Dit is beslis nie die eerste keer wat Marco (Xander Venter) kykers lekker warm onder die kraag het nie. Sy storielyne in Diepe Waters neem kykers gereeld op ’n emosionele wipwaentjierit.
Maar dít is juis hierdie moeiliker storielyne wat vir Xander sy karakter interessant hou.
“Die uitdaging is vir my lekker. Dit is ’n voorreg om uitgedaag te word deur iets waarvoor jy lief is,” vertel Xander.
Hy dink veral terug aan die skiettoneel waar hy sy pa, Schalk (Izak Davel), moes keer om sy ma, Leandri (Christel van den Bergh), en oom Rossouw (Altus Theart) dood te maak. En ook toe hy daarna die enigste Viljoen was om vir sy pa in die tronk te gaan kuier.
Meer onlangs is dit Marco se verhouding met sy swemafrigter René (Marijke Coetser) wat die wenkbroue lig en die kwik laat styg!
Want René is in haar vroeë veertigs en Marco is in sy vroeë twintigs . . .
“Ons was altwee aanvanklik ’n bietjie skrikkerig, veral as dit gaan lyk of René vir Marco teiken. Maar nee, dit is gerusstellend dat dit Marco is wat gedurig agter René aanhardloop,” verduidelik Xander.
“Marijke is ’n ma en ek wou nie hê sy moet in ’n ongemaklike situasie geplaas word nie. En tannies moet ook nou nie dink ek is ’n opportunis nie,” sê hy.
Hulle het aanvanklik deur die riemtelegram gehoor dat daar moontlik ’n verhoudingstorielyn vir hul karakters voorlê.
“Met groot produksies soos Diepe Waters is daar ’n storie-Bybel. Daar kan ’n mens sien wat in die pyplyn vir jou karakters is,” verduidelik Xander.
“Ons het dus ’n idee gehad, maar toe dit wraggies in die tekste opkom, toe het ek en Marijke gesê: ‘Oukei, kom ons hê die gesprek. Kom ons praat lekker hieroor’.”
Dié proses het vir Xander as jong akteur baie beteken.
“Ek is dankbaar dat hierdie storielyn juis saam met Marijke was, want ons is beide baie gefokus daarop om professioneel te wees as ons toneelspeel,” vertel Xander.
“Ons het seker gemaak om met mekaar te gesels oor hoe ons beplan om ’n moeiliker toneel aan te pak. Ons was heeltyd in gesprek met mekaar oor waaroor ons gemaklik voel.”
Hy praat met groot lof van beide Werner Coetser (Jacques) en Marijke, wat in die regte lewe getroud is.
“Hulle het beide die uitgangspunt dat toneelspel werk is. Dit is vir hulle ’n prioriteit dat die storie goed en geloofwaardig is.”

Oor die onlangse gemor op sosiale media, bly Xander heel kalm.
“Een van ons lektore by PALI, die akteur Kaz McFadden, het altyd gesê: ‘Iemand moet Judas speel.’
“Dit is iets wat my bygebly het, want ons kan nie ’n mooi storielyn hê sonder iemand wat dit soms moeiliker maak nie.”

Hy voel bevoorreg dat hy by die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria kon studeer. Dis hier waar hy geleer het dat jy veral in die moeilike tonele jou fokus moet behou.
“Marco was veral in die begin ’n baie antagonistiese karakter. Ek het vir myself gesê: ‘Iemand daarbuite moet na Marco kyk en weet hulle ken iemand soos hy . . . of is dalk self Marco.’
“Dit was goed om te weet dat Marco gaan verander en dat kykers saam met hom op hierdie reis gaan en saam met hom groei.
“Ek geniet regtig die uiteenlopende storielyne, want dit gee my die geleentheid om seker te maak dat Marco nie stagneer nie. Dit is vir enige akteur ’n voorreg om ’n karakter te speel waarmee dinge gebeur waardeur jy kan werk.”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.


