Verskaf deur VIA
Andrew Mellish, ’n eerstegeslag-wynmaker, is gekroon as vanjaar se wenner in die tweede seisoen van VIA se realiteitsprogram Die Wynmeester. Mellish het vyf ander onafhanklike wynmakers uitgestof om met die gesogte titel weg te stap.
Maklik was dit nie. Die deelnemers moes in elke episode iets takel wat nie heeltemal binne hul gemaksone is nie. Hulle is immers wynmakers, maar daar is geproe en wyne met disse gepaar. Hulle moes selfs hul eie etikette ontwerp – en dis iets wat gewoonlik nie oornag gebeur nie.
In die pylvak moes die top-3-wynmakers – Anrico Solomons, Janco de Kock en Andrew Mellish – ook boonop hul eie pizzas voorberei om met wyn wat hulle self gemaak het, te paar. Abrie Beeslaar, hoofbeoordelaar en die man wat as een van die grootste wynmakers in Suid-Afrika beskryf word, het saam met Johan de Villiers van Klein Roosboom Boetiek-wynlandgoed (en ook Kokkedoor: Vuur en vlam-wenner) die kos-en-wynparing beoordeel.
Die laaste hekkie wat oorgesteek moes word, was Duncan Savage, ’n wynmaker in eie reg en ook lid van die Kaapse Wynmakersgilde en die man aan wie die top-3 hul wyne moes bekend stel.
Andrew vertel meer:
Wat het jou laat besluit om geslagte lange melkboerdery vir wingerde te verruil? En hoe het die familie hierdie oorgang ervaar? Het dit baie veranderinge in jou lewe teweeggebring?
Daar was destyds baie belangstelling in Durbanville van Brown-Forman, wat op daardie stadium onder die 10 grootste drankmaatskappye ter wêreld was. Hulle het wynkelders in Kalifornië en Italië besit en Durbanville as ’n geleentheid geïdentifiseer om ’n wynkelder te vestig.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het hiervan te hore gekom en die nuutgestigte Distell het besluit om Durbanville Hills in vennootskap met die plaaslike druiweprodusente te vestig.
Ek was destyds op hoërskool en ek en my pa het ’n gesprek gehad en besluit om wingerde aan te plant en ’n verskaffingsooreenkoms met Durbanville Hills te onderteken.
Dit was ’n gelukkige oorgang, want my pa hoef sedert ons die melkery in 2002 verkoop het, nie meer oor naweke te werk nie. Ek was baie meer geïnteresseerd in wingerde en wynmaak as melkboerdery, en ná matriek is ek na die Universiteit Stellenbosch toe om wingerd- en wynkunde te studeer.

Jy word beskryf as die eienaar, direkteur, wingerdkundige en wynmaker van Mellish-wyne, aan die hoof van jul familieplaas, Welbeloond. Maar dit is glo nie ’n maklike stuk aarde nie, met sy oeroue skaliegrond en koel kusklimaat, met die Atlantiese kus sowat 9 km van julle af soos die kraai vlieg. Hoeveel van die besluite by Welbeloond is ook diep gewortel in instink eerder as wetenskaplike kennis?
Baie van die besluite wat ons neem, spruit uit ervaring. Ons gebruik ons wetenskaplike kennis om aanvanklik ons beste oordeel te vel oor wat om te doen, maar elke grondtipe, helling, mikroklimaat en wingerdstok is uniek. Dit is waar die ervaring om oor baie oesjare heen met ’n spesifieke terrein te werk, ’n rol begin speel.
Alhoewel jy reeds in 2015 organies begin boer het, het jy eers in 2025 amptelike organiese sertifisering ontvang. Wat het daardie erkenning vir jou beteken?
Die sertifiseringsproses behels drie jaar se oudits. Aanvanklik was dit vir my belangriker om organies te boer om die lewe in die grond te herstel en op te hou om harde chemikalieë in die omgewing te gebruik.
