Verskaf deur Penguin Films
Kykers het Cheryl eers onlangs ontmoet, maar die aktrise Robyn Rossouw het maande tevore reeds besef dié karakter gaan alles van haar vra.
Vir Robyn was die rol ewe intimiderend as opwindend. “Ek het vir my ma gesê: ‘O, nee. Nou moet ek dit behoorlik gaan doen, en voor almal op stel!’ Ek was sommer instantly moeg!”
Sy lag vandag daaroor, maar Cheryl was een van die mees veeleisende karakters wat sy nog aangepak het.
“Cheryl het so baie lae. Sy’s ’n ma, sy’s stil, sy’s deur baie trauma, en sy word maklik ge-trigger wanneer mense oor haar verlede praat. Dan raak sy defensive, en dit gebeur so vinnig.”
Selfs die oudisie was vir haar uitdagend, vertel sy, omdat Cheryl se emosionele kompleksiteit reeds van die eerste toneel af geloofwaardig moes wees.
Vir Robyn is Cheryl se aankoms besonder interessant omdat dit kykers uiteindelik iets van Ruan se verlede wys.
“Ons hoor nooit van Ruan se verlede nie, en nou pop Cheryl en haar dogter drie seisoene later op. Jy begin dadelik vrae vra.”
Haar karakter se motivering
Volgens Robyn word Cheryl deur twee dinge gedryf: haar liefde vir haar dogter en haar onvermoë om haar verlede in die oë te kyk.
“Sy’s ’n ma. Sy leef vir haar dogter. Sy probeer hard om vir haar ’n goeie lewe te gee. Maar sy hardloop ook gereeld weg. Sy face nie dinge nie – sy hardloop elke keer weg.”
Cheryl se aankoms in Gemoedsdrif plaas ook Ruan en Lily se verhouding onder druk en laat Lily al hoe meer twyfel.
“Lily ken nie Cheryl en Ruan se geskiedenis nie, so dit is maklik vir haar om suspicious te raak. Cheryl se teenwoordigheid toets of Ruan en Lily mekaar rêrig vertrou. Die goed waarmee hulle nie deal nie, kom nou aan die lig.”
Vir Robyn was die verhouding tussen Cheryl en haar dogter, Josie, die hart van die storie.
“Ek het al voorheen ’n paar keer ’n ma gespeel, maar hierdie keer was dit anders. Dalk omdat ek ouer is. Ek voel ek het meer van myself om te gee. Saam met Lamiyah Barnard, wat Josie speel, het daar ’n nurturingkant van my uitgekom. Sy het die hele ervaring besonders gemaak.”
Hoe Cheryl gestalte aangeneem het
In Robyn se vertolking van Cheryl het die grimeerkamer ’n sleutelrol gespeel.
“Waldi [van Rensbrug], Skemergrond se hoof van grimering en hare, het my op my eerste dag gevra hoe ék wil lyk. Ek was so geskok, want amper niemand vra dit nie. Ek het gesê ek wil geen grimering hê nie, en my hare moet natuurlik bly. Die kostuums was ook baie eenvoudig. Om so ‘kaal’ voor die kamera te wees, het my gehelp om Cheryl se kwesbaarheid te vind.”
Nie al die uitdagendste oomblikke het egter voor die kamera afgespeel nie.
“Ek was so in my kop. Ons moes ’n paar tonele doen waar Cheryl net wil weghardloop, en ek het ge-panic dat ek nie die intensiteit van die emosies sou regkry nie. Hildegardt Whites het my tussen takes net vasgehou. Elke keer wanneer hulle ‘Action!’ gesê het, kon ek sterker teruggaan. Ek was ongelooflik dankbaar vir haar.”
Behalwe die emosioneel moeilike dae was daar ook oomblikke wat haar kreatief uitgedaag het. Een daarvan was om saam met die regisseur Bobby Stuurman te werk.
“Ons doen eers die toneel soos dit geskryf is, en dan gee Bobby vir jou ’n heeltemal ander nota wat alles verander. Dit hou jou op jou tone en laat jou nuwe dinge oor jou karakter én jouself ontdek.”

Vir Robyn is Cheryl se aankoms besonder interessant omdat dit kykers uiteindelik iets van Ruan se verlede wys.
Hoewel sy nie veel oor Cheryl se reis wil verklap nie, hoop sy kykers sien die karakter se menslikheid raak.
“Ek hoop hulle dink sy is ’n goeie ma. Sy probeer regtig haar ou patrone breek. Sy mag dalk stubborn en bang wees, maar sy kom elke keer terug en probeer weer.”
Vir Robyn het haar Skemergrond-debuut uiteindelik veel meer beteken as net nog ’n rol.
“Dit het full circle gevoel. Ons het weer by Atlantic Studios verfilm, waar ek amper sewe jaar gelede met Arendsvlei begin het. Ek kon daardie 21-jarige Robyn weer sien wat destyds deur dieselfde gebou geloop het. Nou staan ek hier as ’n 28-jarige aktrise met baie meer ervaring en baie meer diepte. Ek het besef hoe ver ek gekom het. Ek het dit nodig gehad.”
Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Bennie Fourie en sy broers terug met Die Broer Toer
