Deur kykNET verskaf
In die eerste episode van Beter as Gister word vier vaders, elk met hul eie uitdagings en bagasie, in die kollig geplaas. Almal staan voor keuses wat nie net hul eie toekoms nie, maar ook dié van hul gesinne kan bepaal.
Ons kyk na vier belangrike lesse uit die eerste episode en bespiegel oor wat moontlik verder in hierdie boeiende dramareeks kan ontvou.

1. Die verlede het ‘n manier om jou weer in te haal
Tariq (Elton Landrew) se lewe neem ‘n dramatiese wending wanneer hy hoor dat sy vervreemde dogter in ‘n tragiese motorongeluk gesterf het. Sy laat haar sewejarige dogter, Katinka (Alexis Newman), agter. Wat begin as verpletterende nuus, skep ook ‘n onverwagte geleentheid vir versoening. Skielik kry Tariq die kans om weer ‘n band te bou met familie wat hy geglo het vir altyd verlore was.
2. Vaderskap vra dikwels opofferings wat niemand raaksien nie
Marco (Neels van Jaarsveld) het sy loopbaan vir ‘n dekade op die agtergrond geplaas om sy kinders groot te maak, terwyl sy vrou, Cecile (Rolanda Marais), haar politieke loopbaan uitgebou het. Noudat die kinders ouer is, probeer hy sy plek in die arbeidsmark herwin, maar die pad terug na professionele sukses is nie sonder uitdagings nie.
3. Vertroue bly die hoeksteen van elke gesin
Eben (Edwin van der Walt) het hard gewerk om vir sy dogter ‘n veilige en stabiele lewe te skep. Sy wêreld word egter omvergewerp wanneer haar biologiese ma na Suid-Afrika terugkeer en weer deel van haar lewe wil wees. Hoewel die moontlikheid van twee betrokke ouers voordelig kan wees, maak ou wonde en onafgehandelde emosies die besluit uiters kompleks.
4. Onopgeloste konflik kan verreikende gevolge hê
Bernard (Frank Rautenbach) lyk asof hy alles het waarvoor ‘n mens kan wens, behalwe vrede by die huis. Sy verhouding met sy tienerseun, Reynard (Sebastian van Niekerk), versleg al hoe meer totdat emosies oorkook. ‘n Gespanne konfrontasie oor Bernard se beweerde verhouding met ‘n kollega lei tot gebeurtenisse wat hul lewens onherroeplik verander. Die episode eindig met ‘n skokkende motorongeluk wat die verloop van hul familie se toekoms kan bepaal.
Wat wag in Episode 2?
Die tweede episode fokus op die emosionele nagevolge van die verwoestende ongeluk. Tariq begin die eerste treë gee om ‘n verhouding met Katinka te bou terwyl Eben worstel met die vraag of hy sy dogter se ma weer in hul lewens moet verwelkom. Marco bly vasberade om sy loopbaan te herbou ondanks teenstand op die tuisfront. Intussen moet Bernard en Reynard die gevolge van hul optrede in die gesig staar.
Kyk Beter as Gister vanaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.
