Die bekende TV-sjef en bekroonde kosskrywer Herman Lensing vier vanjaar Paasfees met ‘n spesiale episode van’n buitelug-eetervaring op die idilliese Wes-Kaapse dorp Koringberg.
In Herman se Paastafel, wat op Woensdag 1 April om 20:00 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitsaai, deel Herman Lensing idees en inspirasie vir Paasfees. Hy wys kykers om vyf uitsonderlike tradisionele én moderne Paasgeregte voor te berei, elkeen met ‘n persoonlike verhaal en verbintenis met sy eie familietradisies.
Azelia Morkel, VIA se kanaalhoof, sê VIA is baie opgewonde oor hul vennootskap met Food Lover’s Market vir Herman se Paastafel.
“Hierdie pragtige Paasprogram sou nie moontlik gewees het sonder hul ondersteuning nie – hul vars, gehalteprodukte is die hart van Herman se outentieke resepte. Dis ’n ware viering van Suid-Afrikaanse koskuns.”
Herman se Paasfees-spyskaart sluit in:
- Rooibos-knäckebröd met kaas en ingelegde vis
- Herman se ouma se pampoentert
- Koue feta-gevulde lamsboud met rooibosmosterd
- Sjokolademousse-koek versier met Paaseiers
- Gemmerkoeldrank met ’n skop (Moscow Mule-styl)
“Hierdie tafel is ’n viering van ons plaaslike smake en tradisies,” sê Herman.
“Elke gereg vertel ‘n storie – van my ouma se pampoentert tot die plaaslike rooibos wat ons op verskillende maniere gebruik. Dit gaan oor familie, herinneringe en die vreugde van saam eet.”
Herman se Paastafel se regisseur, Hein Scholtz, sê Koringberg was die ideale plek om die Paasprogram te verfilm, en om met die kameras vir Herman te volg soos hy deur die geploegde koringlande stap en ’n feestafel opstel, was ‘n spesiale ervaring.
“Dit het daardie plattelandse Paasgevoel uitgestraal, en die inwoners van Koringberg was die oulikste gaste om by so ‘n verfilmingsgeleentheid te hê.”

Skakel op Woensdag 1 April o m 20:00 in vir Herman se Paastafel op VIA (DStv-kanaal 147). Dit is ook beskikbaar op DStv Stream.
Heruitsendings op VIA:
- Donderdag 2 April 21:00
- Vrydag 3 April 18:00
- Saterdag 4 April 19:00
- Sondag 5 April 16:00
- Maandag 6 April 22:00
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se April-uitgawe móét lees!

