Verskaf deur kykNET
Hy was definitief ’n klein bietjie op sy senuwees toe hy ná ’n jaar vir die eerste keer weer op die stel van Diepe Waters stap.
Maar toe akteur Righard van Jaarsveld eers ’n hele paar bekende gesigte sien en in sy geliefde karakter Tommie se skoene klim, was dit asof hy nooit weg was nie.
“Daar is ’n vorm van gemak as jy iemand op stel kry saam met wie jy lank gewerk het,” vertel Righard. “Daar was ’n kinderlike opgewondenheid om almal weer te sien.”
Boonop is daar ’n paar nuwe akteurs wat ook nou deel van die gewilde telenovela is, wat die stel interessant en genotvol maak.
“Toe ek aanvanklik die rol in 2022 gekry het, was dit een van my eerste groot projekte. Dit het heeltyd ietwat onwerklik gevoel, waar ek elke dag werk toe kon gaan en doen waarvoor ek lief is,” verduidelik Righard.
“Nou voel dit of ek Tommie kan gebruik om van my werklike lewe te ontsnap. Ek kan Tommie wéés en dit is een van die lekkerste karakters om te speel, want hy is so naïewe mens wat dikwels so min probleme het.”
In die tyd wat Righard weg was, het hy onder andere in groot produksies soos die Showmax-reeks Reënboogrant en fliek Som van twee gespeel. Hy moes ook grootword, soos “enigiemand moet doen wat net deur die lewe gaan.”
Dus klim hy nou in Tommie se wêreld en kan hy al die persoonlike dinge van sy regte lewe weg van die kameras los.
“Tommie sien die mooi in die wêreld en mense sien nie altyd die mooi nie, want die lewe is mos maar ’n bietjie deurmekaar.”
Diepe Waters-kykers kon uitsien dat Tommie en Tshepo (Johnny Potsanyane) nie te lank ná mekaar weer in Boskruin opdaag nie.
Het dié boesemvriende dit so beplan?
“Nee, ons het dit definitief nie bespreek nie,” lag Righard. “Maar ons het gelag. Ons het saam Diepe Waters gekry, is toe saam uit, speel toe saam in Reënboogrant, en nou is ons weer saam in Diepe Waters.”

Deesdae is Righard ook hard besig om aan ’n konstruksiemaatskappy saam met sy pa te werk.
“Ek het grootgeword in ’n huis van konstruksie: My pa is ’n boukontrakteur en my broer is ’n argitek,” verduidelik Righard. Vakansies sou hy uithelp, maar dit is eers ná Reënboogrant verlede jaar klaargemaak het, waar hy sy opsies werklik begin oorweeg het.
“Ek het agtergekom ek wil iets doen wat my ’n bietjie meer aan die gang hou, iets wat vir my skoonheid bring weg van my bedryf af.”
Sodoende het hy Januarie vanjaar saam met sy pa in besigheid gegaan en is dit waar hy werskaf as hy nie voor die kameras is nie.
“My pa gun my die wêreld. Die dae wat ek skiet, gun hy my die af dae, en as ek vroeg klaarmaak, dan trek ek my gumboots of steel tips aan en gaan na ’n perseel toe,” vertel hy.
Voor die kamera bou en beitel Righard nou weer aan Tommie se lewe; een vol interessante storielyne wat kykers sal vermaak.
“As ek hom speel, vergeet ek van al my persoonlike goed en kan ek net asemhaal. Tommie bly Tommie en ek dink nie ons moet hom verander nie,” verduidelik Righard met ’n glimlag.
Alhoewel Tommie bekend is as die komiese verligting van die reeks, gaan sy terugkeer hierdie keer met groot innerlike konflik gepaard. Hy daag onverwags op in Boskruin en bied dadelik aan om Juvan uit te help by die nuut-oorgedoende kroeg, Bianca’s. Hy hou vol hy is bloot op ’n welverdiende vakansie van sy mediese studies af, maar kykers sal vinnig agterkom dat die skyn bedrieg. Enige samesprekings oor sy blink toekoms as ’n “ryk dokter” laat hom sigbaar senuweeagtig.
Die chaos verdiep wanneer Tommie agter Bianca’s se toonbank begin werskaf. Dit is gou duidelik dat mediese handboeke hom nie voorberei het op die kuns van kroegwerk nie. Hy skryf vreemde beskrywings in plaas van tafelnommers op bestellings en gee kliënte selfs ongevraagde (en ietwat ongemaklike) mediese advies.
Met die koms van sy streng pa, Henno, wat dink kroegwerk is ver benede sy slim seun, begin die spanning breekpunt bereik. Die groot vraag is hoe lank Tommie sy geheim kan bewaar, veral wanneer ’n skielike mediese noodgeval in die kroeg almal na “Dokter Tommie” laat kyk vir hulp. Kykers sal maar moet inskakel om te sien hoe Tommie homself uit hierdie diep waters gaan probeer uitstoei.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Lees ook: 4 lesse wat ons uit ‘Beter as Gister’ se eerste episode geleer het
