Verskaf deur VIA
Ouerskap kom nie met ’n wenresep nie. Daar bestaan ook geen handleiding vir elke dag se reis wat ouers met hul kinders moet stap nie. Maar daar is wel vrae wat gevra en antwoorde wat gegee kan word wat vir elke ma – en ook hedendaagse pa – ’n liggie in die tonnel kan wees.
Dis wat Efraine du Toit weer vir ’n tweede seisoen van Wat ’n ma moet weet na die skerm bring. Reeds in die eerste seisoen het dié ervare grimeerkunstenaar gewys sy bied substansiële leiding aan ma’s wat nie die moed het om hul kwelvrae met vriende of familie te bespreek nie.
Openhartig, eerlik en empaties. Dis hoe sy dit benader. Daar word nie doekies omgedraai nie, daar word net ’n mooi en sagte pad met ma’s gestap.
Vandag is sy self ’n ma van twee, met Joha wat ná 43 uur van kraam op 24 Februarie 2024 sy opwagting gemaak het, en hul tweede seuntjie, Daniël, wat op 14 Augustus vanjaar gebore is. Ook hy het sy tyd geneem voordat sy ma hom in haar arms kon hou: 39 uur se kraam …
Haar pad na ouerskap was nie met rose besaai nie, en sy het dit al in die verlede as tegelykertyd die grootste seën, maar ook haar moeilikste reis beskryf. Sy het destyds openlik gesels oor haar stryd met infertiliteit en daaroor gesê: “Dis ’n hoofstuk vol hoop, teleurstelling en ’n ongelooflike hoeveelheid geloof.”
In Augustus verlede jaar het ’n groot hartseer die gesin getref toe Efraine ’n miskraam gehad het. Dit is egter een van die onderwerpe wat sy baie eerlik met haar gaste en kenners aanpak. Juis daarom hoop sy dat die nuwe reeks – net soos die eerste een – vir ouers leiding, bemoediging en nuwe insigte sal bied.
Efraine, baie geluk met die geboorte van jul tweede kind! Hoe gaan dit met jou en die nuwe baba?
Baie dankie. Dit gaan baie goed met ons, ek is steeds in die amazing baba-bubble. Ons is nog in die proses om ons voete te vind, maar ons kan oor niks kla nie. Ek geniet dit só om weer ’n baba te hê.
Hoe verskil die ervaring om vir die tweede keer ma te word van jou eerste keer? Voel jy rustiger en meer voorbereid, of bring elke baba ’n heeltemal nuwe stel uitdagings?
Soos met enigiets in die lewe, voel dit beslis ’n bietjie makliker die tweede keer. Ek vertrou myself baie meer en oordink nie meer elke klein dingetjie nie.
Ek glo egter dat ’n rustige baba teenoor ’n baba wat met refluks of koliek sukkel, ’n groot invloed op ouers se ervaring het. Daniël is nou maar eers twee weke oud, maar tot dusver gaan dit baie goed en is dit baie makliker.

Ephraine du Toit en Joha. Foto: Verskaf
Die nuwe seisoen begin kort ná hierdie groot gebeurtenis in jou eie lewe. Hoe besonders is dié tydsberekening vir jou, en hoeveel van jou eie ervaring as ma dien as inspirasie vir die program?
Alles waaroor ek in Wat ’n ma moet weet gesels, kom uit my eie ervaring as mamma. Ek het nog nooit so belanggestel in gesprekke soos dié wat ons in die program voer nie.
Om ’n ma te wees, raak beslis makliker wanneer jy meer kennis het oor die verskillende aspekte van moederskap. Dit help ook om te weet dat jy nie alleen deur die trane en uitdagings gaan nie. Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie seisoen wat verfilm is terwyl ek swanger was met Daniël. Dit maak die tydsberekening vir my ekstra besonders.
Wat het jy ná die eerste seisoen by kykers gehoor wat jou laat besef het dat daar nog soveel belangrike ouerskapsgesprekke gevoer moet word?
