Resep deur Vickie de Beer. Foto: Lee Schwagele crphotographic.co.za
Genoeg vir 8
Bestanddele
- 4 klein pere, afgeskil en middeldeur gesny, ons het die klokhuise gelos, maar jy kan dit uithaal
- 2 e (30 ml) olyfolie
- ½ k (125 ml) heuning
- ’n hand vol vars tiemietakkies
- 200 g bruismeel
- 4 t (20 ml) bakpoeier
- 4 t (20 ml) fyn gemmer
- 200 g strooisuiker, plus ekstra om oor te sprinkel
- 200 g amandelmeel
- 4 e (60 ml) vars tiemie, blare afgestroop
- 6 eiers, liggies geklits
- 200 g botter, gesmelt
- ½ k (125 ml) geglaseerde gemmer in stroop, gedreineer en ruweg gekap
- 3 e (45 ml) gevlokte amandels
Metode
- Voorverhit die oond tot 200 ˚C. Spuit ’n 25 cm-losboomkoekpan deeglik met kossproei.
- Sit die pere op die bakplaat. Bedruip liggies met olyfolie en heuning en sprei die tiemietakkies bo-oor uit. Rooster die pere vir sowat 30 min. Draai hulle elke 10 min. om sodat hulle aan albei kante karamelliseer. Haal uit en laat afkoel.
- Verlaag die oondtemperatuur tot 180 ˚C.
- Sif die bruismeel, bakpoeier en gemmer in ’n mengbak. Voeg die suiker, amandelmeel en tiemie by en meng goed.
- Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele. Voeg die eiers, botter en geglaseerde gemmer by die droë bestanddele en meng goed.
- Gooi die mengsel in die voorbereide koekpan, rangskik die pere op die koekbeslag en strooi die gevlokte amandels oor die deeg maar nie op die pere nie.
- Bak vir 45-50 min. of tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom.
Lees ook: Appel-peer-en-karamel-tert
Lees ook: Peer-en-okkerneut-koekies

