Deur Maryke Roberts. Foto’s: Helena Fagan, Joan Ward, Paul Seaby, Lauge Sorensen en Fiona MacPherson
Leanè Theunissen is nie net ’n ballerina nie; sy is ’n kunstenaar wat reeds 11 jaar lank professioneel op die verhoog mense betower. As deel van die opwindende geselskap Cape Ballet Africa (CBA) bring sy ’n vars energie na die Suid-Afrikaanse danswêreld: van die eteriese Giselle en die betowerende Nutcracker tot die tydlose grasie van Swan Lake. Leanè het reeds haar stempel op die wêreld se mees ikoniese ballette afgedruk en saam met internasionale sterre soos Brandon Lawrence gedans.
Sy glo in ’n gebalanseerde lewe. Benewens haar ongelooflike dissipline op die verhoog, spog sy met ’n BCom-graad in bemarking en sakebestuur, is sy ’n gekwalifiseerde Pilates-instrukteur, en sy verdiep haar tans in sielkundige berading.
- Leanè Theunissen (Foto: Helena Fagan)
- (Foto: Joan Ward)
CBA, wat in 2024 deur die bekende danspersoonlikheid, Debbie Turner gestig is, is ’n viering van Afrika-identiteit binne die klassieke ballettegniek. Dit is ’n plek waar tradisie en vernuwing mekaar ontmoet – dink aan die bekroonde choreografie deur Mthuthuzeli November.
CBA maak reeds internasionale golwe! Mthuthuzeli se Chapter 2 het in 2025 by die gesogte Benois de la Danse-toekennings twee kategorieë gewen, terwyl die geselskap ook benoemings by die Kanna- en Naledi-toekennings ingepalm het.
Die opleiding en opvoeding van jong professionele kunstenaars wat saam met meer ervare kunstenaars werk, is ’n sleutelfokus vir CBA. Die maatskappy het onlangs sy eerste vakleerlingskap in die Wardrobe-afdeling geïmplementeer, ter erkenning van die belangrikheid daarvan om die volgende generasie kunstenaars agter die skerms sowel as op die verhoog op te lei.
Creation Wines se kortfliek, “Cebrating the ‘culture’ in Agri-Culture”, is met ’n silwer toekenning by die International Tourism Film Festival Africa bekroon. Die fliek was ’n samewerking tussen Creation Wines, die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, Cape Ballet Africa, die modeontwerper Kat van Duinen en die komponis Peter Johnson.

Leanè Theunissen en Solomon Osazuva in Cape Ballet Africa se ‘Giselle’. (Foto: Helena Fagan)
Vir Leanè is ballet meer as ’n beroep; dit is ’n skool vir lewensvaardighede. Sy moedig jongmense aan om hul drome met grasie en oortuiging na te jaag.
Moenie die kans misloop om Leanè en die geselskap in aksie te sien nie. Sy speel verskeie rolle, waaronder die hoofrolle van Giselle en Odile in Giselle en Swan Lake onderskeidelik.
- Van 7 Augustus bied Global Star Events en Cape Ballet Africa Swan Lake by Teatro, Montecasino, Johannesburg, aan. Bespreek by Webtickets.
- Elysium is van 3 Oktober by die Baxter in Kaapstad as deel van CBA se lente-seisoen te sien. Besprekings open eersdaags by Webtickets.
- In November is Giselle by die Adam Small-teater, Stellenbosch, te sien.

