Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar 25 jaar van kuns, kultuur en uitdrukking en word tot 19 Oktober regoor die Eikestad gehou. Vanjaar se tema is “Deel” en kunstenaars en die feeskomitee nooi almal uit om in dié feestelikhede te kom deel. Met nagenoeg 400 unieke program-items is daar werklik iets vir elkeen.
Die feesprogram is propvol en die komende naweek is daar heelwat om te sien, te doen en te proe.
Het jy vergeet om kaartjies te bespreek? Besoek die #SpaarBar in Ryneveldstraat voor Erfurthuis sowat vier ure voor sekere vertonings en betaal halfprys vir jou kaartjies. Dis darem nie te versmaai nie.
Verskeie gratis aanbiedinge is ook beskikbaar en kans om na gesprekke onder die bome te luister met ‘n glas wyn of koffie, of rondleidings met kunstenaars te doen, is ook beskikbaar. Die volledige feesgids is hier beskikbaar.

Twee verskillende roetes word op die argitektoniese wandelinge deur die middedorp aangebied. Die wandelinge duur 50 minute en vertrek voor Voor Erfurthuis in Ryneveldstraat. Die kultuurhistorikus Matilda Burden laat kyk jou met nuwe oë na die hart van die Eikestad met sy argitektoniese juwele. Daar is nog wandelinge om 17:00 vanaand en ook op 17 Oktober om 17:00. Kaartjies kos R60 en R90 by die deur.

In Die onderhoud met Mia Spies het dié multimediajoernalis en TV-aanbieder Mia Spies met vyf inspirerende Suid-Afrikaners gesels. Hier is sy saam met Professor Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer wat deesdae professor is aan die US en direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid. Hulle het gesels oor die huidige stand van ons demokrasie, die rol van etiese leierskap en die ontkaping van die staat.

Die musiekmaestro Coenie de Villiers het in Coenie de Villiers: Wie kan my sê van die liefde? diep in sy liedereskat van bykans 50 jaar gedelf en komposisies en lirieke wat die liefde in al sy gedaantes bekyk, gesing. Hy was ook deel van Nic de Jager (aanbieder van die geliefde radioprogram Nic se goed) se vertoning, Nic de Jager: In my eie woorde as aanbieder en musikant.

Die gratis VIA: Bier-uur met Arno onder die Leefstyl-kategorie by Die Plataan-kafee was vet pret. VIA se musiekvasvraprogram Klankbank was propvol opwinding, verraad en spanwerk. Feesgangers kon lekker onder die bome en bistroliggies sit en kyk of hulle die titels van bekende liedjies kon ontsyfer en sommer hul musiekkennis toets, terwyl hulle aan ‘n yskoue biertjie geteug het, terwyl die VIA-aanbieder Arno Greeff, hulle vermaak het.

’n Hemel wat kan opvou met Deon Meiring was deel van die Toyota Musiekfees. Deon het geglo liedjieskryf sou vergoed vir sy onbeholpenheid in rugby en romanse. Vandag het hy darem nog die liedjies – uit Glaskas, Dans Dans Lisa en sy soloprojek. In ’n Hemel wat kan opvou het hy dié musiek saam met sy briewe wat hy sedert 2020 skryf, aan niemand in die besonder nie, gedeel.
Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix is vanjaar se feeskunstenaars en het ’n samewerkende kunsduo waarin hulle grond, die landskap en die geskiedenis van Suid-Afrika as ’n gedeelde belangstelling ondersoek. Deur werk te skep vanuit hul eie ervarings en ook hul begrip van die nalatenskap van kolonialisme en apartheid, verwys hul samewerking dikwels na teenstrydige uitbeeldings van die verlede as ’n manier om sin te maak van ons individuele en gesamentlike hede.

