Saamgestel deur Elna Rossouw
LEESLEKKERTE: Krul op met ‘n krimi

Enigma deur Rudie van Rensburg. Foto: Verskaf
Rudie van Rensburg
Queillerie, R320
Wanneer ’n ryk Angolese sakeman met koeëlgate in sy bors in ’n Kaapse hotel aangetref word, moet Kassie en Rooi die saak ondersoek. Die kokaïen, ongeslypte diamante en edelgesteentes in sy bagasie slaan hulle dronk. Wat doen ’n gesiene persoon, wat ’n Suid-Afrikaanse minister kom adviseer het, met vermoedelik smokkelware in sy besit?
Die nuwe bevelvoerder van die Spookeenheid laat Kassie-hulle boonop ligtrap. Hy soek resultate en eintlik wou hy dit al gister gehad het.
’n New Yorkse beleggingsbestuurder, ’n Angolese skurk met baie geldmaakplanne, en ’n hoogaangeskrewe sakevrou is almal op ’n manier met die vermoorde man verbind. Maar wat presies het hulle met sy raaiselagtige transaksies te doen?
Kassie en Rooi moenie net ’n moord oplos nie, maar ook ’n internasionale netwerk van kriminele aktiwiteite ontbloot. Een waarbinne daar nie geskroom word om mense permanent uit die wegte ruim nie.

Rudie van Rensburg. Foto: Verskaf
- Rudie woon in Kaapstad en het al vyftien topverkoperspanningsverhale geskryf. Hy is ook die skrywer van die komiese reeks romans oor die bejaarde maar onstuitbare Hans van Kraaienburg.
UIT DIE BOEKE
Hoekom kleintjies rympies moet hoor …

‘Spienekelientjies’ saamgestel deur Antjie Krog. Foto: Verskaf
In haar Spienekelientjies: Taalmusiek vir kleintjies (Lapa, R260 – die boek is op die ouderdomsgroep van 7 tot 9 gemik) gee Antjie Krog sewe redes waarom ‘n kind daagliks kinderryme moet hoor.
- Ryme stel die kind voor aan patrone van taal, retoriek en komplekse sinskonstruksies wat gelykstaande is aan die begrip van ‘n 14-jarige
- Ryme skep ‘n goeie passiewe woordekat, maar ryme laat die kind aktief toe om ongewone woorde soos Tjalie en trommel te gebruik.
- Rym is die kern van lees. ‘n Kind leer dat die kleinste taalsegment ‘n woord se betekenis kan veranders soos kat/mat.
- Ryme bring woorde bymekaar wat niks met mekaar te make het nie, soos ster en skêr. Maar die verbintenis tussen die ongewone of disparate wat dan geskep word, is die oorsprong van alle kuns.
- Ryme maak die kind bewus van die krag van klank en hoe klank sigself uitspeel wanneer ons praat: die spoed, die namaak van geluide, die verskillende stemme en perspektiewe …
- Ryme staan die kind by om nuwe woorde te maak. Die digter Goethe het geglo dat daar ‘n genie in elke kind skuil.
- Ryme bind die kind aan die ware ritmes van die aarde: die hartklop, kameelpote in die sand, voëls …

Antjie Krog. Foto: Brenda Veldtman
- Antjie skryf ook dat Spienekelientjies aan ‘n ander droom van haar voldoen: “om die ou rympies van die vroeëre kleuterverseboeke te ondervang, veral gedigte en ryme wat klassiek geword het in W. Versfeld se verwerking van Engelse kleuterwerse”. Die boek bevat ook nuwe inheemse ryme, ‘n paar wat uit Nederlands en Duits vertaal is, asook van die rympies uit haar poësieversamelings vir kinders, Fynbosfeetjies en Vetplantfeetjies.
Meer oor Michèle Meyer se boek
- Voorblad
- ‘Einde en Begin’ deur Michèle Meyer. Foto: Verskaf
- Michèle Meyer. Foto: Helga Dagutat
In die Julie-uitgawe van rooi rose, waarin aktrise Jana Kruger in die hoofartikel vertel hoe sy innerlike vreugde en geluk vind, kan jy ook meer van Michèle Meyer se nuwe boek, Einde en begin (Queillerie, R295) lees. Michèle sê dat sy ‘n rockster sou wou wees, as die skrywersgogga haar nie gebyt het nie! Sy skets ook hoe haar skryfplek lyk.
Die wenners van die tienerboeke is
Drie rooi rose-lesers kon elk ‘n pakkie van drie boeke (Die seun met die swaeltjie deur Fanie Viljoen, Die Tusseninners deur Zelda Bezuidenhout en Die fluisteraar deur Jacolet van den Berg) wen. Die wenners was:
Anke Wilhelm
Denise Simons
Liza Vorster
Lees ook: Nuut op die boekrak + Drie gelukkige lesers kan elk drie tienerboeke WEN!



