Met ’n ster-rolverdeling en ’n gedugte span agter die kameras, gaan dit kykers wys wat dit verg om die storie agter die storie te kry.
Ontmoet die hoofkarakters
Adri Joubert (Rolanda Marais) is ’n TV-joernalis in murg en bloed. As junior het sy stories gejaag en van die toneel verslag gedoen. Later het sy laataandnuus in die ateljee begin aanbied, en vir die afgelope twintig jaar is sy die gesig en stem wat jy sien en hoor wanneer die hoofbulletin saans in spitstyd uitgesaai word. ’n Tragiese voorval ruk egter die mat onder haar voete uit, en terwyl sy rou, vind sy ook weer haar vuur as ondersoekende joernalis. Wie was vir die dood van haar man, Dawid (Anrich Herbst), verantwoordelik? Lourens (Chris van Niekerk) is Adri se pa wat by haar en haar gesin woon. Tina (Christia Visser) en Daniel (Heinrich Wentzel) is Adri en Dawid se twee kinders.

Rolanda Marais
Johan Diedrichs (Brendon Daniels) en Adri het saam as jong joernaliste begin werk. Johan was nog altyd op soek na die waarheid en het sterk politieke bande. In die vroeë 2000’s was hy deel van ’n span wat grootskaalse korporatiewe korrupsie ontbloot het en dit het tot verskeie doodsdreigemente gelei. Dié ondersoek het ook die einde van sy eerste huwelik beteken, maar hy is weer getroud en pa van ’n tweejarige seuntjie. Hy is die regisseur van die nuusbulletin wat Adri aanbied, en hy probeer sy bes om ’n balans te vind tussen harde nuus en wat kykers wil hê.

Brendon Daniels
Karla Viljoen (Roeline Daneel) is ’n veldverslaggewer en is altyd eerste op die toneel. Sy is vreesloos en sal enigiets doen om die storie te kry. Karla kan sarkasties en sinies wees. Sy het min tyd vir mense wat net die sonkant van die lewe wil sien, maar sy het ook ’n hart van goud en sal altyd help wanneer sy gevra word.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Roeline Daneel wie se jongste rol jou anders na TV-nuus sal laat kyk

Roeline Daneel
Kyle Munro (Arno Greeff) lees saam met Adri die nuus. Hy het bekend geword as smaakmaker op sosiale media en voel hy word, as gevolg daarvan, nie ernstig opgeneem nie. Kyle is positief en ’n gawe kêrel wat omgee hoe hy lyk. Hy maak geen geheim daarvan dat hy ambisieus is nie en wil graag Adri se posisie oorneem.

Arno Greeff
Nhlanhla Langa (Lesley Maasdorp) werk aan ’n doktorsgraad en is ’n kenner van sosiale media. Politiek, die nuus, feite en die waarheid is vir hom baie belangrik, en hy is gedurig besig om fopnuus te ontbloot. Hy werk by die kanaal as ’n navorser, maar help ook wanneer daar tegniese of digitale probleme is.

Lesley Maasdorp
Melanie Palmer (Lea Vivier) is ’n sakekonsultant wat deur die eienaar van die kanaal, Renate van der Riet (Susanne Beyers), aangestel word om uit te vind wat die kanaal werd is en of sy dit moet sluit of moet verkoop. Melanie weet mense hou nie van haar nie as gevolg van die werk wat sy doen, maar sy gee nie werklik om nie. Wanneer die ondersoek na Dawid se dood momentum kry, besef Melanie daar is dalk ’n derde opsie vir Renate: om die kanaal te omskep in ’n ondersoekende nuuskanaal met skop.

Lea Vivier
Simone Bosman (Hannah Borthwick) is die assistent op kantoor en weet alles van almal. Sy is in beheer van Adri se sosiale media en sal haar tot die dood toe beskerm. Simone monitor ook die kanaal se sosiale media en het haar vinger op die pols. In haar persoonlike lewe gaan dit egter nie so voor die wind nie. Sy het al verskeie miskrame gehad, haar huwelik het verbrokkel, en sy het haar toevlug tot pynpille geneem.
Charl Coetzee (Chris van Rensburg) is die weeraanbieder en bietjie van ’n bleeksiel, maar altyd reg met ’n grappie en ’n glimlag. Sy opleiding as meteoroloog kom later in die reeks baie handig te pas.
Zené Joubert (Kristen Raath) is Adri se niggie, wat haar internskap by die kanaal doen nadat sy kommunikasiekunde studeer het. Zené se droom is om ’n aanbieder soos Adri te word, maar sy leer die meeste by Karla en Nhlanhla.
Ander spelers in die reeks sluit in Dorette Potgieter, Loren Loubser, Daneel van der Walt, Laudo Liebenberg, Neels van Jaarsveld, Melissa de Vries, Martelize Kolver en Ira Blanckenberg.
Die nuusmakers begin op Dinsdag 27 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Van regsstudent tot TV-aanklaer – Ronel Stander laat Samantha Stone vlamvat in Skemergrond