Deur Leandri de Kock
Deesdae is daar ‘n hele woordeboek van begrippe wat gebruik word om sogenaamde “natuurlike” skoonheid te beskryf, maar dis nie altyd verstaanbaar nie. Die skoonheidsbedryf se penarie is dat daar geen universele definisie vir “skoon” skoonheid is nie. Daarom gebruik baie handelsmerke die woord “skoon” of “natuurlik” op hul produkte se etikette, maar dit beteken nie noodwendig dat dit op standaard is nie.
Om volhoubaar te wees, behels meer as om net nou en dan te herwin, of om bewus te wees van waar jou groente vandaan kom. In die skoonheidswereld sien ons baie ongereguleerde en verwarrende begrippe, waar sommige handelsmerke nog ‘n lang pad het om te stap om die gaping, wat deur vorige onetiese praktyke geskep is, te oorbrug.
Skoonheidsmiddels (in die breë skoonheidsin), soos baie ander sektore (dink aan kos en mode), maak gebruik van ‘n verskeidenheid bestanddele en materiale om die produkte op ons badkamerkaste en in ons grimeersakkies te vervaardig. Ons koop so dikwels net produkte vir die mooi verpakking, die laer prys of die gewilder handelsnaam, maar ons oorweeg nie die uitwerking wat die aankoop van sommige van hierdie produkte kan hê nie.
Waarna moet ons oplet as ons seker wil wees dat ons die beste ding vir die planeet doen? Eerstens moet ‘n mens verstaan wat volhoubaarheid in die breër spektrum beteken, en hoe die produkte wat ons vandag gebruik en koop, uiteindelik ons negatief kan beïnvloed. Deur beter en meer ingeligte keuses te maak, selfs al is dit nou op ‘n klein skaal, kan ons ‘n beduidende rol speel om te help om die skoonheidsbedryf, en ons pragtige aarde, ten goede te verander.

‘n Meisie smeer room op haar gesig. Foto: Andrea Piacquadio
Wat beteken dié begrippe?
Palmolie-vry | Die produksie van palmolie is na bewering verantwoordelik vir die verwoesting van reënwoude en die gepaardgaande fauna en flora. Daar is egter gesertifiseerde palmolie wat volgens die standaarde van die Roundtable of Sustainable Palm Oil (RSPO) vervaardig word. Laasgenoemde is ‘n inisiatief wat ‘n volhoubare palmoliebedryf ondersteun. Besoek www.palmoilscorecard.panda.org
Gesertifiseerd organies | Boerderymetodes wat gebruik word om rou bestanddele te produseer, sluit dikwels plaagdoders, geneties gemodifiseerde sade en ander chemikalieë in, wat beteken dat die produkte wat van hierdie bestanddele gemaak word nie as organies beskou kan word nie. Dit beteken egter nie dat dit sleg vir jou (en jou vel) is nie, maar eerder dat dit die potensiaal het om die omgewing waarin die bestanddele gekweek word negatief te beïnvloed.
As jy produkte koop wat organies gesertifiseer is, kan jy seker wees dat meer volhoubare grondbestuur betrokke is, geen GMO’s of groeireguleerders gebruik is nie en geen antibiotika, kunsmatige preserveermiddels of chemikalieë gebruik is nie.
Volhoubaar | Produkte mag dalk sê dis natuurlik, maar hoe hulle die bestanddele bekom, is nie noodwendig volhoubaar nie.
Veganisties | Hierdie produkte bevat geen diereprodukte of dierebyprodukte soos heuning, propolis, koninginjellie, byewas, kollageen, sy, melk of lanolien nie.
Wreedheidsvry | Dit beteken geen diere is gebruik of betrokke by die toets van die produkte of die bestanddele nie. Tot vandag toe toets baie maatskappye steeds hul produkte op diere in lande soos China waar dieretoetsing deur die wet vereis word. Dis wel belangrik om op te let dat sommige handelsmerke – hoewel hulle nie self op diere toets nie – hul produkte in China verkoop waar die produkte dan in elk geval eers getoets word.
Koraalvriendelik / koraalveilig | Dit beteken dat die sonskerm wat jy kies nie oksibensoon, oktinoksaat, oktokrieleen, 4-metiëlbensilideen of butielparaben moet insluit nie. Daar is gevind dat hierdie bestanddele ‘n negatiewe impak op koraalriwwe kan hê, wat die larwes beskadig en die immuniteit daarvan verminder. Om dinge makliker te maak, maak net seker dat jou sonskerm ‘n mineraal-sonskerm is, eerder as ‘n chemiese een as jy van plan is om in die see te swem. Vir elke dag se dra (tydens die res van die jaar) is jou chemiese sonskerm aanvaarbaar.

‘n Vrou sit ‘n gesigmasker op. Foto: Karola G, Pexels
Sertifiserings om na op te let:
- Leaping Bunny | Wreedheidsvry
- Cosmos | Organies en natuurlik
- EcoCert | 95% van die formule is van natuurlike bestanddele gemaak
- Fairtrade | Bied werkers in ontwikkelende lande ‘n goeie handelsooreenkoms om te help om hul toekoms te verbeter.
Wat is ‘skoon’?
Produkte wat in die algemeen aan die definisie van ‘skoon’ voldoen, bevat nie:
- Parabene
- Natriumlaurielsulfaat
- Ftalate
- Silikon
- Polipropileen (mikrokrale)
- Aluminiumsoute
- Mineraalolie
- PEG’s
- Talkum
- Petrolatum
- Formaldehied
- Tolueen
- Triclosan
- Hidrokinoon
