Suidooster se geheimsinnige nuwe apteker gaan die poppe laat dans!
Die nuwe apteker wat pas ingeval het by Aalwyn Apteek in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt die kykNET-sepie Suidooster afspeel, is beslis nie ’n poppie wat sonder handskoene aangevat moet word nie.

Simone Neethling as die nuwe apteker, Ava Philips (Foto: Wilmer Muller)

Suidooster-sterre Nazeem Jacobs en Ava Philips (Foto: Wilmer Muller)
Dit word gou duidelik dat daar veel meer aan Ava Philips (Simone Neethling) is as wat ’n mens op die eerste oogopslag sou dink. Sy’s mooi, selfversekerd, slim en boonop geheimsinnig … En Ava trek aandag waar sy ook al gaan. Selfs die uitgeslape Nazeem Jacobs (Irvine van der Merwe) kan nie sy oë van haar af hou nie.
Meer oor Simone
Vir Simone, wat al in produksies soos die kykNET & kie-telenovela Arendsvlei en die kykNET-drama Een keer om die son te sien was, het haar rol in Suidooster vir haar ’n opwindende nuwe deur oopgemaak. Hierdie is haar eerste groot sepie-rol en volgens haar ook haar eerste behoorlike volwasse rol.
“Vir die grootste gedeelte van my loopbaan het ek karakters gespeel wat in die ouderdomsgroep van sowat 16 tot 22 val. Ek is nou gereed vir die bedryf om my in ’n meer volwasse lig te sien,” sê Simone.

Sy beskryf haar tyd op Suidooster as ’n ongelooflike ervaring en sê dit was “’n vreugde” om vir meer as twee maande elke dag werk toe te kon gaan. “Ek is baie opgewonde oor wat hierdie rol vir my beteken, en ek is opgewonde oor wat in die toekoms vir my voorlê,” sê sy.