Ek was nie juis bekommerd oor sertifisering nie, maar al hoe meer mense het begin om groenwas-praktyke te gebruik en daarop aanspraak te maak dat hulle organies boer, terwyl sommige se praktyke nie juis eg voorgekom het nie.
Ek het dus besef dat dit nodig geword het om die sertifisering te hê om ons kliënte die versekering te gee dat ons die regte ding doen.
Hoe het dit gevoel om jou heel eerste Mellish Family Vineyards-wyn in jou hande te hou?
Dit was ongelooflik lonend. Dit was ’n reis van 20 jaar tot op daardie oomblik, en dit was die bevestiging dat al die harde werk en besluite wat oor daardie tyd geneem is, die moeite werd was.
Waar sien jy jouself en Mellish Family Vineyards oor 10 jaar?
Ons sal ons eie wynkelder met ’n kapasiteit van 100 ton en ’n proelokaal hê, waar ons sowat 72 000 bottels uitsonderlike wyn sal produseer, waarvan die helfte uitgevoer sal word. Ons markte sal goed gevestig wees en die handelsmerk sal sinoniem wees met gehalte, konsekwentheid en integriteit.

Hoe het jy jou tyd op Die Wynmeester ervaar? Jy het die meeste van die tyd betreklik kalm oorgekom, maar was dit vreemder of meer uitdagend as wat jy verwag het? En wat was vir jou die moeilikste deel?
Ek het my tyd op Die Wynmeester baie geniet. Die TV-span was baie professioneel en ’n plesier om mee saam te werk.
Ek was aanvanklik bekommerd omdat ek nie geweet het wat om te verwag nie, en dit was waarskynlik die grootste uitdaging – om vir lang tye buite my gemaksone te wees. Op die ou end was daar niks om oor bekommerd te wees nie en ons het baie pret gehad en nuwe vriendskappe gesmee.
Jy het genoem dat jy baie by die ander deelnemers geleer het. Wil jy ’n bietjie meer daaroor vertel?
Elkeen van ons staan voor baie soortgelyke uitdagings, maar elkeen se verhaal is anders, met verskillende sterk- en swakpunte. Dit was wonderlik om mekaar se verhale te leer ken en uit mekaar se foute en suksesse te leer. Ons het ook ’n netwerk van mense geskep wat ’n waardevolle hulpbron kan wees.
Is daar een wyn – of dalk meer as een – wat jy eendag graag as die absolute kroonproduk van Mellish Family Vineyards sal wil bottel?
Ek hou my portefeulje klein, want elke wyn wat ek maak, is vir my baie spesiaal. Ons maak tans vier wyne, en dit kan moontlik tot ses groei, met planne vir ’n Cabernet Sauvignon-rooiversnit en ’n Blanc de Blancs Cap Classique. Ek sal eers daarmee eksperimenteer, en as ek voel dat die wyne uitstekend is, sal ek hulle aan die mark bekendstel.
Wat is die beste raad wat jy nog as wynmaker gekry het, en watter raad sal jy aan aspirant-wynmakers wil gee?
Vir my was dit nie soseer raad nie, maar eerder iemand wat in my geglo het toe ek nie in myself geglo het nie. Dit het my die selfvertroue gegee om my eie handelsmerk te begin.
Ek sal jong wynmakers aanraai om te reis en soveel moontlik oes-ervarings oor die wêreld heen op te doen en soveel moontlik wyne te proe. Probeer om saam met mense te werk wat wyne maak wat jou voete onder jou uitslaan. As jy dit doen, sal jy uitvind wat dit is wat jy in die wynbedryf wil bereik.

Het jy ’n topvyf-lys van gunstelingwyne van ander wynkelders/wynmakers?
Johan Reyneke van Reyneke Wines het my werklik geïnspireer met sy benadering tot boerdery, grond, mense, diere en wyn. Ek was nog altyd mal oor hul wyne, en hul Reserve White was die inspirasie agter my Blanc Fumé.
Charles Hopkins het in my vermoëns geglo toe ek self getwyfel het, en sy Op Die Berg Syrah is vir my ’n ware maatstaf-wyn.
