Jan Combrink het ’n paar dinge gemeen met sy karakter in Die Toring. Net soos die aantreklike Theo Burger, is hy sportief en sê hy nie nee vir ’n uitdaging nie. Maar anders as Theo, wat op ’n plaas grootgeword het, lê Jan se wortels stewig in Kaapstad.
“Ek is ’n stadsjapie deur en deur,” sê Jan. “Ek was op Laerskool en Hoërskool Jan van Riebeeck, en al twee die skole was naby genoeg aan ons huis dat ek skool toe kon stap. Om in ’n stad soos Kaapstad te bly beteken natuurlik ook dat daar altyd iets was vir my en my gesin om te doen.”

Jan het ’n lewendige verbeelding gehad toe hy ’n kind was en het drome gehad om ’n vegvlieënier te word. “Ek was veral mal oor vliegtuie uit die Tweede Wêreldoorlog,” sê hy. “Ek het egter besef daardie droom was onrealisties, en ek het my verbeelding in ’n ander rigting gestoot, spesifiek teken en toneelspeel.”
Die toneelgogga het op hoërskool gebyt. “Ek was in 2017, toe ek in graad 11 was, deel van die produksie Die niks wat uiteindelik in die top-5 van die ATKV-tienertoneelkompetisie was. Ek het toe besef ek het die vermoë om toneelspel verder te vat.”
Jan het Hennie Stik in die dramareeks Juffrou X gespeel, maar sy groot deurbraak het gekom toe hy die rol van Tristan Field in die reeks Summertide losgeslaan het. Theo in Die Toring is sy eerste hoofrol in ’n Afrikaanse reeks.

“Die dag toe ek gehoor het ek het die rol gekry, het ek in ’n parkie naby my huis gaan sit en musiek luister. Dit was ’n oomblik van trots en dankbaarheid vir ’n nuwe hoofstuk van my lewe.”
Die Toring bestaan uit 90 episodes, en Jan het net die grootste lof vir sy medespelers. “Ons het ongelooflik goed saamgewerk en het later soos familie geword. Net om die stel met die ander spelers te deel, was die hoogtepunt.”

Jan is baie aktief, en sy groot belangstelling op die oomblik is gevegskuns. “Boks en Muay Thai is my gunstelinge. Nie dat ek binnekort in die kryt gaan klim nie, want ’n Jan met ’n blou oog gaan vreemd op kamera lyk,” sê Jan, wat ook modelwerk doen. “Ek het onlangs begin kitaar speel, wat vir my ’n nuwe stokperdjie is. Ek het nooit instrumente as kind gespeel nie, so hierdie is ’n lekker uitdaging.”
Hy het drome om saam met die regisseurs Nico Scheepers (Nêrens, Noord-Kaap, Donkerbos) en Jaco Bouwer (Niggies, Spinners) te werk. “Ek is mal oor hulle styl en dink hulle vat die Afrikaanse filmbedryf in ’n nuwe rigting. ’n Droomrol is beslis ’n cowboy. Ons land het soveel opsies vir daardie tipe stories, en as ek die geleentheid kry om ’n rowwe perderuiter te speel, is ek daar!”
Die Toring word Maandae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: ‘Hierdie werk is waar my lewenslig skyn’: Nichola Viviers oor haar deurbraakrol in Die Toring
