Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die 14de kykNET Silwerskermfees wat die afgelope week in die Moederstad gehou is, het opnuut bewys waarom dit die kroonjuweel van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf is. Die fees, wat oor vier dae by The Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaasgevind het, het plaaslike talent, storievertelling en tegniese meesterskap gevier.
Voor die eerste kortfliek, Aasvoëls, vertoon is, het Tina Kruger, die programbestuurder van die kykNET Silwerskermfees aan gaste in die gehoor gesê: “Hierdie is die fees waar geen rolprentmaker onwelkom is en waar geen onderwerp taboe is nie.”
Daar is altesaam 22 rolprente by die 2026 kykNET Silwerskermfees vertoon: 17 kortflieks wat vyf kort dokumentêre rolprente en projekte deur opkomende- en gevestigde rolprentmakers en vyf vollengte flieks wat vier speelfilms en een vollengte dokumentêre rolprent ingesluit het.
Die flieks in kompetisie is elk ingelui met ’n glorieryke blou tapyt waar die sterre vir die kameras kon poseer en onderhoude kon toestaan voor die vertoning.
Die wenners in 20 kategorieë is Saterdagoggend by die hotel aangekondig.
Die mees meesleurende drama van die fees, Landmyn, het as die groot wenner uit die stryd getree. Nico Scheepers se meesterlike regie en draaiboek vir Landmyn het nie net die gesogte prys vir Beste Speelfliek ingepalm nie, maar ook toekennings vir Regie en Draaiboek ingeoes. Die rolprent se meesleurende toneelspel is bekroon met Beste Akteur vir Ben Albertyn, Beste Aktrise vir Anna-Mart van der Merwe, en Beste Vroulike Byspeler vir Nicole Holm. rooi rose was die naamborg vir die première in die Rotunda by The Bay Hotel Donderdagaand. Gaste het elkeen ’n tydskrif en drasak ontvang.

Landmyn, Nico Scheepers (middel) se jongste speelfliek, het met die meeste toekennings weggestap, waaronder beste redigering, beste draaiboek, beste regie en beste speelfilm. Hier staan hy met die spelers, van links, Ben Albertyn (beste akteur), Carla Smith, Juan-Christoff Smith, Anna-Mart van der Merwe (beste aktrise), Dhania Kara Schultz en Nicole Holm (beste vroulike byspeler).
Tussendeur fliekvertonings was daar kuiers oor glase wyn, terwyl die son oor die see ondergaan, en vele selfies in blink tabberds saam met die bekendes.
Werkswinkels, gesprekreekse en ander mentor-geleenthede is ook aan voornemende rolprentmakers aangebied.
Die fees het Saterdagaand op ’n hoogtepunt afgesluit met die jaarlikse Silwerskermtoekennings vir Film en TV, waar nie net die week se wenners gevier is nie, maar ook die beste televisieproduksies, -akteurs en -kinematograwe vereer is.
Die akteur Ivan Abrahams en die komedie-genie Willie Esterhuizen is ook vereer vir hul lewensbydraes tot die vermaaklikheidsbedryf. Die legendariese rolprentmaker Koos Roets het Saterdagoggend sy eerbewys vir sy lewensbydrae tot die vermaaklikheidsbedryf by The Bay Hotel ontvang.
Op die komediefront het Die Kantoor sowel as die fantastiese produksie Silas en die Ysbeer op Tafelberg met groot lof weggestap, met uitsonderlike prestasies in die visuele en tegniese kategorieë.

Die speelfliek, Silas en die Ysbeer op Tafelberg, het met verskeie pryse weggestap waaronder vir beste kinematografie, beste kostuums, beste grimering en haarstilering en beste oorspronklike klankbaan. Hier is van die akteurs op die blou tapyt voor die première by The Bay Hotel. Voor is Neels Junior Clasen as Silas en Luna Coetzer as Willemien saam met De Klerk Oelofse as Nagvakie. Agter is Antoinette Kellermann as Ouma, Daneel van der Walt as Ma, Beer Adriaanse as Brommel en Neil Sandilands as Van Hunks.
In die kortfliekkategorieë het opkomende sowel as gevestigde rolprentmakers die gehoor beïndruk. Twee persent het skoonskip gemaak onder die opkomende klompie, met Michelle le Roux en Heinrich Laubscher wat pryse vir sowel draaiboek, regie as redigering huis toe geneem het. Die bekroonde drama Wag ’n bietjie het die prys vir beste kortfliek deur ’n gevestigde rolprentmaker losgeslaan.
Op die kassie het die veteraan-TV-persoonlikheid Rian van Heerden ’n skitteraand beleef deur drie afsonderlike toekennings te verower vir sy uiteenlopende werk as aanbieder. Prestasies in gewilde dramas soos Niggies en Appels en tee het ook wye erkenning geniet.
Die Silwerskermfees gaan nie net oor die glans en die bekende blou tapyt nie; dit bly ’n noodsaaklike dryfkrag vir die plaaslike rolprentbedryf se groei, mentorskap en die ontdekking van nuwe stemme.
Die afgelope fees het weer bewys dat die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf floreer en stories lewer, wat plaaslik resoneer en internasionaal kan meeding én wen.












