Skemergrond verwelkom ‘n nuwe gesig – en dié gesig is een wat kykNET-kykers reeds goed ken. Adrian Steyn, wat tans as Ryan Peterson in Die Toring te sien is, tree nou ook toe tot die wêreld van Skemergrond op kykNET & kie as die geheimsinnige Zander Conradie. Hy maak sy eerste verskyning op 27 Mei 2026.
Vir Adrian is dié tydperk een van die grootste seëninge van sy loopbaan: “Alhoewel die twee reekse nou gelyktydig uitsaai, het ek gelukkig reeds omtrent twee maande voor Skemergrond met Die Toring klaar gemaak,” vertel hy. “Anders sou dit rof gewees het. Ek ervaar hierdie hele tydperk niks anders as seëninge nie. Alle eer aan die Here dat ek nie net werk het nie, maar ook die geleentheid gekry het om twee uiteenlopende karakters kort ná mekaar aan te pak.”
Elke stel bring sy eie atmosfeer saam, en hy geniet dit om dié nuanses raak te sien. By Die Toring het die verskeidenheid buitelugopnames telkens ’n vars energie op die stel gebring en ’n besondere indruk op hom gelaat. By Skemergrond is dit weer ‘n ander wêreld. “Elke produksie het sy eie uniekheid, maar wat ek die meeste geniet, is die mense met wie ek werk,” sê hy.

Adrian se karakter in ‘Skemergrond’ is ‘n boer én prokureur (Foto:Verskaf)
Dit is ook nie die eerste keer dat Adrian terselfdertyd in twee reekse verskyn nie. Kykers onthou hom moontlik nog uit sy tyd op 7de Laan en Nikiwe, wat ook gelyktydig geskiet en uitgesaai is. Tog bly die ervaring vir hom besonders: “Ek onderskat nooit wat moontlik is nie,” sê hy. Kykers sal Adrian ook herken uit reekse soos Getroud met Rugby en Wyfie.
Maar wie is Zander Conradie presies? Adrian hou sy kaarte naby aan die bors. “Hy’s ‘n boer,” sê hy met ‘n glimlag, “en ‘n boer maak ‘n plan.” Wat wel uitkom, is dat Zander nie jou alledaagse plattelandse karakter is nie – hy is terselfdertyd ’n boer én prokureur, ‘n kombinasie wat Adrian self “nogals interessant” noem. Hy beskryf sy nuwe karakter in drie woorde: passievol, dapper en vol integriteit.

Adrian as Ryan Peterson in ‘Die Toring’. (Foto: Verskaf)
Teenoor Zander staan Ryan Peterson in Die Toring – ’n karakter wat volgens Adrian heelwat meer navorsing geverg het. “Ryan was moeiliker om aan te pak omdat hy homself in ’n hoë risiko, hoë beloning-omgewing bevind wat ek moes leer ken.”
Tussen die harde werk deur was daar ook ligte oomblikke – soos toe Adrian sy 30ste verjaarsdag op die stel van Die Toring gevier het. “Alhoewel ek die hele dag gewerk het, het hulle dit baie spesiaal gemaak.”
Vir Adrian is die belangrikste dat kykers die stories geniet. “Geniet die shows en onthou… dis net ’n storie,” sê hy laggend. En as hy kykers net één rede kon gee om in te skakel? “Vermaak op sy beste!”
Skemergrond word deur Penguin Films vervaardig en Die Toring deur Penguin Films se sustersmaatskappy, Paw Paw Films.
Skemergrond is elke Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) en Die Toring is elke Maandag om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
