’n Maand ná die eerste episode uitgesaai is, is dit duidelik: Beter as gister op kykNET resoneer diep met kykers. Ons het gesels met een van dié eerlike en hartroerende reeks se hoofrolspelers, Edwin van der Walt, wat te sien is as Eben Strauss – ’n toegewyde enkelpa wat sy lewe ingerig het om sy dogter, Lilly, te kan grootmaak. Maar toe sy lewe begin bedaar, dwing die terugkeer van Lilly se ma hom om weer te dink oor familie, vergifnis en tweede kanse.
V: Wat beteken dit vir jou om deel van Beter as gister te wees?
Om deel te wees van Beter as gister het my opnuut ’n gevoel van verantwoordelikheid as akteur gegee. Die geleentheid om ’n enkelouer uit te beeld wat ’n kind op die outisme-spektrum grootmaak, het my uitgedaag om die rol met groot omsigtigheid te benader. Ek was deeglik bewus daarvan dat iemand wat kyk, dalk gaan voel of hulle na hul eie lewe, of die lewe van iemand wat hulle liefhet, op die skerm kyk. Dit het my daaraan herinner dat ons werk as akteurs en kunstenaars nie oor ons gaan nie. Die stories wat ons vertel, behoort uiteindelik aan die mense wat hulself in ons karakters sien. Laastens het die deelname aan Beter as gister my ook geduld en aanpasbaarheid geleer. Om teenoor Luna Coetzer te speel, wat Lilly vertolk, het my aangemoedig om die behoefte te laat vaar om elke oomblik in ’n toneel te beheer en eerder ten volle teenwoordig te wees. Wat ’n vreugde om saam met haar te werk.

Luna Coetzer wat Lilly vertolk in ‘Beter as gister’. Foto: Verskaf
V: Uit ’n pa se perspektief, watter ooreenkomste sien jy tussen jou karakter in die reeks en wie jy in die werklike lewe is? Is daar enige waardes of lewenservarings wat jy na die rol kon bring?
Ek is nog nie ’n pa nie, maar ek kon by Eben Strauss leer en aanklank vind by ’n paar ooreenkomste. Sy kwesbaarheid. Sy passie. Sy obsessies (sommige wonderlik en sommige glad nie wonderlik nie). Selfs sy foute, soos om in die strik van perfeksionisme te trap. Daar is iets van Eben in elkeen van ons. Ek glo pragtig geskrewe, ronde karakters het menslike eienskappe waarmee enige iemand hulle op een of ander manier kan vereenselwig. Die skrywers van die reeks, Corné en René van Rooyen, het ongelooflike werk met die skep van hierdie karakters gedoen.
V: Wat hoop jy neem kykers weg uit jou karakter?
Ek wil nie hê kykers moet iets spesifieks wegneem nie, maar ek hoop van harte die storie moedig mense aan om oop te wees en te praat oor wat hulle deurmaak. Met die vertolking van hierdie karakter het ek besef ek het raad en leiding meer nodig as gewoonlik. Wanneer laas het ons as grootmense ’n kostuum aangetrek en ’n waterpistoolgeveg met ons kinders gehad net om hul dag te maak? [Edwin verwys na ’n toneel in een van die komende episodes.]
Het jy die eerste paar episodes gemis?
Haal in op DStv Stream of Catch Up. Nuwe episodes van Beter as gister word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: 4 lesse wat ons uit ‘Beter as Gister’ se eerste episode geleer het
