’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe telenovela Die Toring is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché. As een van die jong sterre van die reeks, wat elke Maandag om 21:00 op kykNET uitgesaai word, bring Nichola ’n dinamiese energie na die wêreld van hoëdruk-beleggingsbankwese waarin Die Toring afspeel.
Op 23 is Nichola reeds besig om haar merk te maak. Kykers sal haar herken as Wilmari, Marelize Horn se sussie, in die film My f*k Marelize, wat in 2025 verskeie toekennings by die Silwerskermfees ontvang het.

Nichola se passie vir die kunste strek egter verder as net toneelspel: “Ek was nog altyd meer van ’n kreatiewe tipe. Ek het al baie gehuil in Wiskundeklasse op skool en genees nou daardie wond deur Suduko to speel, veral gedurende lang dae op stel. Ek was (en is steeds) 100% ’n pliggie en het aan elke liewe moontlike buitemuurse aktiwiteit wat bestaan, deelgeneem. Buiten toneelspel is ek ook baie lief vir skryf en regie en het ek in 2024 my honneurs daarin gedoen. Ek het te alle tye ses verskillende leesboeke op my bedkassie en lees tans Buys deur Willem Anker. Ek is ’n introverted extrovert, en my nuutste all-consuming obsessie is Die kantoor. Ek is baie lief vir Jesus – dít is waar ek my genot en doel vandaan kry.”
Haar pad na Die Toring was een van deursettingsvermoë en geleenthede wat op die regte tyd gekom het: “Ek het nog altyd geweet ek wil act. Ek het in al my laerskool-klasprojekte opgeteken dat ek ’n aktrise gaan word en in 7de Laan gaan speel – ek wou presies soos Paula van der Lecque (Diaan Lawrenson) wees.” Sy voeg by: “Op universiteit het die deure vir my begin oopgaan. Gedurende my honneursjaar het my agent ’n oudisie-uitnodiging vir Die Toring aan my gestuur, en die res kan jy elke Maandagaand 21:00 op kykNET sien.”
Nichola sal nooit die oomblik vergeet toe sy gehoor het sy het die rol van Cazz losgeslaan nie: “Ek was histeries. Toe my agent bel met die goeie nuus het ons vir vyf minute net oor en weer gegil van blydskap. Ek het onmiddellik my naastes gebel en daardie aand my gesin uitgevat vir ete.”
As Cazz Fouché vertolk Nichola ’n vurige, komplekse karakter. “Cazz (Cassandra) Fouché is een van vier jong finansiële ontleders by ’n high-stakes beleggingsbank in die Kaap en sy straal van ambisie, hardwerkendheid en passie. Cazz is ’n firecracker, maar as sy die aand haar hoë hakke uittrek, is sy maar eintlik net ’n klein dogtertjie wat wil liefhê en liefgehê wil word,” verduidelik sy.
Nichola sê sy vind altyd iets van haarself in ’n rol. “Daar is dele van my in elke karakter wat ek speel. Dit is hoe ek ‘n goeie houvas op ’n karakter kry en dan die gemak het om hul eienskappe wat buite myself is, te vind. Cazz se vatplek was haar ambisie en haar onvoorwaardelike liefde vir haar naastes. As Nichola kan ek my met beide van hierdie elemente vereenselwig, maar was dit ook lekker om aan Cazz haar eie spesifieke definisies van ambisie en liefde te gee. So, dit voel asof ek terselfdertyd myself as Nichola herontdek terwyl ek deur Cazz in totaal nuwe skoene geplaas word.”
Die rol het nie sonder uitdagings gekom nie. “Cazz se stiletto-hakke! Om vir 12 ure op ’n slag 10 cm-hoëhakskoene te dra was beslis iets om aan gewoond te raak.” Tog het sy vinnig aangepas by die tempo van ’n telenovela: “My grootste hulpmiddel was goeie voorbereiding.”
Nichola beklemtoon ook die ondersteuning wat sy op stel ontvang het. “Cantona James, Marguerite van Eeden-Harris en Bobby Stuurman het al drie my onder hulle vlerke geneem en soveel leiding gegee. En wat ’n voorreg om hulle nou my vriende te kan noem.”
Die ervaring het haar nie net as aktrise nie, maar ook as mens gevorm. “Dit het my vreesloos gemaak. Daar is net joy, want hierdie werk is waar my lewenslig skyn.”
Kykers kan uitsien na ’n karakter vol verrassings. “Ek dink kykers sal verbaas wees oor Cazz se verskillende lae. Hulle kan hulself maar ook gereed maak vir Cazz se sterk taalgebruik en onverwagse kronkelpaaie in haar lewe.”
Vir die toekoms het Nichola groot drome: “Oor vyf jaar sal ek graag ook as skrywer en regisseur my bydraes tot die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf wil maak. Ek het ’n brandende begeerte om platforms vir hierdie stories te skep.”
En hoe beskryf sy Die Toring? “Sexy, morsig en spannend.”
Die Toring word elke Maandag om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.




