Verskaf deur Dstv Stream
In ’n sterbelaaide rolverdeling wat die bekroonde veterane Sandra Prinsloo en Frank Opperman insluit, met sterk, magnetiese vertolkings deur medespelers soos Cindy Swanepoel en Jacques Bessenger, kry Leandie du Randt dit steeds reg om die kalklig in Koek se tweede seisoen, wat tans op DStv Stream te sien is, te steel.

Met die eerste oogopslag lyk Veronika dalk net soos ’n mooi poppie aan die arm van Bellville se gevaarlike Tjoppie Terreblanche (Opperman) – geldgierig en op eie gewin ingestel. Maar soos wat die storie ontvou, blyk daar veel meer aan Veronika te wees. Dis ’n rol met vleis, en Leandie het haar tande behoorlik in dié een gesink.
Leandie du Randt vertel meer:
Koek se tweede seisoen is nou al oor die halfpadmerk. Is jy iemand wat na jou eie werk kyk? En wat gaan deur jou kop as jy jouself op skerm sien?
Ek wag gewoonlik totdat al die episodes klaar uit is, maar dit is ook so ’n liefde-haat-verhouding tussen of jy vir jouself kyk of nie. Ek wil baie graag hierdie een kyk, want dit is die eerste keer wat ek saam met Christiaan Olwagen gewerk het, en dít was vir ’n lang tyd een van my grootste drome.
Ek kyk 100% my werk om daaruit te leer. Ek is ’n verskriklike eerlike mens, en ek is nie sensitief nie, so ek is gaande daaroor as ’n regisseur vir my sê: “Daai was k*k, jy kan beter doen.” Sê vir my hoe ek dit beter kan doen sodat ek kan trots wees ná die tyd, eerder as wat jy op die dag my gevoelens probeer spaar. Uiteindelik is dit my werk om na jou, die regisseur, te luister. Dit is hoekom ek ’n akteur en nie ’n regisseur is nie. Ek wil hê jou visie moet gerealiseer word, want dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor daai karakter en die storie en dat ons dit saam so goed as wat ons kan, vertel.
Wat was uitdagend van Veronika?
Christiaan het vir my eendag probeer verduidelik dat ek, Leandie, is ’n labrador, maar my karakter is ’n kat. So, ek moet eers heeltemal van dier-persoonlikheid verander voordat ek in Veronika klim, want Leandi het die hele tyd uitgekom. En dit is nogal iets wat ek baie doen met my rolle. Ja, dit is onafwendbaar dat jy ’n deel van jouself in jou rolle ploeg – jy moet dit eenvoudig doen. Maar die dele van jou wat met die karakter ooreenstem, moet jy aandraai en die dele wat nie dieselfde is nie, moet jy afdraai.
Ek het toevallig nog altyd rolle gespeel wat min of meer baie soos ek is, maar hierdie een is nogal anders, en Veronika druk haarself ook heeltemal anders uit. Ons stem ooreen in dat ons albei sterk vroue is wat daarin glo om vir jouself op te staan, maar ons leef en druk dit op heeltemal ander maniere uit.
Akteurs is maar baie onsekere wesens. Ons sal altyd en heeltyd wil hoor: “Welgedaan! Mooi! Hier is vir jou ’n handeklap, jy het dit reg gedoen.” Maar dis nie hoe TV werk nie. So, TV is eintlik ’n baie ondankbare werk, en dit is hoekom jy baie hard aan jou selfvertroue en jou motivering moet werk, want jy kry nie noodwendig daardie direkte terugvoer of goedkeuring van die regisseur op stel of selfs van die publiek nie. Dís eintlik ook hoekom ek eers die reeks gaan kyk as al die episodes uit is – sodat ek terugvoer kan kry van mense na wie ek opkyk en vertrou. Ek sal kyk na wat die kykers gesê het, maar uiteindelik moet ek self besluit hoe ek daaroor voel, eerder as dat hul reaksie my beïnvloed.
