankondiging.
“Ja, ek’s bly dis verby. Ek’s ’n bietjie teleurgesteld, maar Rudi het sy hart gevolg en solank hy bly is en hy gelukkig is, want dit is sy toekoms,” het Arnold met ’n krakie in sy stem gesê toe hy van die plaas af wegry.

Hannes het erken hy was baie verras en ook baie verlig oor Rudi se keuse.
“Dit beteken vir my baie. Die liefde is ’n kans. En ek is reg vir daai kans,” het Rudi aan Reandi gesê.
Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar,
Lees ook: Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar 25 jaar!











