Verskaf deur M-Net
Die amptelike nuwe lokprent vir INVISIBLE, die opwindende aksiespanningsreeks gebaseer op Deon Meyer se topverkoper-roman, Onsigbaar, is van vandag af beskikbaar.
INVISIBLE se rolverdeling spog met die Australiese aktrise Abbie Cornish (Limitless, Three Billboards Outside Ebbing, Missouri) en die Skotse akteur Dougray Scott (The Hack, The Crow Girl), tesame met Suid-Afrikaanse talent Tim Theron (Trackers, Heart of the Hunter), Tumisho Masha (Isibaya, Silverton Siege), Frank Rautenbach (Bang Bang Club, Summertide), Kim Engelbrecht (Reyka, Dominion), Chi Mhende (Generations: The Legacy, Queen Sono) en Siv Ngesi (The Woman King, Unseen).
Die regie is behartig deur Jozua Malherbe, met die teks geskryf deur William Schneider en Deon Meyer, en addisionele skryfwerk deur Amy Jephta.
INVISIBLE volg die soektog van lyfwag Martin Dekker en die Londense expat Emma Le Roux. Terwyl hulle ‘n dekades-oue komplot in die Suid-Afrikaanse Laeveld onthul, beweeg ondersoekbeampte Kolonel Jack Phatudi al hoe nader aan ‘n netwerk van korrupsie wat tot in die hoogste geledere van mag strek. Die reeks is gebaseer op ware gebeure, insluitend die geheimsinnige vliegtuigongeluk in 1986 waarin voormalige Mosambiekse president Samora Machel om die lewe gekom het.
Vervaardiger en ster, Tim Theron, sê:
“Dit is ’n ongelooflike oomblik vir ons almal om die lokprent aan die wêreld bekend te stel. Ons het jare se harde werk daaraan gewy om Deon se verhaal na die skerm toe te bring, en ons wou van die begin af ’n wêreldklasproduksie skep – ons gehoor verdien niks minder nie. Hierdie lokprent is net ’n klein voorsmakie van wat kykers kan verwag. Merk 14 Oktober op die kalender; julle is níé gereed hiervoor nie.”
Deon Meyer, skrywer van Onsigbaar en uitvoerende vervaardiger van INVISIBLE, sê:
“Dit is ’n vreemde, wonderlike ervaring om te sien hoe ’n verhaal wat jy alleen agter jou lessenaar gesit en skryf het, in iets so groot omskep word. Die lokprent vang die spanning en die skoonheid van die landskap pragtig vas. Ek kan nie wag vir Suid-Afrika – en die res van die wêreld – om die res te beleef nie.”

Yu-Fai Suen, vervaardiger van Berkeley Media Group, sê:
“Ons is opgewonde dat almal die eerste lokprent van ons aksie-riller kan sien wat in Suid-Afrika afspeel, gemaak vir ITV Studios en M-Net. Namens al die vervaardigers wil ons graag dankie sê aan ons wonderlike rolverdeling – insluitend Abbie Cornish en Dougray Scott – asook regisseur Jozua Malherbe en ons uitstekende plaaslike produksiespan wat hierdie verhaal na die skerm gebring het. Die gehoor sal nie teleurgesteld wees nie!
INVISIBLE word vervaardig deur Scene23, saam met Berkeley Media Group en Dugga Boys Produksies, in samewerking met Multichoice, ‘n Canal+ Maatskappy, en ITV Studios, en word internasionaal deur ITV Studios versprei.
INVISIBLE se eerste episode première op Woensdag 14 Oktober, om 20:00 op M-Net (DStv kanaal 101) en die reeks word weekliks op Woensdagaande uitgesaai. Episodes sal ook op DStv Stream en CatchUp beskikbaar wees.







