Jan Hendrik van der Westhuizen is die eerste Suid-Afrikaner wat in 2016 ’n Michelin-ster ontvang het vir sy restaurant JAN in Nice, Frankryk. Sedertdien het JAN daarin geslaag om elke jaar sy ster te behou. Hy was vandeesweek Rian van Heerden se gas op Laataand by Rian.
Die gesprek het begin toe Rian wou weet wat Jan in Suid-Afrika maak, aangesien hy grotendeels in Frankryk bly. Sy antwoord het Rian heeltemal verras: “Somer in Frankryk en somer in Suid-Afrika is opposites. Dit maak sin as ek ses maande hier is en ses maande daar. Maar ek wil terugkom na my mense toe, my familie, vriende en my restaurante hier.”
Jan het vertel hoe sy pa altyd wou hê hy moet die trekkers op hul plaas bestuur, maar hy het nie daarin belanggestel nie. Sy sussie het daardie gedeelte oorgeneem. Hy het eerder die mielies by die koöperasie in die parkeerarea gaan smous. “Dit het ge-move. Ek het R1 ’n sakkie gekry. My pa het natuurlik R14 gevat, en ek het R1 gekry,” het hy laggend gesê.
Sy inspirasie vir kook kom van sy Ouma Hessie af. Jan het haar vereer deur ’n restaurant genaamd Maria regoor JAN in Nice oop te maak toe sy 92 was. “Sy was nog nooit uit die land gewees nie, en toe vlieg ek haar Nice toe om haar restaurant oop te maak. En sy het net gesit en huil en kyk na haar portret teen die muur,” het Jan vertel en effe emosioneel geraak.
View this post on Instagram
Die gesprek het later gedraai na JAN se Michelin-ster, en Rian het opgemerk dat dit seker moeilik moet wees om dit elke jaar te behou.
“Net toe ons die ster gekry het, het ek slaappille begin vat, want ek kon nie slaap nie. Dit is asof iets agter jou staan – jy’s bang vir ’n skaduwee. Elke jaar op 23 Januarie wag jy, en as daardie announcement deurkom en jou naam is nie gelys nie – dit is soos om elke jaar ’n rapport te kry en iemand judge jou konstant, elke dag van jou lewe. En dis nie ligte judge nie, dis soos jou besigheid is klaar. Ek het nou al vrede gemaak daarmee. Ek dink ek het nou al soveel gewys en gedoen saam met my span dat – weet jy wat ? Ek wil dit nou nie curse nie. Ek slaap lekker in die aand sonder enige pille,” het hy geantwoord.
Rian en Jan het daarna entoesiasties gesels oor die verskillende geregte op sy spyskaarte wat deur Suid-Afrikaanse disse geïnspireer is.
Daarna het Rian Jan met sy tweede gas, Deona van Vuuren, verras – die eienaar van Cape to Cuba in Kalkbaai, Kaapstad. Deona het vertel hoe haar restaurant in 1999 die eerste mojito in Suid-Afrika gemaak het. Sy het Kuba besoek en die resep daar gekry. Hulle het gesels oor die laaste gereg wat hulle eendag sou wou eet en hul liefde vir die gasvryheidsbedryf.
Rian se volgende gas is die kos-entrepreneur Ina Paarman, wie se produkte wêreldwyd beskikbaar is.
Laataand by Rian word Dinsdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Aktrise Marise Loots wil nes haar Diepe Waters-karakter, Selena ’n verskil maak