Ek is ’n groot aanhanger van Rall en die Mullineuxs, Krug Champagne, Verzier en Vacheron.
Hoe het dit gevoel om as die wenner van Die Wynmeester aangewys te word?
Dit is ’n groot eer, want ek het gevoel enigeen van ons kon gewen het en ek dink daar was nie veel tussen ons nie. Om te wen is die kersie op die koek en natuurlik is dit wonderlik vir ons onderneming.
Op die lange duur is die vriendskappe en netwerk wat ons tydens hierdie unieke ervaring opgebou het, egter die ware prys.
Finale puntestand
- Andrew Mellish (Mellish Family Vineyards): 76
- Janco de Kock (Anco Wines): 74
- Anrico Solomons (Solomons Family Wines): 74
Andrew se pad van tradisionele perde- en melkboerdery tot eerstegeslag-wynmaker
Edward Henry Mellish (1832-1913) het tussen 1848 en 1852 vanuit Chelsea in Engeland in die Kaap geland. Uit sy huwelik met Johanna Steensma is 13 kinders gebore.
Sy oudste seun was Edward Henry Frederick Mellish, ’n suksesvolle sakeman, verskepingsagent en plaaslike raadslid wat later jare opreggeteelde perde, beeste en skape hoofsaaklik vanaf Engeland ingevoer het vir sy plaas by Vredehoek, Kaapstad. Die bekende Nazareth House is vandag op ’n gedeelte van die oorspronklike plaas gebou.
Andrew se oupagrootjie Henry Lawrence Mellish (1885-1940) het Welbeloond gehuur vir boerderydoeleindes met friesbeeste van Vredehoek. Met erfgeld uit die verkoop van Vredehoek kon hy in 1934 Welbeloond naby Durbanville koop.
Sy oupa Henry Tobias Mellish (1916-1967) het so byna-byna vir die Springbokke uitgedraf, maar sy loopbaan is deur die Tweede Wêreldoorlog ontwrig. In ’n stadium het feitlik die hele WP-voorry uit lede van die Mellish-familie bestaan. Hy het met clydesdales (perde) geboer en ’n friesbees-stoetery geregistreer.
Ook sy pa, Andrew Gustave Mellish (1950- ), het op boerdery, spesifiek melkboerdery, gefokus en hy het dit tot die vyfde grootste melkkudde in die land opgebou. Homestead Dairies het in 1987 die lig gesien in samewerking met drie ander plase en twee besigheidsvennote.
En dan is daar Andrew John Mellish (44), vanjaar se Wynmeester. Hy het ’n graad in wingerd- en wynkunde in 2006 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en bestuur reeds vanaf 2007 wingerde. Benewens plaaslike ervaring as oes-intern, het hy ook sy vlerke na Nieu-Seeland en Kalifornië gesprei.
Met die 2018-oesjaar het hy sy eie familiewynhandelsmerk van die grond af gekry. Sedert 2022 is die res geskiedenis – gerugsteun deur hope erkenning en lof uit gerekende oorde vir sy wyne.
Andrew se pryse
- ’n Stalletjie met sy eie handelsmerk ter waarde van R29 500 by Standard Bank WineX in Sandton (28-30 Oktober) waarby baie ekstras ingesluit is.
- ’n Ete by De Warenmarkt in Stellenbosch ter waarde van R2 000.
- ’n Palet wynbottels van sy keuse by Ardagh Packaging.
- Twee gratis inskrywings vir die Michelangelo International Wine & Spirits Awards.
- ’n Reis na Frankryk, geborg deur Beveratech, vir een persoon, wat insluit retoervlugte na Parys, treinkaartjies na Angers, drie dae se besoek aan die Bucher-fabriek en -wynkelders met akkommodasie en etes ingesluit. Pryswaarde sowat R75 000.
- Die gebruik van ’n GWM P300 LTD-dubbelkajuitbakkie, geborg deur GWM, vir ’n jaar plus versekering van die bakkie, geborg deur Intégro.
