Die verkwiklike Kokkedoor – een van Suid-Afrika se gewildste koswerklikheidsreekse – is op pad terug na die kassie. Sedert 11 April 2013 inspireer Kokkedoor kykers om sommer self agter die potte en voor die vlamme in te skuif, en nou word jy hartlik uitgenooi om vir die volgende seisoen in te skryf.
Die oorspronklike formaat het sedertdien ’n paar kinkels en ontrimpelings ondergaan, maar die gees van die reeks het dieselfde gebly, en die program het net al hoe gewilder geraak.
In die mees onlangse seisoen, Kokkedoor: Son & See, het kykers kennis gemaak met familielede wat in spanverband teen ander moes kompeteer. Die generasiegaping van 20 jaar tussen die twee spanlede het vir baie interessante gesprekke en benaderings tot disse gesorg. Voor dit was daar twee seisoene van Kokkedoor: Vuur & vlam, waarin onthoukokke en kinkelkokke in spanne meegeding het met geregte wat hulle in, op, onder en naby vlamme of kole moes gaarmaak.

Kokkedoor Son en See – Hanna en Dirk van der Westhuizen
Maar Suid-Afrikaners braai nie net nie, hulle bak en brou ook al te lekker – soos met Koekedoor (vir volwasse deelnemers) en Kokkedoortjie en Koekedoortjie (vir die kleinspan) bewys is. Die resep vir sukses in die Kokkedoor-kombuis bestaan uit entoesiasme, kooktalent, vernuf en ’n stywe skeut vindingrykheid: daardie vermoë om buite die boks te dink.
Is jy die een wat erfenis-resepte nuwe lewe kan inblaas en kan herverbeel tot iets ongeloofliks? Of is jy die een wat ouma se voosgevatte resepteboek soos goud bewaar en tot op die letter vir jou geliefdes daaruit kook, juis omdat jy dit so goed onthou? In beide gevalle is jy dan die mens waarna Kokkedoor op soek is.
Wat hierdie seisoen ekstra spesiaal gaan maak, is dat Kokkedoor weer terugkeer na die oorspronklike formaat, maar nie sonder onverwagte kinkels in die kabel nie. Kokkedoor: Klassiek gaan inspireer met tydlose kookkuns, en deelnemers tot op die uiterste in die kombuis beproef.
Die vuurwarm soektog na hierdie seisoen se tien onthoukokke en tien kinkelkokke skop nou af. Moenie huiwer nie. Hierdie is dalk jou kans.
Prysgeld
Daar is ’n miljoen redes om in te skryf – in die vorm van R1 miljoen se prysgeld vir die wenspan. En daardie gesogte Goue Haan wat weer ’n nuwe adres soek.
Skuif gou die potte opsy, haal die tjoppie van die vuur af, sit die foon neer en doen wat jy moet doen, want dis nou tyd om in te skryf.
Wat is die verskil tussen onthou- en kinkelkokke?
Onthoukokke is diegene wat ’n onblusbare fakkel vir onthoukos dra. Selfs al beskik jy oor ’n huishoudkunde-graad of het ervaring in ’n braairestaurant opgedoen, kan jy vir hierdie kategorie inskryf. Geen formele opleiding of professionele ervaring word vereis nie, solank jy ’n kennis en passie het vir onthoukos – soos ma en ouma dit gemaak het.
Kinkelkokke moet ’n kwalifikasie as sjef hê of oor professionele kombuis-ervaring (uitgesluit koffiekroeg-ervaring) en uitstekende tegniese vaardighede beskik. ’n Kinkelkok hoef nie tradisie te verwerp en alles wat byderwets is te omhels nie, maar die vermoë om kreatief te herskep is van deurslaggewende belang.
Spanwerk
Elke span bestaan uit ’n kok vanuit een van hierdie kategorieë. Die beoordelaars let op hoe goed en naatloos spanne met uiteenlopende vaardighede hul koppe (én disse) bymekaar kan sit. Soms sal daar ook spanmaats geruil word. Spanwerk bly deurentyd een van die belangrikste aspekte.

Kokkedoor Son en See – Hanna van der Westhuizen
WAT OM TE WEET AS JY WIL INSKRYF
1. Jy moet:
- Ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie
- ’n Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wees met ’n geldige ID-dokument
- Jy kan nie as deel van ’n span inskryf nie
2. Kan ek inskryf, selfs al het ek kookkursusse gedoen?
- Absoluut. Ons gaan tradisionele kokke én ervare, kreatiewe sjefs kies om aan Kokkedoor: Klassiek deel te neem.
3. Wie moet inskryf vir Kokkedoor?
- Enigiemand wat dink hy of sy kan goeie onthoukos kook, of kreatief met kos omgaan, moet inskryf. Dit maak geensins saak of jy baie, selfs min of geen, opleiding of ondervinding het nie.
4. Waar word die oudisies gehou?
- Oudisies sal in Kaapstad gehou word gedurende die week van 21 tot 23 Julie 2026.
Hoe om in te skryf:
- Kry die inskrywingsvorm by kyknet.tv of stuur ’n e-pos aan navrae@kokkedoor.tv en ’n inskrywingsvorm sal aan jou gestuur word.
- Stuur dan die voltooide inskrywingsvorm met jou antwoorde en foto per e-pos aan navrae@kokkedoor.tv terug.
- Enige verdere vrae kan ook aan navrae@kokkedoor.tv gerig word.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is middernag, 12 Julie 2026.
