Margit Meyer-Rödenbeck is in twee produksies by die Suidoosterfees te sien. Sy en haar geliefde ouma-karakter krap waar dit nie jeuk nie in Ouma en die ou koeie en dan is sy en Frank Opperman te sien in Eerste vir alles, ’n nuwe toneelstuk deur Wessel Pretorius.

Margit Meyer-Rödenbeck is in twee produksies by die Suidoosterfees te sien (Foto: Gys Loubser)
Waar is die saadjie vir Eerste vir alles geplant?
Van die eerste keer wat ek en Frank saam Skouspel aangebied het, met ander woorde jaaare gelede, sê ons dat ons saam ’n show wil doen. Toe ek hom verlede jaar raakloop, het ons dit weer gesê, maar hierdie keer het ek hom die volgende oggend gebel en gesê dit moet nie by praat bly nie. So die saadjie is al lankal geplant, dit het net baie lank gevat om te ontkiem.
Die konsep van Eerste vir alles is Frank s’n – oor hoe Adam en Eva al honderde jare lewe en hoe moeg moet hulle nie al vir mekaar moet wees nie. Ek het hom gevra as hy kan kies, saam met wie sal hy graag wil werk en hy sê toe Wessel Pretorius. Ons drie het in November bymekaar gekom en Wessel het daarna begin skryf. Hy het Frank se konsep so goed vasgevat. Ja, dit gaan oor Adam en Eva, maar dit gaan oor ’n paartjie wat alles vir die eerste keer ervaar.
Die eerste deel van die stuk word uit Eva se oogpunt vertel en die tweede deel uit Adam s’n. Die eerste ontmoeting, die eerste soen, die eerste kind van 56 wat Eva gehad het..
Wat hoop jy kry feesgangers uit die stuk?
Goeie teater en goeie komedie. Wessel skryf baie slim, maar nie so slim dat jy gaan dom voel nie. Sy taal, ritme en woordkeuses is lieflik. Hy is regtig ’n knap skrywer en verstaan komedie. Omdat hy self ’n akteur is, verstaan hy timing so goed. Frank verwys daarna as ’n klassieke teks: dit gaan tyd deurstaan. Ek wil graag hê mense moet weggevoer word en lag. Ons lag te min.

Margit Meyer-Rödenbeck, Wessel Pretorius en Frank Opperman (Foto: Gys Loubser)
Jy en Frank kan al veterane genoem word. Hoe is dit om teenoor hom te speel?
Dit is baie lekker. Hy is entoesiasties en altyd voorbereid. By elke repetisie is dit nie ’n gekla en ’n gekners van tande nie. Dit is dalk om ons ouer is en weet dit gaan nie help nie. Frank is ’n akteur wat uit sy gut uit werk. Hy gaan absoluut op instink. Dit was nog altyd ’n droom om teenoor hom te speel, ook omdat hy so ’n lieflike mens is. Hy is volksbesit en het altyd tyd vir mense. Ek hoop die dinamika wat ons tussen ons ervaar, word op die verhoog weerspieël.
Wat is die waardevolste les wat jy in die vermaakbedryf geleer het?
As jy dink jy weet, dan weet jy nie. (Lag.) As jy teater doen, groei die produksie elke keer wat dit opgevoer word. Dis elke keer anders. Lizz Meiring praat altyd van muscle memory. Dat dit in jou bene kom sit dat jy net kan speel! Die ander groot les wat ek al geleer het, is dat my kristalbal nie werk nie. As ek dink ’n show gaan werk, soos byvoorbeeld by my en my man se teaterrestaurant Die Boer, dan sukkel ek soms met dinge waarmee ek nooit gedink het ek gaan sukkel nie. Mense se uitgaanpatrone het ná die pandemie verander en die ekonomie help natuurlik nie. Ons moet ook verstaan dat ons deesdae een van mense se vele opsies vir vermaak is.

(Foto: Gys Loubser)
Wat is jou raad aan jou dogter, Luca, wat in jou voetspore volg?
Ai, ek het so gehoop die kind wil iets anders doen. (Lag.) Maar hoe sê jy nou vir iemand soos sy wat so baie talent het, nee, jy kan dit nie doen nie. Ek sê altyd vir haar sy moet meer as een ding kan doen – van skryf en sing, tot regie en speel. Die ironie is dat sy op laerskool gesê het sy stel glad nie belang nie, want sy hou nie van die publieke aandag nie en sy dink mense is wreed, en hulle is. Maar noudat sy dit wel gekies het, sê ek vir haar sy moet die bedryf as ’n geheel verstaan en ongelooflik hard werk. Passie is nie genoeg nie. Passie maak nie jou petroltenk vol nie. Talent is natuurlik ’n deel daarvan, maar dit belangrik om jou eie werk te skep. As ek wag vir die telefoon om te lui, gaan ek lank wag. Dis ’n wisselvallige bedryf en ek waarsku haar dat mens soms groot geleenthede gaan mis omdat jy werk, maar aan die ander kant is dit nie een oomblik vervelig nie. Nie een dag is dieselfde nie en ek dink dit pas haar geaardheid.
Waarna sien jy uit by die Suidoosterfees?
Om met Eerste vir alles te open. Ek word selfs in die middel van die nag wakker en sê my woorde op. Ek sien ook uit om uiteindelik Verwelkingslied te sien, en dan is daar ’n klomp ander produksies wat ek wil gaan kyk. Die ander lekker ding van die Suidoosterfees, is dat dit so ’n kosmopolitaanse fees is. Daar is so ’n lekker gees. Ek sien uit om dit te beleef en sien uit om dit in die gehore te ervaar.

(Foto: Gys Loubser)
- Eerste vir alles is op 1 Mei om 20:00, 2 Mei om 12:30 en 3 Mei om 12:30 by die Little Theatre by die Hiddingh-kampus, 37 Orangestraat, Tuine.
- Ouma en die ou koeie is op 1 Mei om 09:30 by die Kaapstad-Burgersentrum.
Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Mei-uitgawe móét lees!

