Daar’s ’n tyd om te kom, en ’n tyd om te gaan. En vir Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther von Waltsleben) het dit tyd geword om totsiens te sê en ’n nuwe hoofstuk te begin.

Die egpaar, wat kykers se harte gewen het met hul komplekse, eerlike en uiteindelik hoopvolle liefdesverhaal, het onlangs ouers geword nadat hulle baba Bella – die dogtertjie van Susan se suster, Linda (Melissa Willering) – aangeneem het.
Hul nuwe rol as ouers bring egter ook ’n nuwe perspektief op die lewe mee, en uiteindelik besluit Susan en Elana om die sprong te waag en Susan se droom na te jaag: ’n lewe op ’n wildsplaas, ver weg van die bekende strate van Ruiterbosch.
Elana het haar geliefde kroeg, Anker, aan Wade (Dean Smith) verkoop – ’n simboliese afsluiting van die Ruiterbosch-jare en die begin van iets nuuts.

Vir die twee aktrises was hul tyd in Suidooster nie net op professionele vlak betekenisvol nie. Dit was vir elkeen ook ’n diep persoonlike ervaring.
Esther von Waltsleben, wat Elana vertolk, beskryf dit as ’n vol sirkel:
“My Elana-reis het op 1 April 2021 begin en nou eindig dit vyf jaar later. Dit voel of die sirkel eindelik voltooi is. Ek is baie dankbaar vir my tyd by Suidooster. Dit was harde werk teen ’n vinnige pas, maar ongelooflik vervullend.”

Sy sê die verskeidenheid storielyne het haar behoorlik op haar tone gehou: “Elke storielyn was ’n nuwe uitdaging en elke toneel ’n geleentheid vir groei.”
Elana se karakter het oor die jare ’n merkwaardige ontwikkeling ondergaan – van ’n korporatiewe vrou wat stadiger wou leef, tot iemand wat haar plek in die wêreld op ’n meer holistiese en emosionele vlak gevind het. Haar storielyne het nie net kykers geraak nie, maar ook belangrike gesprekke oopgemaak.

Vir Natasha van der Merwe, wat Susan gespeel het, was haar rol die verwesenliking van ’n droom.
“Toe ek by Suidooster aangesluit het, het ’n groot droom vir my werklikheid geword. Professioneel was dit ’n ongelooflike geleentheid om te groei, maar persoonlik het dit ook ’n groot merk op my hart gelaat.”
Sy sê die emosionele storielyne rondom Linda en Bella is van haar Suidooster-hoogtepunte.
“Dit was hartseer om te speel, maar dit is juis hierdie stories wat mense raak en ook vir hulle hoop bring. Dit het vir my ongelooflik baie beteken as aktrise.”
Susan se karakterboog – van ’n sterk, soms hardkoppige vrou tot iemand met meer sagtheid en kwesbaarheid – het haar een van die menslikste karakters in Ruiterbosch gemaak en iemand waarmee vele hulle kon vereenselwig.
Natasha het reeds ’n opwindende nuwe rigting ingeslaan as ’n vars briesie op die gewilde Kaapse radiostasie KFM, waar sy vroegoggend haar eie program, Early Saturdays with Tash V, aanbied. Met haar natuurlike charisma laat sy nou dieselfde energie wat kykers liefgekry het, op die radio bruis.

Vir Natasha en Esther het die Suidooster-span familie geword.
“Die ménse maak die plek,” sê Esther. “Daar heers ’n ongelooflike positiewe atmosfeer, en my medespelers sal altyd vir my familie bly.”
Natasha stem saam: “Ruiterbosch sal altyd soos ’n tweede huis vir my voel. Die mense, die stories en die ervaring is iets wat ek vir altyd sal koester.”

Alhoewel dit tyd is om totsiens te sê, is hierdie duidelik nie ’n einde nie maar eerder ’n nuwe begin – vir Susan en Elana, én vir die twee aktrises wat lewe aan die karakters gegee het.
Aan die lojale kykers het albei ’n eenvoudige boodskap: Baie dankie!
Susan en Elana se vertrek mag dalk ’n emosionele oomblik wees, maar hul nalatenskap – een van liefde, groei en tweede kanse – sal nog lank in Ruiterbosch en kykers se harte voortleef.
Lees ook: Oubaas en Hilda weer saam in ’n sepie!