Maar wat as jy die dag nie so selfversekerd voel op stel nie en die boelie in jou kop dalk nie wil saamwerk nie?
Dan moet jy ’n draai gaan stap, of ’n sigaret rook of ’n Rescue Remedy-pilletjie drink. The show must go on, right? Daar was al dae wat ek nie kon huil in tonele nie. Dan vra ek vir die tear stick, want ek kort net ’n iets wat my help sodat my liggaam kan onthou hoe dit voel om te huil, want ek is dalk net in ’n stadium waar ek nie kan huil nie. Dan is daar weer ’n stadium wat jy deur ’n moeilike tyd gaan, maar jy is besig met ’n komedie en jy wil eintlik begin huil. Dan moet jy dit terughou.
Maar daar’s een ding wat ek geleer het wat my lewe verander het – een van my eerste regisseurs saam met wie ek gewerk het, Cobus Rossouw jr., het vir my gesê, want ek was so senuweeagtig en kon nie van daardie angs ontslae raak nie: “Wees senuweeagtig. Die karakter kan ook angstig wees. Enige mens is angstig, maar kyk hoe jy dit kan gebruik in die toneel. Miskien hou sy van die outjie, en dis hoekom sy angstig is.”
So, moenie dit probeer wegsteek nie. Gebruik dit, want jy speel ’n mens met gevoelens, en ek dink dit is wat jy baie keer vergeet as jy ’n akteur is. Maak nie saak wat jy voel nie, jy speel ’n karakter wat ook gevoelens het. En jy wil juis hê mense moet kan aanklank vind by ’n opregte gevoel.
Jy het al voorheen gesê jy wou baie graag saam met Christiaan Olwagen werk, maar hoe het die rol oor jou pad gekom?
Soos die Here altyd ongelooflik in my lewe is, gebruik hy ander goed om my te kry by ’n heel ander ding. Dis hoekom ek altyd vir mense sê, in elke oomblik waar jy is in jou lewe, al is jy nou by ’n werk waarvan jy nie hou nie – daag op as jou 100% beste self. Want dalk loop daar iemand in wat iets in jou sien, wat jou dan ’n volgende posisie kan gee of die werk wat jy wou gehad het. Maar as jy nie jou beste self is, of klaar kan dankbaar wees vir waar jy is nie, hoe kan die Here jou met meer toevertrou? En dit is wat gebeur het. Ek was besig met Gesels [Leandi se program op VIA], en Christiaan was een van my gaste in ’n episode. En ek het uitge-freak! Maar ek was net myself gewees en het vir hom gesê hoe senuweeagtig ek is om ’n onderhoud met hom te doen, want ek wou nog altyd saam met hom werk, en hy kon dit nie glo nie. En hy sou dit nie geweet het as ek dit nie vir hom gesê het nie.
En hy sê daai dag, terwyl ek die onderhoud met hom gevoer het, het hy iets in my gesien wat hy in die karakter Veronika gesien het: ’n sterkte, ’n diepte wat die karakter het. En toe besluit hy hy gaan vir my die rol gee, maar dat hy my ook gaan uitdaag.
Maar as ek nie daai dag myself was en vir hom gesê het hoe graag ek met hom wou werk nie …
Wat is dit van Christiaan se stories wat hierdie wens om saam met hom te werk in jou aangewakker het?
Dit was nog altyd op my visiebord gewees om deur hom geregisseer te word, so dit was rêrig ’n droom wat bewaarheid is. Daarom wil ek kyk of ek kan sien of ek anders speel, of hoe ek met sy leiding geresoneer het, want hy het my rêrig uitgedaag. Ek was ’n paar keer in trane op stel – nie omdat hy gemeen was nie, maar omdat hy rêrig iets uit my gekry het. Hy is vir my briljant.