Leanè in ‘Giselle’ (Foto: Fiona MacPherson)
Leanè vertel meer:
Leanè, jy dans reeds 11 jaar lank professioneel. As jy terugkyk na jou jonger self wat net begin het, wat is die een les oor die balletwêreld wat jy wens jy toe reeds geweet het?
In die balletwêreld, soos in die lewe, lyk elkeen se pad anders. Party kry gou goeie geleenthede, ander wag jare. Party groei vinnig, ander blom soos wat hul lewenservaring groei. En elkeen het tye van voorspoed en teenspoed. Om jou pad en jou tydlyn te vergelyk met ’n ander s’n bring meer ongeluk as vreugde. Dit verhinder jou selfs soms in wat jy persoonlik wil bereik. Fokus om jou beste te doen in elke geleentheid wat voor jou geplaas word en vertrou dat die pad sal loop presies soos wat dit moet.
Jy het al die groot klassieke rolle soos Giselle en Swan Lake vertolk. Hoe balanseer jy die streng eise van klassieke tegniek met die emosionele vryheid wat nodig is om hierdie karakters lewe te gee?
Om emosie en tegniek te balanseer, kan baie moeilik wees veral op dae waar jou lyf dalk moeër voel of jou battery net nie op ’n 100% hardloop nie. ’n Mens moet leer om die tegniese aspek te vertrou. Ons oefen elke dag om beweging te verfyn en die menslike liggaam is wonderlik ten opsigte van hoe repetisie jou spiere leer om oor en oor dieselfde ding op dieselfde manier te kan doen. Op die verhoog moet jy vashou aan dit en jouself in die emosie inleef. Soms, in baie spesiale oomblikke, dryf die emosie inteendeel harder as die tegniek. Ek weet byvoorbeeld dat ek beter optree wanneer ek op die storie fokus en nie op wat my lyf doen nie. Die belangrikste wanneer dit by emosionele vryheid kom, is om egte emosie uit te beeld pleks van te probeer om net sekere gesigsuitdrukkings uit te beeld.
- Leanè Theunissen en Denys Cherevychko in Cape Ballet Africa se ‘The Nutcracker’. (Foto: Lauge Sorensen)
- Leanè Theunissen in Cape Ballet Africa se ‘Giselle’. (Foto: Helena Fagan)
Cape Ballet Africa word beskryf as ’n organisasie wat “trots Afrika” is. Hoe beïnvloed hierdie fokus op identiteit en kultuur die manier waarop jy jou kuns op die verhoog benader?
Ek is mal oor die diversiteit wat ons in CBA het. Dansers van elke agtergrond en kultuur het ’n geleentheid om ’n plek te vind, en dis iets om op trots te wees. Kultuur en identiteit kan vrylik uitgedruk word in die kind wat gelewer word en daar is nie ’n verwagting van een om presies soos die ander te wees nie. Dit skep ’n diverse eenheid onder die dansers wat in min plekke gevind word.
Benewens jou dansloopbaan het jy ’n BCom-graad en studeer jy tans berading. Hoe help hierdie akademiese rigtings jou om ’n meer afgeronde kunstenaar te wees, en hoe hanteer jy die druk van so ’n besige skedule?
Kunstenaars moet leer van die wêreld om hulle, want dit is wat uitdrukking gee tot diep emosie. In die lewe is ons almal geneig om in ons eie klein groepies te bly en te funksioneer, maar dit maak ons nie ryker as mense nie. As ons uitbrei, ander leer ken, oor goed wonder wat ons nie alledaags teëkom nie, ontketen dit ’n waardering vir mense en die lewe. Dieselfde is waar vir my loopbaan: die kennis wat ek buite opbou dra by tot ’n dieper en ryker loopbaan, want ek word blootgestel aan goed buite my klein balletboksie. Dit is moeilik om goeie balans tussen alles te vind en nie altyd moontlik nie: die studies trek soms ongelukkig so bietjie aan die agterspeen, maar ek sou dit nie anders wou doen nie.
Ballet word dikwels gesien as ’n wêreld van uiterste dissipline en opoffering. Wat is die grootste vreugde of “geestelike beloning” wat jy uit die kuns vorm put wat die harde werk die moeite werd maak?
Daar is min plekke in die lewe waar ’n mens vry voel om al jou maskers af te haal en ten volle jouself te wees. Vir my is die verhoog een van daardie plekke en dis absoluut ’n geskenk van Bo. Ek dink ons almal wonder soms waar ons inpas of waar ons veilig is om onsself te wees, so om gereeld daardie vryheid te ervaar is al die opoffering werd. Dis ook absoluut ’n voorreg om kuns te kan uitbeeld wat ander toelaat om diep te voel.

(Foto: Joan Ward)
CBA fokus sterk op die opleiding en opheffing van jong kunstenaars. Waarom dink jy is dit belangrik dat die volgende generasie juis nou ballet as ’n lewensvatbare loopbaan in Suid-Afrika moet oorweeg?
Ons wêreld as geheel is in ’n interessante geskiedkundige tydperk met die opkoms van KI en oorlog. Maar ons moet waak daarteen om ons menslikheid te verloor. Kuns het menslike kunstenaars nodig. Ware kuns is nie ’n perfekte, masjien-gemoduleerde produk nie. Dis iets wat so bietjie gebroke is sodat dié wat dit aanskou hul eie gebrokenheid in die gesig kan staar. Dis belangrik dat ons nie alle aspekte van ons menswees tussen masjiene en geweld verloor nie.
Watter raad het jy vir ’n jong aspirant-ballerina wat dalk voel sy pas nie in die tradisionele “ballet-boksie” nie, maar droom van ’n plek op die verhoog?
Ek het nog nooit in die tradisionele “ballet-boksie” gepas nie, maar ek het ’n droom, vasberadenheid en hardwerkendheid in my gereedskapkis gehad. Moenie laat mense vir jou voorskryf wat moontlik is of nie. Hardloop jou drome na met alles wat jy het en wie weet waar dit gaan eindig. Ek glo dat God ons elkeen met talente en gawes geskep het en Hy doen graag die onverwagse en onmoontlike in ons lewens. Drome kom nie altyd tot vrug nie, maar as ons voluit gaan, eindig ons altyd op waar ons moet.
Lees ook: Orpheus is geen klassieke ballet nie




