Verskaf deur kykNET
Die vyf boere wat hul soektog na liefde in die 18de seisoen van Boer soek ’n vrou gaan voortsit, is Jack, JD, Francois, Arno en Willie.
Hulle dring deur na die volgende fase van dié kykNET-maatsoekreeks en moet nou elk tien potensiële pasmaats uit die briewe wat hulle ontvang het, kies om tydens die blitsafsprake te ontmoet.
Jack, die appel- en peerboer van Hermanus, het die meeste briewe van al tien boere ontvang.
Die uitslag is in die derde episode van die seisoen bekend gemaak nadat die aanbieder, Reandi Grey, die tien boere besoek het om hul briewe en pakkies af te lewer.
“Dis geskryf om daai een hart te bereik; daai een siel aan te raak. Woorde met hoop, afwagting en soeke na daai eerste ontmoeting met die persoon wat dalk jou hart mag wen,” het Reandi oor die briewe gesê.
Die blitsafsprake is die volgende fase van die reeks en bied die boere hul eerste geleentheid om die mense agter die briewe persoonlik te ontmoet. Ná die blitsafsprake sal hulle verdere keuses oor hul liefdesreise moet maak.
Die vyf boere wat nie na die volgende fase deurdring nie, is Leandi, Junior, Jacques, Luan en David.
Leandi (36), ’n beesboer van Ventersdorp, het gesê sy is steeds dankbaar vir die briewe wat sy ontvang het.
“Jy’t nie baie briewe nodig nie – net die régte brief,” was haar reaksie nadat sy verneem het dat sy nie onder die topvyf is nie.
Junior (35), wat ’n gemengde boerdery naby Bethlehem bedryf, Jacques (32), ’n makadamianeutboer van Nelspruit, en Luan (26), ’n skaapboer van Strydenburg, het ook talle briewe en geskenkpakkies ontvang.
David (43), ’n boer van Vierfontein, was verlig dat hy nie onder die topvyf geëindig het nie. Hy het aan Reandi verklap dat hy intussen iemand ontmoet het.
Die topvyf-boere is:
- Jack (30), ’n appel- en peerboer van Hermanus in die Wes-Kaap
- JD (28), wat ’n gemengde boerdery naby Reitz in die Vrystaat het
- Francois (34), ’n natuurbewaarder van Hoedspruit in Mpumalanga
- Arno (28), ’n bosbouboer van Tzaneen in Limpopo
- Willie (37), ’n bees- en mielieboer van Harrismith in die Vrystaat

Die topvyf-boere. Foto: Gys Loubser