Met die eerste seisoen van Wat ’n ma moet weet het ons een groot doelwit gehad: om ouers te laat voel dat hulle nie alleen is nie en dat ons almal soms sukkel. Die boodskappe wat ek ná die eerste seisoen ontvang het, was ongelooflik bemoedigend en het my laat besef dat ons bereik het wat ons wou.
Elke episode is kort genoeg vir ’n besige mamma om iewers in die week in te pas, maar steeds propvol waardevolle inligting en gesprekke wat jou laat besef jy is nie alleen nie.
Die seisoen begin by basiese veiligheid en versorging en kyk ook na leefstyl- en omgewingsfaktore wat kinders se gesondheid beïnvloed. Watter praktiese lesse het jy self eers geleer nadat jy ma geword het?
Ek het eers nadat ek ’n ma geword het, besef hoeveel dinge ’n mens eenvoudig nie weet voordat jy self in daardie skoene staan nie. Selfs die mees basiese goed, soos slaap, voeding, veiligheid en wat in jou kind se omgewing is, kan ’n groot invloed op hul gesondheid en ontwikkeling hê.
Elke fase bring weer nuwe vrae en uitdagings. Ek leer steeds elke dag, en dit is presies hoekom die praktiese raad in hierdie episode vir my so waardevol is. Ons as mammas sal nooit genoeg kan leer nie, en ek voel ek leer die meeste uit ander se stories.

Ephraine du Toit en Joha. Foto: Verskaf
Een van die mees persoonlike episodes handel oor die hartseer van ’n miskraam. Waarom was dit vir jou belangrik om hierdie verlies openlik te bespreek, en wat hoop jy neem ouers uit dié gesprek?
Dit was nie ’n maklike gesprek om te hê nie, en ek verstaan heeltemal hoekom vroue wat daardeur gaan, nie altyd daaroor wil praat nie. Ek het egter gevind dat hoe meer ek daaroor praat, hoe makliker raak dit en hoe minder raak die trane.
Dit was die alleenste wat ek nog ooit in my lewe gevoel het. Al was my man elke tree saam met my, het daardie eensaamheid en hartseer vir ’n baie lang tyd nie beter geraak nie.
Op 28 Augustus was dit presies ’n jaar sedert ek in die teater was en ons baba verloor het. Net omdat ek nou weer ’n baba het, beteken dit nie dat ek vergeet wat gebeur het nie.
Ek wou juis openlik daaroor gesels omdat so baie vroue hierdie pad stap. As jy een van hulle is, hoop ek dat hierdie gesprek jou – al is dit net ’n bietjie – minder alleen sal laat voel.
Julle plaas ook die kollig op die moderne pa. Hoe het jou eie siening van vaderskap, vennootskap en die verdeling van verantwoordelikhede binne ’n gesin verander sedert jy ma geword het?
Ek is baie bevoorreg om ’n man te hê wat help kosmaak, wasgoed doen, doeke ruil en in die nag opstaan. Hy help basies met alles in die huis en met ons kinders, terwyl hy ook die broodwinner is.
Ek weet eerlikwaar nie hoe mammas wat ook werk, dit regkry as hul mans nie met al hierdie dinge help nie. Ek is baie dankbaar dat my seuns in ’n huis grootword waar hulle sien hul pa help net soveel met die huistake én met hulle soos ek. Ouerskap is ’n spansport en dis soveel lekkerder en makliker as elke spanmaat sy kant bring.
Die reeks ondersoek hoe ouers kinders – en veral dogters – met selfvertroue kan grootmaak, terwyl moeilike onderwerpe soos seks, finansies en egskeiding ook bespreek word. Hoe skep ’n mens ’n verhouding waarin jou kind veilig voel om enigiets met jou te bespreek?
Sjoe, dit is ’n vraag waarvoor ek baie antwoorde kan hê, maar ek moet ook eerlik wees: ek het nog nie al die antwoorde nie, want ek is maar aan die begin van my reis as mamma. Ek probeer leer waar ek kan om uit te vind hoe om hierdie grootste taak van my lewe so goed moontlik te doen.
Vir my begin dit by eerlikheid en ’n verhouding waarin jou kind weet hulle kan met enigiets na jou toe kom, sonder vrees vir oordeel.