Ek dink hy is baie cooler as wat ek is. Ek is ’n dominee se kind. Ek is konserwatief grootgemaak. Ek het eers in my universiteitsjare meer liberaal geraak, en dit is hoe ek kan aanklank vind by mense. Ek connect beter met mense juis as ek wys ek is feilbaar, om juis te wys ek vloek soms, ek drink soms, ek wonder soms of die Here lief vir my is – om juis daai onperfekte mens te wees. So, ek is ook altyd aangetrokke tot mense wat, soos hy, net homself is.
En om saam met iemand te werk wat stories skryf juis vir daardie mens wat so onperfek voel, wie se lewe nie perfek is nie – ek word aangegryp deur daardie mense, want hulle dink anders, hulle dink nie soos die hoofstroom nie. Hulle vat kanse, hulle vra vrae. Eintlik is baie stories skynheilig – dit probeer net die mooi van die lewe wys. Dit wys nie dat ons vloek nie; dat jy jou vrou verneuk nie; dat jy skei nie. Maar dít is juis die werklikheid en gebeur. En jy kan baie meer mense bereik en inspireer deur daardie stories te vertel, eerder as om ’n perfekte weergawe van die mens te probeer uitbeeld.
Vertel vir my oor die evolusie van jou verhouding met Veronika – hoe het dit verander tussen die tyd wat jy haar op papier ontmoet het, en die dag toe jy jou laaste toneel as Veronika verfilm het, en selfs nou?
Ek wens altyd mens kan ’n reeks ’n tweede keer skiet. Nadat die karakter en die storie bietjie by jou gesit het. Want rêrig, soos jy haar leer ken – dis soos die maatjie op skool wat jy eers gedink het, is rof, maar dan leer jy haar ken, en jy besef hoeveel deernis jy vir haar het en hoe oulik sy is en dat sy ook net liefde wil hê en net ’n normale mens is. Maar jy het haar so veroordeel aan die begin … Dis presies hoe dit vir my was met Veronika. En dit vat my ’n ruk wanneer ek ’n karakter speel wat so anders as ek is, om net te gaan: “Dis oukei, dis oukei. Jy kan haar nie veroordeel nie.”
Ek het baie vir Christiaan gevra: “Hoekom de f*k slaap sy met hierdie ou as sy net kan weghardloop? Dit maak nie vir my sin nie, is sy dom? Hoekom klim sy nie net in haar kar en sy f****f nie?” En dan sê hy: “Dis goed dat jy sulke vrae vra, want jy gaan haar nie kan speel as jy haar aanhou oordeel nie. Jy gaan moet besluit hoekom, as sy dan so sterk is, sy só optree. Jy gaan ’n rede moet vind. Jy gaan vir die ou wat dit kyk, moet oortuig oor wat daai rede is.”
Ek onthou, Brümilda van Rensburg het jare terug vir my gesê: “As jy ooit ’n antagonis speel, moet jy haar speel op ’n manier wat mense van haar kan hou. Hulle moet kan verstaan hoekom sy daar is. Al is sy so ’n k*k mens soos wat sy is – daar is tog iemand wat lief is vir haar. Of daar is tog ’n rede. Sodat hulle haar eerder begin jammer kry en verstaan as wat hulle haar haat.” En daai’s ’n fyn lyn as jy so iemand speel, want ek dink dit is een van die grootste uitdagings in toneelspel. En wat ek gevind het in my werk is om dan eers te gaan: “Oukei, ek gaan haar nie oordeel nie. Ek gaan probeer lief wees vir haar en empatie hê met haar en kyk hoe ek haar aan die kykers kan verkoop.”

Hoe pas dit by jou groei as mens in? Want jy is nogal afhanklik van jou eie menswees en vermoëns tot empatie om daardie kopskuif te kan maak, of hoe?
