Verskaf deur kykNET
“Voordat ’n mens vir liefde begin soek, moet jy seker maak dat jy jouself – en dit wat jy uit die lewe en liefde wil hê – baie goed verstaan,” was die wyse woorde waarmee Reandi Grey die 18de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou ingelei het.
Willie (37): Nou’s daar perde!

Boer Willie. Foto: Verskaf
Bees- en mielieboer, Harrismith (Vrystaat)
“Willie is ’n man van baie dinge, effe ernstig, báie avontuurlustig, ’n vonkel in die oog – en iemand wat wéét wat hy in die lewe wil hê,” het Reandi hom opgesom.
Maar hy’s nie die enigste avontuurlustige een nie. Kort voor lank het Reandi hom oortuig dat sy haar Boer soek ’n vrou-bakkie vir net een ding sal verruil – en dis vir ’n perd. Nog voordat jy kon “mes” sê, het die twee op ’n stywe galop vertrek, kommervry en vrolik.
Junior (35): Die koeël is (amper) deur die kerk

Boer Junior. Foto: Verskaf
Gemengde boerdery, Bethlehem (Vrystaat)
“Boere is versorgers – nie net van hul eie grond, diere of onmiddellike familie nie, maar ook van miljoene gesiglose mense aan wie hulle voedsel verskaf. Junior is die verpersoonliking daarvan,” was Reandi se opsomming van dié boer.
En sy wil hom help om ’n maat te vind. Maar ook om hom te help met planttyd agter die (selfbesturende) stuur van ’n monster-trekker. Dit het nie daar geëindig nie. Junior het haar ook gewys hoe om koeëls self te herlaai en die doppies blink te maak – ’n fyn kuns.
Vroulikheid, fynheid, ’n pragtige glimlag, ’n vonkel in die oë en waardering vir die natuur is eienskappe in ’n vrou wat sy hart vinniger laat klop.
Leandi (36): Magie vol, ogies toe

Boer Leandi. Foto: Verskaf
Beesboer, Ventersdorp (Noordwes)
“Om ’n boer te wees is reeds moeilik. Om jouself as ’n vroulike boer te laat geld is nog moeiliker. Leandi is fyn, vroulik – maar sy is sterk. En sy’s trots en baie selfversekerd as sy haar plek volstaan tussen hierdie reusagtige diere,” het Reandi oor Leandi gesê.
Reandi het self nie “ronde handjies” nie, en kort voor lank het sy ewe swaar sakke as Leandi van die bakkie af gelig om die Brahmane te help voer. Sy het selfs van die voer geproe. Dit was ’n wit mieliepit wat volgens Leandi soos ’n “ongepofte popcorn” smaak.
Van proe gepraat, Reandi het ook haar vernuf getoon as die houer van ’n melkbottel toe ’n klein kalfie gevoed moes word. Nes babatjies, het sy opgemerk: As hulle drink, gaan hul ogies toe.
Arno (28): Sprokie in die woud

Boer Arno. Foto: Verskaf
Bosbouboer, Tzaneen (Limpopo)
“Wat maak ’n boer ’n boer? Iemand wat lief is vir die natuur; iemand wat met hul hande in die grond kan werk. Boer Arno is iemand wat so maklik lag, en nog makliker gesels,” het Reandi oor dié bosbouboer te vertelle gehad.
Alhoewel hy as bosbouer nie ’n tipiese boer is nie, was Reandi vas oortuig die beste begin vir ’n sprokie is in die woud.
Sy het hom ontmoet waar hy besig was om boomstompe wat in die pad was, in kleiner stukkies op te saag. En Reandi het vir geen oomblik gehuiwer om sommer self ook van daai houtpale uit die pad te kry nie.
En van hout gepraat – sy kan ook nogal ’n gholfstok swaai.
Francois (34): Skoffel-skoffel is die nuwe goggadans

Boer Francois. Foto: Verskaf
Natuurbewaarder, Hoedspruit (Mpumalanga)
“Francois is ’n stil, sterk man wat sy lewe toewy aan die bewaring van die natuur. En hy vind sy vrede en rustigheid in die skoonheid van hierdie wêreld om hom. Met iemand aan sy sy wat die liefde vir die natuur en sy liefde kan deel, sal sy lewe net soveel ryker wees,” glo Reandi.
Francois het demonstreer hoe hy die gehalte van die rivierwater toets. Hy skoffel-skoffel met sy waterstewels in die rivier met ’n vangnet in die hand om die goggas, wat gewoonlik onder die klippe wegkruip, te vang. En sowaar, daar is klein karnivore in die water wat paddavissies en ander klein dingetjies eet.
En nou, vir die eerste keer in drie jaar sien hy uit daarna om skoffel-skoffel op land ’n maat te vind – en nee, dit sal nie ’n paddavissie wees nie.
David (43): O, Moeder! En daar trek die bout