Ek glo wel dat ’n mens moeilike onderwerpe op ’n ouderdomsgepaste manier moet bespreek. Kinders kan byvoorbeeld leer hoe om verantwoordelik met geld te werk, maar hulle behoort nie wakker te lê oor die gesin se finansiële druk nie.
Om my kinders met selfvertroue groot te maak, is vir my ongelooflik belangrik. Wanneer ’n kind in hom- of haarself glo, voel die uitdagings van die lewe soveel meer hanteerbaar. Ek hoop om vir my kinders ’n veilige plek te wees waar hulle altyd geliefd, gehoor en aanvaar voel.

Ephraine du Toit. Foto: Verskaf
Julle kyk na noodgevalle by die huis én die gevare van die digitale wêreld. Het hierdie gesprekke jou laat besef dat daar dinge is waarop jy jou eie gesin nog beter kan voorberei?
Beslis. Hierdie gesprekke het my laat besef dat ’n mens nooit op elke moontlike situasie voorbereid kan wees nie, maar dat die regte kennis en ’n goeie plan ’n groot verskil kan maak. Met twee klein kinders voel ek dat basiese noodhulp, wat om te doen wanneer ’n kind verstik en wie om in ’n noodgeval te kontak, iets is wat ons as ouers moet weet.
Die digitale wêreld waarin ons kinders grootword, maak my nogal op my senuwees. Ek dink nie ons sal ooit hul wêreld heeltemal kan verstaan nie, maar hierdie gesprekke het my laat besef hoe belangrik dit is om moeite te doen om by te bly en te verstaan waarmee hulle daagliks gekonfronteer word.
Ons sal waarskynlik nie alles kan beheer of hulle teen elke gevaar kan beskerm nie, maar ons kan grense stel, betrokke bly en ’n verhouding skep waarin hulle veilig voel om met ons oor enigiets te praat.
Die seisoen sluit af met ’n gesprek oor werkende ma’s en mom guilt. Wanneer ervaar jy self dié skuldgevoel die sterkste, en wat help jou om te onthou dat jy nie ’n perfekte ma hoef te wees om ’n goeie ma te wees nie?
Is daar iets soos die perfekte ma? Dit voel vir my ek leer elke dag saam met my kinders. Ek groei, verander en leer soos hulle groei. Ek doen my absolute bes as mamma omdat ek wíl, en ek moet vertrou dat dit genoeg is vir hulle ook.
Oef, mom guilt… wat ’n vreemde gevoel. Al sê ek vir myself dat ek nie skuldig hoef te voel nie, voel ek dit steeds. Interessant genoeg ervaar ek dit nie wanneer ek moet werk nie, maar eerder wanneer ek iets sosiaal of net iets vir myself doen. Dan voel dit skielik asof ek eintlik by my kinders moet wees.
Ek probeer myself herinner dat dit ook belangrik is om steeds tyd vir myself te maak maar ai, ongelukkig help dit nie met die gevoel van mom guilt nie.

Wat ‘n ma moet weet. Foto: Verskaf
Van alles wat jy hierdie seisoen geleer het, wat is die één ding wat jy glo elke ma – en eintlik elke ouer – moet weet?
Om ’n ouer te wees, is die grootste voorreg en die mooiste ding wat met ’n mens kan gebeur, maar niemand het gesê dit gaan maklik wees nie.
Ek dink die een ding wat elke ouer moet weet, is dat jy nie al die antwoorde hoef te hê om ’n goeie ouer te wees nie. Ons almal leer soos ons aangaan, ons maak foute en ons probeer weer. Solank jou kind geliefd en veilig voel, en jy bereid is om saam met hulle te groei.
Wat ’n ma moet weet begin vanaf Donderdag 3 September om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Die reeks word aangebied in samewerking met Bestmed Medical Scheme, met dank aan Mustela South Africa en Mustela France.
Efraine is ook een van die beoordelaars van rooi rose se splinternuwe rooiwarmwenners skoonheids- en welstand-kompetisie waarvan die wenners in die Desember-uitgawe bekend gemaak sal word.
Lees ook: Maak ‘n onderhandelaar groot