Amen. Presies. Vir lank het ek in my lewe vir myself gesê ek gaan nooit so ’n goeie akteur wees soos die akteurs wat dit geswot het nie, maar Jacques Bessenger het vir my gesê: “Leandi, hou nou op. Jy is besig om my te irriteer deur dit te sê. Net omdat jy dit nie geswot het nie, beteken dit nie jy is nie ’n goeie akteur of jy is nie waardig nie. As jy ’n mens is wat leer en groei en jy verstaan mense se psiges en persoonlikhede, dan gaan jy ’n karakter kan vertolk.”
Jy het dit in jou of jy het dit nie. Mens kan nie eintlik leer om ’n akteur te wees nie. Jy kan vaardighede aanleer, natuurlik. Jy kan leer hoe om vinniger te huil, byvoorbeeld. Maar om die essensie van ’n emosie te verstaan … En dit is weereens hoe die Here my ondersteun het – deur my eers bedryfsielkunde te laat swot het; deur my pa ’n dominee te maak wat my geleer het om vir almal lief te wees, maak nie saak watter tipe mens hulle is nie. Om te verstaan hoekom hierdie meisie op 16 swanger is en hoekom daai een nie is nie. Hoekom daai tannie dwelms doen en daai een nie. Nie om hulle te veroordeel nie, maar om te verstaan hoekom en om te verstaan watter omstandighede en keuses jou daar kan bring.
En oor my pa my met so ’n oopkop-ingesteldheid grootgemaak het, het dit my so laat belangstel in mense dat dit juis ook is hoekom ek dit so geniet om ’n geselsprogram aan te bied en met mense te gesels, want ek glo ons kan by elke liewe mens iets leer. Nie een mens is beter as ’n ander nie. Iemand is dalk meer bevoorreg grootgemaak en steek sy foute beter weg of kruip makliker agter geld of die kerk weg, maar dit beteken nie hy is nie net so feilbaar soos jy nie.
Ek dink as jy met iemand praat en ’n veilige ruimte kan gee om om vir hulle te kan sê: “Net soos ons hier sit, is ek en jy dieselfde en ons is ewe waardig,” en jy verstaan dit, kan jy as akteur enige rol speel.
Vertel vir my waar jy dink jou werk as aanbieder, aktrise en skrywer, motiveringspreker, al die goed wat jy doen waarvoor jy ’n passie het, die meeste oorvleuel en hoe en waar die een passie jou dalk help of verhef tot ’n volgende vlak in die ander?
Dis soos ’n liggaam. Jou hart het jou bloed nodig, het suurstof nodig, het dit of dat nodig. En soms breek ons ons enkel en dan leer ons loop sonder dit… Wanneer die een deeltjie bietjie stil is, gebruik jy die ander. Soos met die motiveringspraatjies leer ek hoe belangrik dit is om dankbaar te wees vir die mense wat opdaag by my praatjies en dat ek besef hulle is die mense wat my program kyk en sorg dat ek op die TV kan bly.
Wanneer ek weer op stel is en ek doen TV-werk dan besef ek weer hoe dankbaar ek is om net myself te kan wees, want jy is so in iemand anders se lewe die hele dag dat wanneer jy by die huis is en jy was die grimering af, besef jy die lekkerste is om jouself te wees.
As ek met mense op Gesels praat, dan leer ek weer baie oor ander mense. So, ek sien iets by iemand wat ek kan onthou om by ’n karakter te gebruik.
My sosiale media help my om al hierdie goed te bemark. En ek sou weer nie my sosialemedia-platform gehad het sonder my TV-werk nie.
Dis soos die liggaam van Christus – dis hoe my werke alles bymekaar aansluit. Ek dink die Here het geweet ek gaan te verveeld raak met een ding. Met my lewe is ek baie geseënd, want die een hand was werklik die ander hand.
Waaraan werk jy tans of volgende wat ons met mense kan deel?
Ek is in die proses om ’n boek saam met my pa te skryf. Hy het my al so baie geleer, en ek vra nou al lankal vir hom wanneer hy ’n boek gaan skryf.
Lees meer: Dit is amper tyd vir die 18de seisoen van ‘Boer soek ’n Vrou’
