Verskaf deur kykNET
Is Viëtnam op jou emmerskoplys? Indien nie, mag jy dit dalk vinnig heel bo insluit wanneer die nuwe en agste seisoen van die gewilde reis- en leefstylreeks Elders op Sondag 19 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin uitsaai.
In die splinternuwe Elders: Viëtnam verken die stapper en skrywer Erns Grundling hierdie fassinerende land in Suidoos-Asië tydens ’n epiese reis van noord na suid.

Erns Grundling – Halong Bay. Foto: Willem van den Heever
“Ek het besluit dit is tyd om ’n nuwe, byna wildvreemde land vir die eerste keer te besoek,” vertel Erns. “Viëtnam fassineer my al van kleins af en ek hoop die nuwe seisoen is ’n uitnodiging aan kykers om self die land se natuurskoon, ryk geskiedenis, vriendelike mense en smullekker kos te ervaar.”
Die aksie skop af in die hoofstad, Hanoi, en beweeg dan met ’n wye draai verder noord na plekke soos Sa Pa (naby Fansipan, die hoogste berg in Indochina) en selfs tot by die grens van China. Ikoniese bestemmings soos Ha Long Bay (met letterlik duisende eilandjies) en Ninh Binh (jy het hierdie betowerende landskap dalk al in ’n King Kong-fliek gesien) is volgende aan die beurt. Ander hoogtepunte sluit in Phong Nha se magiese grotte, die Amerikaanse weermagbasis Khe Sanh en natuurlik die bekende en energieke stad Ho Chi Minh City (vroeër bekend as Saigon) in die suide van die land.
Elders: Viëtnam word vervaardig deur Bonanza Productions en is in September en Oktober verlede jaar verfilm. “Ons was veertig dae weg van die huis en ek het my vrou Catharien en tweelingseuntjies André Jakkals en Henry Wolf vreeslik gemis,” sê Erns. “Maar dit bly ’n enorme voorreg om my passie vir reis en stories vertel met Elders te kan uitleef en te kan werk met ’n fantastiese kameraspan.”

Vietnam Spanfoto – Mekong Delta
Erns gee wel toe dit was een van die mees uitdagende projekte nog. “Viëtnam het ’n komplekse en gedugte burokrasie en ons moes bontstaan met filmpermitte en toestemming.”
Nóg ’n groot bate vir die reeks was die toevoeging van Jurgie Schoeman, ’n Suid-Afrikaner wat in Viëtnam woon en werk, tot die span. “Jurgie woon al meer as vyf jaar in Viëtnam, het sy eie toerbesigheid, Navigator Vietnam, en praat basies vlot Viëtnamees. Sy hulp en lekker menswees tydens die lang skietperiode was van onskatbare waarde,” vertel Erns.
Regisseur en mede-veraardiger Frankie Opperman, wat al sedert 2020 by Elders betrokke is, meen dit was ’n groot voorreg om deur Viëtnam te kon reis. “Die mense, kos en kultuur was iets uit ’n ander wêreld uit,” sê hy. “Ons sien geweldig baie uit om hierdie unieke land met kykers te deel en hulle hopelik te inspireer om hulle gemaksone te groet en Viëtnam self te gaan geniet.”
En Erns se (alleen) snor? Daarvoor sal kykers moet wag tot die laaste episode. Wat in ou Saigon gebeur, bly duidelik nie net in ou Saigon nie…

Vietnam Spanfoto – berg Fansipan. Foto: Willem van den Heever
Elders: Viëtnam word vanaf Sondag 19 Julie 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: ‘Die Wynmeester’: Tweede seisoen is hier met gesondheid in die rondheid!
