Verskaf deur VIA
Ná afloop van ’n suksesvolle eerste seisoen, is dit weer tyd vir Die Wynmeester op VIA om die land se onafhanklike Suid-Afrikaanse wyntalent te ontkurk en te laat asemhaal, net soos ’n goeie wyn dit verdien.
Die seisoen gaan wel oor veel meer as net die kuns om ’n wyn te skep waaroor almal praat. Daar word gesels oor die voorbereiding van grond, die rol van besproeiing en hoe daar op versnitte besluit word. Selfs die bottels, kunswerk en subtiele boodskappe van wynetikette word bespreek.
Die aanbieder is ’n bekende gesig, en vir diegene in die Helderberg-streek in die Wes-Kaap ook ’n bekende stem. Dis weer Danie van der Merwe en hy gaan die reis van ses onafhanklike wynmakers met hope talent met die kykers deel – van die wingerd tot die bottel en wat ook al tussendeur op daardie reis mag gebeur.
Die Wynmeester vier die mense wat met hul vakmanskap en kreatiwiteit ’n nuwe generasie Suid-Afrikaanse wyne vorm.
In die tweede seisoen word daar selfs nog dieper in die fynere kuns van wynmaak gedelf. Kykers gaan meer leer oor terroir, kultivars, fermentasie, kos-en-wynparing, sosiale media, verkope en markposisionering – en dit gaan gewis vir interessante en insiggewende gesprekke oor ’n glasie wyn sorg.
DIE SES ONAFHANKLIKE WYNMAKERS
- Andrew Mellish: Mellish Family Vineyards
Andrew is die eienaar en wynmaker van die boetiekwynprodusent Mellish Family Vineyards in die Durbanville-wynvallei wat bekend is vir terroirgedrewe wyne wat deur antieke skaliegronde en ’n koel kusklimaat gevorm word.

- Andri Hanekom: DA Hanekom Familie Wyne
DA Hanekom Familie Wyne is ook in die Durbanville-area geleë en dié etiket is gebou op ’n diep respek vir terroir en menslike inspanning. Ná ’n dekade se werk met wingerde en druiwe oor die Kaapse Wynland heen, fokus Andri en sy vrou, Yvette, op wyne wat in beperkte volumes gemaak word.

- Anrico Solomons: Solomons Family Wines
Anrico verteenwoordig Solomons Family Wines en hy bring die koelklimaat-invloed van Strandveld Cellar naby Elim en Kaap Agulhas na die kompetisie. As ’n jong wynmaker wat in Afrika se mees suidelike wynstreek werk, is Anrico deel van ’n span wat wyne maak wat gevorm word deur maritieme winde, lae opbrengste en intense geurontwikkeling.

- Janco de Kock: Anco Wines
Janco is bekend vir sy gehaltegedrewe benadering en het reeds ’n 95-punt-gradering by die FedEx Next Generation Awards vir sy Anco 2023 behaal. Sy wyne weerspieël balans, varsheid, tekstuur en ’n kontemporêre uitdrukking van wingerdkarakter.

- Lucinda Heyns: Illimis Wines
Lucinda bring die perspektief van ’n wingerdboukundige na die reeks. Met ervaring in Suid-Afrika, Kalifornië en Italië, asook ’n dekade se praktiese werk in wingerde en kelders agter die rug, glo Lucinda dat elke wyn by die wingerdstok begin en dat elke oesjaar die potensiaal van sy spesifieke ligging moet eer.

- Mahalia Kotjane: Three Quarters Wines
Mahalia se liefde vir wyn het begin met ’n skoolprojek oor mikroörganismes en fermentasie, waarna sy na die Wes-Kaap verhuis het om landbou te studeer en later haar loopbaan by wynplase soos Stark-Condé en Lievland Family Wines gebou het. Vandag werk sy onder haar eie etiket en fokus sy op wyne wat met so min ingryping as moontlik gemaak word.

Wat om van die reeks te verwag
Deur die loop van die seisoen word die wynmakers getoets met uitdagings wat die werklike eise van die wynbedryf weerspieël.
Hulle moet onder meer :
- ’n Wyn by ’n geheime gereg pas
- ’n Etiket ontwerp en proe-nota skryf
- ’n Kaashappie voorberei wat by ’n Kleinood-wyn pas
- ’n Sosialemedia-video maak waarin hulle die seremoniële kuns van sabrage demonstreer met die bekende smaakmakers Janey en Waney wat byderhand is om raad te gee en hul video’s te beoordeel.
Kykers gaan ook die belangrike fases van wynmaak, van wingerde en besproeiing tot oestyd, fermentasie, bottelering, etikettering, bemarking, entrepreneurskap en verkope van naderby leer ken.
Die onus gaan op 30 lede van die publiek lê om die wynmakers se wyne te proe en daarvoor te stem. Abrie Beeslaar, hoofbeoordelaar en die man wat as een van die grootste wynmakers in Suid-Afrika beskryf word, sal daarna sy finale punt aan elkeen van die wyne wat ingeskryf is, toeken sodat die Top-3-wynmakers bepaal kan word.
Maar dis nie al nie. Natuurlik wag daar nóg ’n finale interessante uitdaging op hierdie drie voordat die wynmeester van hierdie seisoen aangewys kan word.
Met ’n kombinasie van kompetisie, inspirasie, kennis en persoonlikheid is Die Wynmeester Seisoen 2 wat op 12 Julie begin ’n heildronk op Suid-Afrikaanse wyn, die onafhanklike makers daaragter en die passie waarmee elke bottel gevul word.
