Saamgestel deur Elna Rossouw.
Die eilandbruid se sluier deur Elize Parker
Genre: Fiksie, Inspirasie
Prys R300
Die eilandbruid se sluier is die eerste boek in Elize Parker se nuwe Orka-reeks oor Chrisanne Alberts, ’n grootwithaai-navorser wat ná baie jare terugkeer na die afgeleë dorpie Albatroshoek.
Chrisanne het haar hele lewe gewerk om die bitterheid van die verlede en verwerping agter te laat. As navorser is sy gewoond aan die wêreld van die wetenskap, maar sy dra swaar aan die verlies van mense naby haar en die skuld wat daarmee saamgaan.
Terug op Albatroshoek raak sy betrokke by kleintydvriendinne, die dorp se geheime, ’n moordwalvis en ’n eilandkluisenaar. Sy moet al hoe meer gewigtige keuses maak.
- Uitgegee deur LUCA, ’n druknaam van LAPA Uitgewers
Helene de Kock Inspirasie Omnibus: Kruispad vir Kara & Engel op die drumpel
Genre: Fiksie, Inspirasie
Prys R340
Helene de Kock se eerste inspirasie-omnibus bevat twee verhale: Kruispad vir Kara en Engel op die drumpel.
In Kruispad vir Kara het Kara Geertse, Tukkies se skatryk joolprinses, die wêreld aan haar voete. Dan sterf haar pa en sy en haar ma word sonder ’n sent agtergelaat. In dié liefdesverhaal kom Kara by ’n kruispad en sy is sielsalleen. Wat, of wie, gaan haar help om staande te bly?
In Engel op die drumpel begin Marli Jooste haar nuwe lewe op kampus, maar sy word heen en weer geslinger tussen dit wat sy nog altyd geglo het en nuwe, opwindende dinge. Totdat sy haar op ’n dag voor ’n deur bevind waar ’n engel op die drumpel huiwer − ’n storie van liefde en die hoop wat nooit beskaam nie.
- Uitgegee deur LUX VERBI, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers
Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte deur Hans du Plessis
Genre: Christelik
Prys R260
Om Afrikaans se 100-jaar-viering as amptelike landstaal te gedenk, is Innie skylte vannie Jirre − die ontslape prof Hans du Plessis se verwerkings van bekende Psalms en ander Bybelverse in Griekwa-Afrikaans – einde verlede jaar heruitgegee.
Met dié bundel se eerste verskyning in 2001 is daar meer as 50 000 eksemplare verkoop en die boek is ook daardie jaar deur die Christelike Boekhandelvereniging as die beste Christelike boek aangewys. Oor jare het die verkope na 100 000 opgeskiet.
Prof Hans het die boek aan Christo van Rensburg wat hom “aan die Afrikaans van die Griekwas voorgestel het, en aan hulle wat Afrikaans onder die kameeldoringse (stet) kan optel”, opgedra. Die sanger Randall Wicomb het ook verskeie van die gedigte getoonset en opgevoer.
- LAPA Uitgewers

Wat lees Deon Meyer?
As jy nuuskierig is oor die boeke wat op Deon Meyer se bedkassie lê, lees ons boekerubriek in April se rooi rose wat nou te koop is. Dié meester-misdaadskrywer vertel ook wat hy glad nie lees … en verklap so iets van die saak wat Bennie Griessel en Vaughn Cupido in Skorpio moet oplos!
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se April-uitgawe móét lees!






