Verskaf deur Pharma Dynamics
Baie Suid-Afrikaanse vroue in hul veertiger- en vyftigerjare lê om 03:00 die oggend wakker en voel angstig, prikkelbaar of bloot nie soos hul gewone self nie. Vir sommige begin dit met rustelose nagte. Vir ander is dit ’n kop wat suf voel of “brain fog”, onverklaarbare angs of die gevoel dat hulle nie meer dinge so goed hanteer as voorheen nie. Namate vroue deur perimenopouse en menopouse beweeg, kan fluktuerende hormoonvlakke alles beïnvloed – van slaap en gemoedstemming tot energievlakke en algehele welstand.
Vrouegesondheid strek veel verder as die voortplantingsjare, tog word simptome wat met hormonale veranderinge wat met die middeljare gepaardgaan, dikwels oorgesien of verkeerd verstaan. Vir baie vroue is ’n belangrike eerste stap om te besef daar is ’n verband tussen hormone en simptome. So kan doeltreffende ondersteuning gevind en hul lewensgehalte verbeter word.
“Baie vroue is verbaas om te verneem dat hormonale veranderinge emosionele welstand net soveel kan beïnvloed as wat dit fisieke simptome meebring,” sê Ingrid Singels, die mededirekteur van Pharma Dynamics se wetenskaplike afdeling. “Hierdie simptome kom algemeen voor tydens die oorgang na menopouse, maar word dikwels oorgesien of slegs aan stres toegeskryf.”
Die rol van progesteroon
Progesteroon is ’n natuurlike hormoon wat hoofsaaklik deur die eierstokke vervaardig word. Hoewel dit veral bekend is vir die regulering van die menstruasiesiklus en die ondersteuning van swangerskap, speel dit ook ’n belangrike rol in slaap en kan dit emosionele welstand en algehele hormonale balans beïnvloed.

Progesteroon is ’n natuurlike hormoon wat hoofsaaklik deur die eierstokke vervaardig word. Foto: Cottonbro Studios, Pexels
Namate estrogeen- en progesteroonvlakke tydens perimenopouse wissel, ervaar baie vroue onreëlmatige menstruasie, slaapprobleme, angs en verhoogde emosionele sensitiwiteit. Navorsing het getoon dat mikroniseerde progesteroon – alleen of saam met estrogeen – slaapgehalte kan verbeter en nagswete en warm gloede by sommige vroue in die perimenopouse kan verminder.
“Swak slaap kan ’n groot invloed op lewensgehalte hê,” verduidelik Ingrid. “Wanneer vroue beter begin slaap, rapporteer hulle dikwels verbeterings in bui, konsentrasie, veerkragtigheid en daaglikse funksionering.”
Bio-identiese progesteroon teenoor sintetiese progestiene
Daar is twee hoofkategorieë progesteroonverwante middels wat in vrouegesondheid gebruik word, naamlik bio-identiese progesteroon (soos mikroniseerde progesteroon) en sintetiese progestiene.
Mikroniseerde progesteroon is chemies identies aan die progesteroon wat natuurlik deur ’n vrou se eierstokke geproduseer word. Dit is tot klein deeltjies verwerk om die liggaam se opname daarvan te verbeter. Sintetiese progestiene is daarenteen verbindings wat in ’n laboratorium geskep is; hulle boots sekere werkinge van progesteroon na, maar verskil struktureel van die natuurlike hormoon.
Daar is aangetoon dat hierdie mikroniseerde progesteroon ’n laer risiko vir newe-effekte en gesondheidskomplikasies inhou as sintetiese progestiene.
Navorsing het bevind dat mikroniseerde progesteroon …
- … nie gekoppel is aan dieselfde verhoogde risiko vir borskanker wat by sommige sintetiese progestiene gesien word nie.
- … ’n minimale invloed het op die risiko vir bloedklonte (veneuse trombo-embolisme of VTE).
- … nie cholesterol of bloedsuiker nadelig beïnvloed soos wat sommige sintetiese weergawes kan doen nie.
Hierdie onderskeid het die afgelope jare al hoe belangriker geword namate navorsers ’n beter begrip gekry het van hoe verskillende progesteroonformulerings die liggaam beïnvloed.
Ingrid verduidelik dat daar ’n mate van huiwering oor hormoonterapie bestaan weens kommer wat deur studies – wat meer as twee dekades gelede gepubliseer is – laat ontstaan is. Sy wys egter daarop dat baie van daardie studies ouer hormoonformulerings betrek het, en dat ons begrip van menopousebehandeling sedertdien aansienlik ontwikkel het.
Een hormoon, twee paaie
Baie vroue is verbaas om te ontdek dat gemikroniseerde progesteroon óf mondelings (ingesluk) óf vaginaal (in die vagina geplaas) voorgeskryf kan word. Die roete wat gebruik word, hang dikwels af van die vrou se lewensfase, behandelingsdoelwitte en individuele behoeftes.
Monale gemikroniseerde progesteroon word algemeen voorgeskryf as deel van menopousale hormoonterapie (MHT) om die baarmoederwand te help beskerm. Dit is bewys dat dit doeltreffende endometriale beskerming bied wanneer dit saam met estrogeenterapie gebruik word. Daarbenewens produseer orale progesteroon natuurlike metaboliete wat die bloedbreinversperring kan oorsteek, wat ’n kalmerende effek kan hê en help om die gehalte van slaap te verbeter.

Orale progesteroon produseer natuurlike metaboliete wat die bloedbreinversperring kan oorsteek, wat ’n kalmerende effek kan hê en help om die gehalte van slaap te verbeter. Foto: Freestock Pro, Pexels
Raad vir vroue wat hormonale veranderinge in hul middeljare bestuur
Ingrid moedig vroue aan om nie aanhoudende simptome bloot as “ouer word” af te maak nie.
“As jy slaapversteurings, verergerende angs, buierigheid, nagsweet of ander perimenopousale simptome ervaar wat jou lewensgehalte beïnvloed, praat met jou gesondheidsorgverskaffer. Doeltreffende behandelingsopsies is beskikbaar, en jy hoef nie in stilte te ly nie.”
Sy beveel ook aan om gereelde oefening, ’n gebalanseerde dieet, stresbestuur, goeie slaapgewoontes en roetine gesondheidsondersoeke te prioritiseer.
Ondersteuning van vrouegesondheid
Hormonale veranderinge is ’n natuurlike deel van die lewe, maar die simptome wat met perimenopouse en menopouse geassosieer word, kan ’n beduidende impak op ’n vrou se fisieke en emosionele welstand hê. Groter bewustheid en begrip kan vroue help om te herken wanneer simptome gekoppel kan wees aan hormonale veranderinge en hulle aanmoedig om toepaslike mediese raad en ondersteuning te soek.
Pharma Dynamics verbind hulle tot die uitbreiding van toegang tot navorsinggegronde vrouegesondheidsorgoplossings wat vroue help om hormonale oorgange met groter selfvertroue, gemak en lewensgehalte te bestuur.
Lees ook: Vroue leef dalk langer as mans, maar hoe goed leef hulle?
