Deur Maryke Roberts. Foto’s: Brenda Veldtman en Lindsey Appolis
As jy dink klassieke ballet gaan net oor dromerige swane en tragiese eindes, dink weer. Hierdie winter draai die Cape Town City Ballet dinge behoorlik op hul koppe met ’n vonkelende, komiese produksie van Orpheus in the Underworld. Van 12 tot 21 Junie 2026 verander die Kunstekaap Operahuis in ’n ryk van pure vermaak, skelms en 1920’s-glans.
Vergeet van die tradisionele, hartseer Griekse mite. In die hande van die gevierde Suid-Afrikaanse choreograaf Veronica Paeper, kry hierdie storie ’n heerlike, aweregse kinkel. Wanneer Eurydice saam met die aantreklike Pluto weghardloop, is Orpheus glad nie hartgebroke nie! Die gode besluit egter om in te meng, en wat volg is ’n uitgelate reis deur Olympus en Hades.
Die produksie speel af in die stylvolle 1920’s. Verbeel jou die betowerende 1920-glans, Mafia-intriges, swembad-streke en ’n dekadente nagklub in die Onderwêreld. Die manjifieke dekor en kostuums is ontwerp deur Peter Cazalet, met moderne oudio-visuele effekte deur Kirsti Cumming.

Hannah en Elvis Nonjeke (Foto: Lindsey Appolis)
Hannah Ward wissel die rol van Eurydice met die geselskap se hoofballerina, Kirstél Paterson, en Isabella Blair af. Sy dans ook om die beurt die rol van Calliope (Orpheus se onstuitbare ma) saam met Caitlin Smith en Kirstél Paterson.
Hannah is ‘n gebore en getoë Durbaniet en het haar opleiding onder die bekende mentors Winsome Fuller en Yvonne Barker ontvang. Sy is vir drie agtereenvolgende jare deur die Vriende van die Kaapstadse Stadsballet as Beste Vroulike Kunstenaar aangewys en het Suid-Afrika in gesogte internasionale kompetisies verteenwoordig, insluitend die Cecchetti Internasionale Balletkompetisie (2014) en die Genée Internasionale Balletkompetisie (2012).
Haar repertoire sluit hoofrolle soos Juliet, Aspoestertjie, Carmen, Odette/Odile in Swanemeer, Giselle in Giselle, Swanhilda in Coppélia, en die Suikerpruimfee in Die Neutekraker in. Sy het ook Mina en Lucy in Dracula, Donker Engel in Balanchine se Serenade, en die Eerste Vioolrol in Balanchine se Concerto Barocco vertolk.
Benewens haar balletloopbaan, het Hannah ook ’n graad in rekenaarwetenskap van die Universiteit van Londen behaal.
Hannah vertel sy is opgewonde oor haar rol in Orpheus in the Underworld. “Die ballet is deur Jacques Offenbach se ikoniese komiese operette geïnspireer, en kry ‘n nuwe, prettige lewe deur ’n lewendige orkesverwerking deur Michael Tuffin. Die Kaapse Filharmoniese Orkes, onder leiding van Brandon Phillips, sal die gehoor meevoer (behalwe tydens die middae van 13 en 14 Junie).
- Hannah as Eurydice met Leusson Muniz as Plato (Foto: Lindsey Appolis)
’n Skitterende span dansers bring hierdie uitgelate wêreld na die verhoog: Orpheus word om die beurt gedans deur Leusson Muniz, Axton Green en Caesar Elsner. Pluto word om die beurt gedans deur Zachary Healy, Axton Green en Leusson Muniz.
Daar is ook spesiale gasverskynings deur voormalige Cape Town City Ballet se hoofdansers Laura Bösenberg en Johnny Bovang as die Grootouers (met Bovang ook as Jupiter), en die teater-akteur Gregan Aherin as Offenbach self.
Daar is slegs ses vertonings hierdie seisoen, so bespreek jou kaartjies nou by Artscape Dial-A-Seat (021 421 7695) of aanlyn via Webtickets.

Hannah Ward
Hannah vertel meer:
Hoekom wou jy ‘n professionele ballerina word?
Ballet het ’n ongelooflike mengsel van dissipline en kunstigheid. Die uitdaging, die storievertelling en die manier waarop beweging uitdrukking kan gee wat woorde nie kan nie, maak dit ‘n diep vervullende kunsvorm. Ek onthou nog hoe mal ek daaroor was om saam met my ballet-onderwyser aan iets te werk en die beloning van vooruitgang te voel, maak nie saak hoe klein nie. Die paar oomblikke wat ek op die verhoog gehad het, met die gehoor in donker lig, het amper soos ‘n ontsnapping gevoel – ‘n soort vryheid wat ek nog nie voorheen gevoel het nie.