Tony Leon is bekend as politikus, rubriekskrywer en politieke ontleder. In Being There: Backstories from the Political Front het hy feesgangers saam om agter die skerms te kyk na presies wat gebeur het toe hy by was terwyl geskiedenis gemaak is. Die biograaf, sakejoernalis en Suid- Afrika se koning van algemene kennis, Theunis Strydom, het met hom gesels.

Selfie-raam: Voor die Erfurthuis is hierdie interessante stoel-installasie wat feesgangers aanmoedig om hier van hulself foto’s te neem en dit dan op Instagram te deel, met die hutsmerke #ToyotaStellenboschWoordfees #Woordfees2025 #Deel #Share. Dis ook ‘n lekker plek om net vir ‘n minuut asem te skep, voor jy verder in die feepret deel.

’n Oorsigtentoonstelling van deelnemers aan vanjaar se Ateljeebesoeke-program word deur IS Art en Blaauwklippen wynlandgoed gehou. Rudolph Gouws het die Woordfees-atelier geopen. Ilse Schermers-Griesel, kurator, IS Art-eienaar en kunshistorikus staan by hom.
Kleurglasvensters van die Moederkerk val onder die Leefstyl-kategorie. Die kleurglasvensters is kunswerke wat ryk is aan simbole. Zorada Temmingh se blik op die simboliek in die vensters ontsluit verrassende interpretasiemoontlikhede – veel meer as dié wat opgeskryf is sedert die installasie van die eerste vensters ongeveer 50 jaar gelede. Daar is nog een geleentheid om dié interessante praatjie mee te maak op 19 Oktober om 11:30. Kaartjies kos R100 en R130 by die deur.

Stellenbosch Wynroetes se Woordfees-wynskool: Chenin 101 het ‘n stampvol saal gelok in die Hofmeyrsaal. Leer, proe, spoeg of sluk… Die Woordfees- wynskool is ’n prestigeryke – maar allermins snobistiese – geleentheid waar jy meer kan leer oor wyn. Daar is drie klasse oor verskillende kultivars en style, aangebied deur wynmakers, wynpersoonlikhede en ’n komediant. Ná elke suksesvolle bywoning kry jy boonop ’n sertifikaat sodat jy tuis kan spog met jou geleerdheid. Die laaste van die wynskole word vanaand om 18:00 aangebied en die fokus is Pinotage, wat vanjaar 100 jaar oud is.

In die eenmanstuk, Ek is nie Danie, geweef rondom ’n keur uit Danie Marais se vier digbundels, trek Albert Pretorius die skrapnel van ’n vreesaanjaende gewone lewe skerf vir skerf uit mislukte huwelike in die buitenste ruimte van Duitsland en die bevoorregte gemors van middelklas-Suid-Afrika. Saam met hom op die verhoog is Schalk Joubert. Nico Scheepers is die regisseur. Daar is nog drie vertonings by die Spier-ouditorium oor: 17 Oktober om 17:00 en 20:30, 18 Oktober om 13:00 en 19 Oktober om 13:00.

Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit gepraat het nie: sy ervarings in die 1980’s. Dit is die tyd van P.W. Botha se vinger, die Voëlvry- toer, AWB-saamtrekke, onderhandelings en die laaste dae van diensplig. In dié stuk is Wilhelm van der Walt as Seun en Nico Scheepers die regisseur. Daar is nog drie vertonings van Seun oor: 15 Oktober om 20:30, 17 Oktober om 15:00 en 19 Oktober om 10:00. Die toneelstuk speel by Idasvallei Primêr.
Al die foto’s is geneem met die nuwe Canon spieëllose R6. Sy tjoepstil sluiterspoed beteken aksiefoto’s kan in die teater of by boekbesprekings geneem word, sonder dat teatergangers die ewige gekliek-kliek hoor en die RF100-400 lang lens bring daai akteur se gesigsuitdrukking tot amper op jou neus. Loer hier.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Judi Hattingh, die 13-jarige wat die teaterwêreld aan haar voete het




