Deur Margaret Gardiner.
Die fliek Project Hail Mary het in sy openingsweek wêreldwyd $141 miljoen ingebring. Niemand wat dié Ryan Gosling-rolprent gesien het, is verras deur dié syfer nie. Die fliek is gegrond op ’n boek deur Andy Weir, wat ook The Martian geskryf het, wat ’n groot treffer by resensente en die loket was. In ’n wêreld waar kunsmatige intelligensie dreig om ons werk oor te neem, die Midde-Ooste in vlamme is, en petrolpryse alledaagse artikels soos luukshede laat voel, is Project Hail Mary gevul met hoop, humor en skouspel.
Ryland Grace (Ryan Gosling) is ’n wetenskaponderwyser wat ingetrek word om die wêreld te red, gegrond op ’n obskure artikel wat hy in sy jeug geskryf het. Sy idee kan moontlik ons sterwende son red, en die Duitse aktrise Sandra Hüller (Zone of Interest) speel die hoof van die geheimsinnige departement wat aangewys is om ’n oplossing te vind om die son se ondergang te voorkom. Sy sien Grace (Gosling) se potensiaal toe hy dit self nie sien nie.

Phil Lord, Sandra Hüller, Ryan Gosling en Chris Miller (Foto: Dimitrios Kambouris/Getty Images)
Grace is opgewonde oor die wetenskaplike uitdaging, maar is lugtig om werklik saam met die ruimtevaarders ruimte toe te gaan om sy oplossings toe te pas. Hy word egter op die ruimtetuig wakker sonder ’n idee hoe hy daar gekom het. Die sending lyk gedoem totdat hy ’n vreemdeling genaamd Rocky teëkom. Rocky is nie jou tipiese ruimtewese nie. Die humor, die band en die magiese verhouding, wat tussen Grace en Rocky ontwikkel, terwyl hulle saamwerk om hul onderskeie wêrelde te red, is inspirerend. Hulle moet ’n band vorm en oplossings vind terwyl hulle niks in gemeen het nie. Hul reis deur die ruimte én die raaisel is die geheime bestanddeel wat Project Hail Mary ’n onmiddellike klassieke treffer maak. Voeg daarby die spanning, opwinding en struikelblokke van ruimtereise, sowel as die visuele skouspel wat so wonderlik op die wye doek lyk, en jy kry ’n mengsel van E.T. the Extra-Terrestrial en The Martian. As ek meer sê, gaan ek die rolprent bederf en as daar een fliek is, wat jy vanjaar moet kyk, is dit Project Hail Mary. Jy sal daar uitstap en nie net gelukkiger voel nie, maar ook optimisties dat alles in die wêreld reg sal uitwerk.
Ek het met Ryan Gosling in Beverly Hills oor die rolprent gesels. Die skrywer het hom genader nog voordat die boek gepubliseer is, terwyl Covid in 2020 die wêreld geteister het, Ryan het as vervaardiger en akteur aangesluit. “Die boek is gevul met wetenskap, komedie en menslikheid en vier mense wat verskillend is, wat bymekaar met verbeelding en goeie bedoelings kom.”
’n Groot deel van die sukses moet toegeskryf word aan “Rocky”, die ruimtewese, wat deur ses poppespelers beheer word in plaas van die gerekenariseerde verskynsels van onlangse ruimteflieks. Dit is ’n uitstekende keuse. Ek het Rocky eksklusief by die Four Seasons Hotel Beverly Hills ontmoet. Ek moes ’n donker vertrek binnegaan en die eerste ding wat ek gesien het, was iets wat soos ’n rotsspinnekop lyk, maar glad nie vreesaanjaend was nie. Dit het my onmiddellik laat glimlag. Ons het met die vuis gegroet, en saam geposeer, terwyl ses mense in swart Rocky se bewegings beheer het.
View this post on Instagram
Ryan het gedeel dat die poppespeler aanvanklik net daar was om die ruimtewese te animeer, maar dit het ontwikkel tot die poppespeler werklik Rocky se dialoog gesê het, en selfs besluite oor aksie en dialoog verdedig het, deur te sê: “Rocky sou dit nooit doen nie!”
Ek het vir Ryan gevra of hy ’n persoonlike “Hail Mary” het. Die begrip verwys na ’n poging met die skraalste kans op sukses. Hy het “ja” geantwoord en vertel dat hy Kanadees is en op skool gedans het. Al die meisies in sy klas het vir The Mickey Mouse Club-oudisies gegaan en hom genooi om saam te gaan. Hy het gevoel hy het geen kans nie, maar hy niks gehad om te verloor deur saam te gaan nie. Hy was toe die enigste Kanadees wat vir die Amerikaanse program gekies is. Sy medespelers was mense soos Justin Timberlake, Britney Spears, Christina Aguilera en Keri Russell om maar ’n paar te noem! Dit het sy lewe verander.

In ‘Project Hail Mary’ is Ryan Gosling ’n wetenskaponderwyser wat ingetrek word om die wêreld te red, gegrond op ’n obskure artikel wat hy in sy jeug geskryf het. (Foto: Jason Mendez/Getty Images for Amazon MGM Studios)
Daardie towerkrag wat sy lewe verander het, loop deur die hele rolprent. Uitgedaag deur alleen op die stel van die ruimtetuig te werk, het hy die regisseurs vir hulp gevra. Een van hulle het ’n geïmproviseerde mop gemaak wat ’n snaakse en innemende segment voortgebring het waar hy letterlik met die mop praat en dans. Hulle het die mop “Moppy Ringwald” gedoop. Sy bereidwilligheid om buigsaam te wees en kanse te vat, het hom as vervaardiger bevoordeel. Een voorbeeld wat toe hy sy medester, Sandra Hüller, naby hom in haar kleedkamer hoor sing het. Hy het haar daarna gesmeek om in die fliek te sing. Sandra se dogter moes net eers oukei sê dat haar ma in die openbaar mag sing, maar hulle het toe spesiaal ’n toneel geskryf waarin Sandra Harry Styles se “Sign of the Times” sing. Ryan noem dit die emosionele hartklop van die fliek.
Hoewel daardie toneel en vele ander jou laat lag en baie gevoelens ervaar, is dit die verhouding tussen Rocky en Grace wat die fliek dra. Jy juig vir hulle, vrees namens hulle, en lag saam met hulle. Eenvoudig gestel: Jy ervaar iets, wat rolprente ons lanklaas laat ervaar het.
KYK | Margaret vra vir Ryan Gosling of hy ’n persoonlike “Hail Mary” het
@margaretgardineruniverse #ryangosling #projecthailmary The day Ryan Gosling felt he couldn’t go on . . #movie #actor #space ♬ Cycle Syncing Frequency – Still Haven
Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Margaret uit Hollywood: Miley Cyrus vier 20 jaar van Hannah Montana

