Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod keer op 19 April 2026 om 20:00 terug na kykNET met ’n splinternuwe seisoen wat kykers op ’n asemrowende reis deur van die wêreld se mees ikoniese en afgeleë wildernisgebiede neem. Van Suid-Afrika se nasionale parke tot Namibië se kuslyn, die sneeubedekte berge van Noord-Amerika en die kristalhelder waters van die Karibiese See – hierdie seisoen bied 13 kragtige verhale oor die natuur, menslike toewyding en ontdekking.
Bewonder & Bewaar word aangebied deur die bekroonde aanbieder en filmmaker Bonné de Bod, wat kykers tot diep in die hart van inspirerende bewaringswerk begelei. Elke episode bied ’n unieke venster op die mense en diere wat ons planeet vorm en beskerm.

Hier is vyf redes om te kyk:
Goedvoel-TV vir die hele gesin
Elke episode neem kykers saam met Bonné na wildernisgebiede dwarsoor die wêreld, waar sy saam met navorsers, veeartse en wetenskaplikes tyd deurbring in hul natuurlike werkomgewing.
Die reeks fokus op eg menslike stories van passie en toewyding – 13 bewaringsbewustes wat elkeen hul lewe daaraan wy om die planeet te beskerm. Bonné se warm, intieme vertelstyl vang die emosie en verwondering van hierdie ervarings vas en skep ’n gevoel van verbondenheid wat kykers bybly.
Die helde agter die diere
Hoewel die diere en natuur sentraal staan, is die mense agter die bewaringswerk die hartklop van die reeks.
Onder hulle is Cristina Zenato, wêreldbekend vir haar buitengewone band met rifhaaie; dr. Peter Buss, ’n legende in wildveeartsenykunde in die Krugerwildtuin, en Wendy Baxter, een van ’n klein groepie mense wêreldwyd wat reuse-sequoias klim om hul ekologie te bestudeer. Ook Naude Dreyer se robreddingswerk in Namibië, Samuel Madalane se K9-eenheid in die Krugerwildtuin, en Santosh Bachoo se nagnavorsing van seeskilpaaie word van nader bekyk.
Groot én klein wonderwerke van die natuur
Van die grootste roofdiere op aarde tot die kleinste en mees ontwykende spesies – hierdie seisoen vier die volle spektrum van die natuur.
Kykers sien hoe Bonné saam met haaie duik en snags leeus in die Krugerwildtuin monitor, maar ook hoe sy die delikate Knysna-seeperdjie en die geheimsinnige klaasneusmuis (sengi) bestudeer. In die woestyn word die merkwaardige toktokkie en ander klein spesies ondersoek wat perfek aangepas is vir hul barre omgewing.
’n Intieme, eerstehandse belewenis
Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod plaas kykers in die middel van die aksie – of dit nou in ’n helikopter is wat die skade van die 2026-vloede in die Krugerwildtuin dokumenteer, of ’n nag-operasie saam met veeartse in die veld, of onder water in die Karibiese See tussen rifhaaie.
Die episode oor die vloede word op besonder persoonlike wyse vertel deur die mense wat self deel van die rampverligtingspogings was. Van bo in ’n helikopter sien kykers die vernietiging by, onder meer, Letaba-brug en Shimuwini-kamp, wat die impak veel treffender as nuusbeeldmateriaal wys.
Die visuele storievertelling is wêreldklas
Agter die kamera is die bekroonde regisseur Susan Scott, ’n Safta-wenner en internasionaal ervare natuurfilmmaker. Scott bring meer as twee dekades se ervaring na die reeks en werk met ’n indrukwekkende verskeidenheid tegnieke en lense – van 600 mm-telefoto-opnames tot makrolense. Daar is ook indrukwekkende onderwater-kinematografie, termiese nagvisie en landskappe wat met 8K-tydsverloopvideografie vasgevang is.
Die reeks is verfilm in agt nasionale parke en vyf natuurreservate oor vier lande heen, insluitend die Krugerwildtuin, NamibRand, Dorob Nasionale Park, die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark, die Sierra Nevada en Bahamas. Die kamerawerk laat kykers elke keer voel asof hulle self daar is.
Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod begin op 19 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Die reeks het Engelse onderskrifte.
Lees ook: Lekker & goed se pienk partytjie & resepte vir saamgooi-kos!



