Deur Karla Janse van Vuuren. Foto’s: Verskaf
Het jy al ooit in die oggend opgestaan, jouself so een kyk in die spieël gegee en gewens jy kan sommer weer in die bed klim en die duvet oor jou kop trek? Dit wys net watter invloed ons voorkoms en hoe ons voel oor hoe ons lyk het op hoe ons deur ons dae gaan. Een van dr Judey Pretorius (43) se doelwitte met haar dinamiese maatskappy, BioMedical Emporium, is juis om vir mense die selfvertroue te gee sodat hulle hul dae met hul kop omhoog kan aanpak. “Ek sê altyd vir mense, jou vel is ’n ‘publieke orgaan’, en hoe dit lyk en hoe jy daaroor voel het ’n massiewe impak op jou selfvertroue.”
Selfvertroue is een ding wat duidelik ’n groot rol in Judey se professionele sukses speel. Sy is in Pretoria gebore, maar het in Kempton Park grootgeword. “Op skool het ek definitief ’n aanleg gewys vir ’n mediese rigting, al het ek nie presies geweet wat ek met my toekoms wou doen nie. Ek het myself van jongs af gesien as iemand wat graag eksperimenteer en in ’n laboratorium werk.” Judey het besluit om met ’n BSc-graad by die Universiteit van die Noordwes te begin. “As jong mens het jy nie noodwendig al ’n vaste adres ten opsigte van jou kwalifikasie nie – ’n mens karring maar so bietjie aan en kom treetjie vir treetjie nader aan waar jy moet wees.”
Só het sy uiteindelik by biochemiese formulerings vasgehaak as die ding wat haar laat tiek. “Ek het ’n PhD in farmaseutiese chemie gedoen waar ’n mens chemiese formules sintetiseer om ’n verskil aan die menslike liggaam te maak. Alles het bymekaar gekom in my kwalifikasie as biomediese wetenskaplike.”
Ná haar studies het Judey na Pretoria, die “hoofstad van haar hart”, teruggetrek en vir farmaseutiese maatskappye gaan werk. “My frustrasie was dat ek beperk gevoel het. Ek het altyd gevoel ek wil innoveer en my eie reëls maak. Maar my tyd by maatskappye het my gewys hoekom dit nodig is om strukture in plek te hê en dinge op ’n sekere manier te doen. Die mense wat die administratiewe werk doen, is net so belangrik soos die innovasie wat in die laboratoriums gebeur.”
In 2015 het Judey besluit om haar vlerke te sprei en BioMedical Emporium is gebore.
“Ek het sonder die sekuriteit van ’n nuwe werk bedank. Ek het inderdaad my huis verkoop, teruggetrek na my ma toe en die huis se geld gebruik om my eie onderneming te begin.” Sy het laboratoriumruimte in Centurion gehuur en haar eie velsorgprodukte begin formuleer, maak en verpak. “Ek het na-ure en oor naweke in die lab gewerk en deur die dag was ek my eie ‘rep’ – ek het letterlik gegaan en nuwe besigheid gaan soek.” Dit het baie harde werk vereis waar Judey vrou-alleen die land plat gereis het en ’n databasis van kliënte opgebou het, wat sy toe uiteindelik na estetiese dokters en salonne geneem het. “Ek sê toe vir hulle, hierdie mense is bestaande kliënte met koopkrag, sal julle moontlik vir my kan rakplek gee en dan stuur ek my kliënte na julle toe? Dis hoe ek my produkte op die rakke gekry het.”
Judey het duidelik ’n wenresep gehad, want dit was die begin van groot sukses en groei – en die erkenning het begin instroom. In 2016 kon BioMedical Emporium reeds met sy eerste toekenning spog. “My maatskappy het ‘Upcoming Business of the Year’ gewen en in 2017 het ons twee keer die Marie Claire Prix D’Excellance-toekenning vir ‘Best Product in South Africa’ gewen. In 2018 het ek Standard Bank se Sakevrou van die Jaar in die wetenskaplike afdeling gewen.
In daardie stadium het die onderneming met 400% gegroei en ons het ook die National Business Award vir Fastest growing Company in South Africa gewen.” Internasionaal het mense ook begin regop sit. “Ek het in 2018 die Veuve Clicquot Business Woman of the Year-toekenning in samewerking met Elle-tydskrif gewen en my prys was om Frankryk toe te gaan en met ander sakevroue skouers te skuur.” Kort hierna het Judey verspreidingskontrakte geteken om haar produk in Dubai te kan verkoop.
Vandag is BioMedical Emporium se produkte in Dubai, Nieu-Seeland, Nederland en die VSA beskikbaar, en het Judey 28 mense wat vir haar werk.
“Die onderneming is beslis geseënd, nie net hier in Suid-Afrika nie, maar nou ook oorsee. Vir my is dit spesiaal om te sien dat ons produkte en diens ook buite die grense van my land waardeer word.” Daar is ongelooflike mededinging in die velsorgbedryf en daar is legio produkte en handelsname om van te kies. “Ons kompeteer letterlik teen die hele wêreld. Ek maak seker dat ons aan statutêre vereistes voldoen, in al die markte waar ons produkte beskikbaar is. Die kaliber akademiese werk wat ons doen en die kenners wat aan ons produkte werk, is ook wêreldklas. Ek kan bewys ons produkte is veilig en doeltreffend, en ek dink ons akkreditasie is wat ons laat uitstaan, want ons kliënte weet hulle kan ons vertrou.”