Boer Dawid. Foto: Verskaf
Gemengde boerdery, Vierfontein (Vrystaat)
“As ’n man eers vir ’n wyle liefde opsy sit omdat hy te besig raak, dink ek Boer soek ’n vrou is presies die medisyne wat hy nodig het. Kom ons wees eerlik: Kan jy regtigwaar te besig raak vir liefde?” het Reandi gewonder nadat sy David ontmoet het.
Sy het gehoop om hom ’n bietjie tot stilstand te laat kom, maar dit moes eers wag, want ’n eerste op haar lysie van dinge wat sy nog nie gedoen het nie, was om ’n air gun (lugspuit) in te span om die boute van een van die trekker se wiele te help verwyder. Met ’n heftige “Moeder!” van Reandi se kant het die bout kort voor lank bes gegee.
Soja, mielies, skape, beeste, ’n restaurant en vervoer (“tranesport” soos David dit noem) het ’n verbaasde Reandi genoop om te vra of David gou verveeld raak met soveel dinge op een bord.
“Besig bly is maar wat die skaaltjie laat tik,” het hy droogweg laat hoor.
Jacques (32): ’n Boompie is nie sommer vir uittrek nie

Boer Jacques. Foto: Verskaf
Makadamianeutboer van Nelspruit (Mpumalanga)
“Jacques is ’n man met hierdie droë sin vir humor en ’n baie unieke uitkyk op die lewe. En in hierdie groen paradys waarin hy woon, is daar ’n gebrek aan net één ding – en dis liefde,” het Reandi die situasie opgesom.
Toe sy op die plaas aangekom het, was hy juis besig om ’n dooie boompie uit te grawe. Maar Reandi kry toe die uitdagende taak om dit uit die grond te trek. ’n Paar steune en kreune later het sy triomfantelik met die oorlede boom in die hand gestaan.
Hoe later hoe kwater. Toe Jacques vir Reandi ’n pistool in die hand stop vir teiken-skiet, moes hy laggend erken dat sy hom sleg laat lyk het met een treffer ná die ander.
Sy groot versugting? “Net vrede in die huis – ’n veilige hawe.”
JD (28): Dit gaan groei, maar gaan dit reguit groei?

Boer JD. Foto: Verskaf
Gemengde boerdery, Reitz (Vrystaat)
“JD het hierdie rustige gemaklikheid aan hom. Maar moenie dat dit jou flous nie. Ek dink hy kan lekker ondeund wees as hy wil. Maar ek dink ook agter daai maklike glimlag van hom is daar ook ’n ernstige kant, veral omdat hy ’n man is wat ook soveel verantwoordelikhede op sy skouers dra,” was hoe Reandi dié boer opgesom het.
Kort nadat hy sy hond in Sotho uit die trekker se kajuit verwilder het, was dit weer Reandi se beurt om die stuur oor te neem en dié keer inderdaad self te bestuur.
Terwyl sy baie opgewonde was oor haar plantsessie, was JD se grootste kommer nie óf die mielies gaan opkom nie, maar óf dit in ’n reguit ry geplant is.
Hy sal wel sy pasmaat vergewe as sy nie in ’n reguit lyn kan plant nie, maar die rooi vlag sal hoog gehys word as sy nie ’n familie-mens is nie.
Jack (30): Van die bytjies en die blommetjies

Boer Jack. Foto: Verskaf
Appel- en peerboer, Hermanus (Wes-Kaap)
“Gentle giant Jack,” het Reandi hom genoem. “Hy’s ’n diep denker, maar ook met tye ’n oor-denker,” het Reandi gesê en bygevoeg dat sy daarna uitgesien het om hom beter te leer ken.
In die vrugteboord het Jack vir Reandi verduidelik hoe belangrik bye in die rol van die boord speel. “Sonder bye is daar nie appels nie,” het hy gesê. Alhoewel hy van kontrakteurs gebruik maak om die bye in te bring, het hy wel ook sy eie bye, maar dis vir speel, het Jack vertel.
Maar in sy tuisgimnasium speel hy nie. Ná ’n paar opstote terwyl hy ’n handstaan doen, het hy genoem dat sy pasmaat nie noodwendig CrossFit hoef te doen nie, maar wel van ’n aktiewe leefstyl moet handhaaf.
Tot Reandi se grootste verbasing is die hoenders op die plaas nie net sommer hoenders nie. Willie en sy pa skou hulle.
En anders as met die hoenders, wat aan streng skouvereistes moet voldoen, is Willie oopkop oor die liefde.
Luan (26): Haarwurm? Nie ek nie!

Boer Luan. Foto: Verskaf
Skaapboer, Strydenburg (Noord-Kaap)
“As ’n mens eers lief raak vir die Karoo, dan’s die plek vir altyd in jou hart. Die vraag is nou: Maak die Karoo die mens, of maak die mens die Karoo? In ’n wêreld soos hierdie moet ’n mens gemaklik wees met jou menswees. En Luan is,” het Reandi gesê.
Maar hoe gemaklik was Reandi daarmee om hom te help om die ooie met lammers te skei van dié wat veiling toe gaan? Dit was veel makliker as om die lammetjies se oortjies te merk met dieselfde nommer as dié van hul ma, en sagte trooswoorde vir ’n blêrende klein lammetjie het haar beter laat voel.
Toe hulle die skape moes inent teen haarwurm, het Reandri ’n goeie skeutjie van die entstof ingekry toe die skaap se tong in die pad van die spuit gekom het.
“Ek gaan ten minste nie haarwurm kry nie,” het sy gelag.
Gaan hy wel die pasmaat kry waarna hy soek? Iemand wat tevrede met haarself is en wat met hom kan uithou, is al waarvoor hy wens.
Boer soek ’n vrou word vanaf 23 Julie oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Dit is amper tyd vir die 18de seisoen van ‘Boer soek ’n Vrou’