Orpheus in the Underworld breek bietjie weg van die tradisionele ballet. Wat is vir jou as ballerina lekker aan hierdie aweregse storie?
Ek vind myself al hoe meer aangetrokke tot nie-tradisionele storieballetopvoerings. Ek is mal oor hoe slim Orpheus in the Underworld geskryf is. Veronica Paeper vertel die storie so duidelik deur die beweging en musiek. Die passies en musiek is só goed geïntegreer dat die storie baie natuurlik lewendig word, sodat ons as dansers niks ekstra daarop hoef af te dwing nie.
Ek is ook mal oor die humor daarin. Dis baie snaaks, maar ook genuanseerd, en ek dink komedie kan eintlik baie moeilik wees om te doen, want dit kan nie te geforseer of oordoen voel nie. Om daardie balans te vind tussen teatraal wees en steeds outentiek voel, was baie interessant om te verken.
- ‘Orpheus in the Underworld’ se repetisies (Foto: Brenda Veldtman)
Jy dans twee rolle in die ballet. Watter uitdagings bring dit vir jou as danser en wat geniet jy daaraan?
Die grootste uitdaging is dat albei rolle baie verskil van karakters wat ek voorheen gedoen het, so hulle stoot my beslis uit my gemaksone.
Calliope is baie netjies en konserwatief en verteenwoordig die openbare mening, maar sy het ook hierdie komiese kant aan haar. Wat nogal misleidend is omtrent die rol, is hoe presies die voetwerk eintlik is, al kan die karakter soms los en moeiteloos voorkom.
Eurydice is ook baie geanimeerd en ekspressief, veral rondom Pluto, en dit was nuut vir my. Ek is geneig om redelik teruggetrokke met ‘n nuwe karakter te begin. Dit neem tyd vir my om dit te internaliseer en vir die karakter om sin te begin maak langs die beweging en die dialoog wat ek in my kop skep. Sodra dit outentiek begin voel, geniet ek dit regtig om in ’n sterker karakter te ontwikkel. Die kostuums help ook so baie om albei tot lewe te bring.
Wat inspireer jou steeds in hierdie beroep?
Om te sien hoe beweging musiek tot lewe bring, te ontdek waartoe die menslike liggaam werklik in staat is, en die nimmereindigende strewe na verfyning. Daar is altyd meer om te leer, meer om te verken, en daardie konstante evolusie is ongelooflik inspirerend.
- ‘Orpheus in the Underworld’ se repetisies (Foto: Brenda Veldtman)
Wat beteken ballet vir jou, in die moderne én klassieke wêreld?
Ballet is vir my suiwer en tydloos. Dit dra ‘n verfynde elegansie, maar het ook hierdie ongelooflike vermoë om jou siel te beweeg. Of dit nou in sy mees klassieke vorm is of die grense in moderne werke verskuif, dit gaan altyd oor verbintenis – tussen die kunstenaar, die gehoor en die musiek.
Wat sou jy sê vir iemand wat met ballet wou begin?
So cliché as wat dit klink, onthou hoekom jy daarvan hou. Dis wat jou deur die moeilike dae sal dra. Iets wat ek later in my loopbaan geleer het, is die belangrikheid van kruisopleiding. Om na jou liggaam buite die ateljee om te sien, sal jou net sterker daarbinne maak.
Wat is die beste herinnering wat jy van ballet of die verhoog het?
Ek sou sê wanneer gevoelens van opgewondenheid voordat jy op die verhoog stap, enige gevoelens van vrees oorheers. Wanneer ek amper minder bekommerd is oor die uitkoms van die opvoering, maar eerder net dankbaar is om dit te doen.
Is daar enige stigmas rondom ballet wat jy wens kon verdwyn?
Absoluut. Dat jy ’n sekere lengte of bou moet wees om te slaag – ballet moet verskillende liggaamstipes vier. En ook die idee dat dit nie ’n “regte” werk is nie. Ballet vereis net soveel toewyding en professionaliteit as enige loopbaan, en dit verdien om as sodanig erken te word.
Lees ook: Kinders moet van kleins af by klassieke musiek betrek word





