Saamgestel deur Elna Rossouw
Patmos – Willem Anker

Patmos se voorblad. Foto: Verskaf

Onderhoud met die skrywer Willem Anker. Onderhoud gedoen by De Warenmarkt in Stellenbosch. Foto: Jaco Marais
Queillerie, R275
Ná ’n meteoriet op ’n plattelandse dorp neerstort, kom soek ’n komponis inspirasie vir die klankbaan van ’n wetenskapsfiksiefliek. Hy loseer by ’n astronoom wat navorsing oor gravitasiekolke doen. Haar agtjarige seun praat nie. Die astronoom wil van haar verlede ontsnap. Die komponis het ’n toekoms wat hy nie wil trotseer nie. In die onmoontlike “nou” ontstaan ’n aarselende verhouding tussen dié twee beskadigdes; wentel hulle om mekaar met kragte wat tot vernietiging óf vernuwing kan lei.
Willem doseer kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy boeke word wyd aangeprys. Vir Siegfried (2007) ontvang die UJ-debuut- en Jan Rabie/Rapportprys; Buys (2014) is met die WA Hofmeyr, UJ-, kykNET-Rapport-, Helgaard Steyn- en Hertzogprys bekroon; Red Dog (2018) was op die International Booker-langlys en Skepsel (2020) ontvang die UJ-prys, kykNET Rapportprys en ATKV-Woordveertjie.
Op pad na ’n klooster in die sneeu – Johannes de Villiers

‘Op pad na ‘n klooster in die sneeu’ se voorblad. Foto: Verskaf

Johannes de Villiers. Foto: Verskaf
Human & Rousseau, R 350
’n Jong man begin sy loopbaan by ’n apteek in Bloemfontein. Maar hy is gou ontnugter met sy lot. Wanneer hy toevallig afkom op die geskrifte van die vyftien-eeuse mistikus Thomas à Kempis, begin hy droom oor ’n asketiese lewe as monnik, iewers verafgeleë en afgesonder – weg van geldmaak en ambisie. Op die vooraand van sy reis na die Franse Alpe, ontdek hy hy het ’n verlangse oom wat self ’n Katolieke priester geword het, en nou in die hartjie van Parys woon. So begin ’n kosbare vriendskap tussen ’n bejaarde pater in Parys en ’n ietwat verlore siel uit die Vrystaat.
Johannes is ’n skrywer en meditasie-instrukteur. Hy lei landwyd slypskole oor meditasie, bewuste teenwoordigheid en positiewe sielkunde. Hy is ook mede-aanbieder van die program Vol Vreugde op RSG. Johannes was jare lank joernalis.
Twyfelbos – François Loots

Twyfelbos se voorblad. Foto: Verskaf

Francois Loots. Foto: David Barnes
Human & Rousseau, R350
Dis 1820 in die Kaapkolonie. Sophia Truter is getroud met regter Johannes Truter. Maar dis Engelse tye, hy moet as Sir John aangespreek word, en sy het ’n afkeer van die Kaap se vertoonsug. Ná die dood van haar jongste seun besluit sy om weer te gaan boer. Dié keer begin sy klein, op ’n lap grond anderkant die Kleinrivier – sonder slawe en voormans. Algaande vind Sophia haar voete. Maar dan word iemand op die bokpad anderkant die berg vermoor. En Jan Tesselaar, die nuwe veldkornet moet die skuldige opspoor.
François is in Prieska gebore en het in die Karoo grootgeword. Ná skool studeer hy sielkunde, Engels en Duits. Hy het hier en oorsee in landelike ontwikkeling en die onderwys gewerk. Hy woon in Kaapstad en werk nou in die media.
Anton Roodt oor sy nuwe boek, Aan die hemeltrans
In die September uitgawe van rooi rose, waarin die veelbekroonde Anna-Mart van der Merwe meer vertel van haar rol in die fliek, Landmyn kan jy ook in die Lekker lees-rubriek meer te wete kom van die Bloemfonteinse argitek, Anton Roodt se nuwe boek, Aan die hemeltrans. ‘n Boek wat Kerneels Breytenbach beskryf as “sterker, beter, snaakser én meer uitdagend as sy eerste boek Weerlose meganika waarvoor hy in 2020 die Jan Rabie-prys gewen het. Anton vertel ook wat hom inspireer en watter skrywersraad die beste was wat hy nog gekry het.
Met die Toyota Stellenbosch Woordfees (3 tot 11 Oktober) om die draai vir kan jy ook lees watter skrywers aan die eerste fiksiefees deelneem en wie by die Dag van Poësie uit hul bundels gaan voorlees.
Lees ook: Spesiaal vir Vrouemaand + WEN een van Herman Lensing se resepteboeke