By BioMedical Emporium se hoofkantoor in Pretoria kan kliënte vir allerlei estetiese prosedures gaan, insluitende chemiese afskilfering, mikronaaldbehandeling, en laser- en radiofrekwensiebehandeling. Haar maatskappy se bykomende fokus op wondsorg lê Judey ook na aan die hart.
“Ons kyk akademies na die vel, en die beste pleister wat jy op ’n wond kan sit, is eintlik maar vel! Ons probeer produkte naboots wat genesing aanmoedig en het ’n uitstekende wondsorgproduk ontwikkel. Goeie wondsorg gaan daaroor om enige inflammasie stop te sit en bestanddele te gebruik wat nuwe kollageenproduksie stimuleer.”
Judey se passie lê steeds daarin om self in die laboratorium te woeker en sy is baie betrokke by nuwe produkontwikkeling. Nadat haar onderneming vir ’n paar jaar haar “baba” was, het sy besluit om ook op haar persoonlike lewe te fokus. “Ek was baie jare lank ’n sakevrou, en my ambisie het veroorsaak dat ek nie op ’n jong ouderdom getrou en kinders gehad het nie. Ek het eers op 39 besluit dis tyd om kinders te hê. Omdat ek nie getroud was nie, het ek besluit om ’n IVF-reis aan te pak. Ek het ’n skenker uit Denemarke gekry en het ’n in-diepte profiel oor die temperament van die skenker, en selfs sy hele gesin gekry! Hierdie dossier van inligting het my gehelp om my besluit te neem. Ek het met IVF begin en het toe met tweelingdogtertjies, Jordin en Julienne, swanger geraak, wat my vandag baie besig hou. Ons belangstelling is nou om so veel as moontlik te speel. As my kinders gelukkig is, is ek gelukkig.”
Sy vertel dat haar ma haar grootste ondersteuner is, maar dat sy ook haar werkswyses moes aanpas nadat die tweeling gebore is. “Voor hul koms het ek baie gereis – as ek twee aande per week in my eie bed geslaap het, was dit baie. Toe hulle kom, het baie dinge verander. Ek probeer nou om by vaste werkstye te hou om tyd saam met hulle deur te bring. Ouerskap is ’n opoffering, maar dis die lekkerste om by jou familie te wees.”
Judey se wenke vir vroue: Laat julself goed voel!
- Soms wil ons iets groots in ons lewens verander, maar dikwels is dit nie volhoubaar nie, en ons gee moed op. Natuurlik lei jou geestesgesondheid dan daaronder. Begin eerder klein, maar begin net iewers. Net soos as jy gereeld begin oefen, jy ’n verskil sal sien, sal jy binne 30 dae ’n verskil aan jou vel se voorkoms sien as jy met ’n gesonde velsorgroetine begin.
- Een van die voordele daarvan om ’n ouer te word is dat ’n mens gemakliker in jou eie vel is, en ons wil mense help om daardie gemaklikheid te bereik. Gebruik produkte akkuraat – dit kan oorweldigend wees met al die produkte wat op die mark beskikbaar is. ’n Basiese velsorgroetine moet ’ n eenvoudige drie-stap-program, oggend en aand, insluit. Gebruik ’ n reiniger, serum (kies vitamien C vir die oggend en iets met retinol vir die aand) en ’ n goeie bevogtiger met byvoorbeeld peptiede as bestanddeel. Onthou ook jou sonbeskerming in die oggend. Hierdie roetine moet so belangrik wees, soos tandeborsel!
- Belê in jou vel. Probeer om gereeld (maandeliks) vir ’ n chemiese afskilfering te gaan en elke tweede maand vir ’n mikronaaldbehandeling, en jy sal beslis merkwaardige verskille aan jou veltekstuur sien.
- Moet onder geen omstandighede met grimering gaan slaap nie, dit gaan jou verseker laat verouder wat jou selfvertroue ’n knak gaan gee.
- Moenie vir sure skrik nie – jou vel hou eintlik van bestanddele met sure. Daar moet minstens twee keer per dag sure, soos laktiese of hialuronsuur in jou velsorgroetine wees. Vitamiene is ook belangrik, veral vitamiene B3 en E. Vitamiene A of retinol is na my mening die belangrikste om by jou velsorgroetine te voeg.
- Kry genoeg oefening, want dit is belangrik vir goeie bloedsirkulasie en dus ’ n gesonde vel. As jy baie tydens oefening sweet, hou ’ n “wet wipe” byderhand om net die sweet te kan afvee, want die sweet kan jou vel se pH verander. As dit gebeur, kan jy vinniger verouder en moontlik ook donker vlekke kry.
- Ons as vroue word ouer en leef langer, dit beteken ons gaan waarskynlik langer menopouse-simptome ervaar. Menopouse veroorsaak dat ons 30% van ons kollageenproduksie verloor en dis hoekom vroue se verouderingsproses van dié van mans verskil. Begin so gou as moontlik kyk na hoe jy jou kollageen inname kan verhoog – ’ n mens kry selfs kollageendrankies wat jy elke dag kan drink en daar is velsorgprodukte met topikale kollageen wat jy kan aanwend.
- Menopouse veroorsaak ’n verlies aan estrogeen. Wees op die uitkyk na ’n belangrike bestanddeel: fito-oestrogeen of “phytoestrogen”. Dit is ’n produk wat by topikale produkte gevoeg word wat jou vel sal help om natuurlik meer kollageen te vervaardig.


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Mei-uitgawe móét lees!