Verskaf deur kykNET
’n Nuwe gesig het in Ruiterbosch opgedaag – en hy kan moontlik die sleutel wees tot ’n familiegeheim wat Kate (Annelisa Weiland) se hele wêreld omvergooi.

Luan Jacobs. Foto: Verskaf
Die akteur, Luan Jacobs het onlangs sy verskyning in Suidooster gemaak as Lendré Blomkamp, ’n geharde nutsman met ’n moeilike verlede en ’n sterk oorlewingsinstink.
Lendré se aankoms volg nadat Kate ontstellende inligting oor haar familie ontdek het. Sy het begin vermoed dat Riaan dalk nie haar biologiese seun is nie, maar dat twee babas moontlik by geboorte omgeruil is. Dit laat ’n groot vraag ontstaan: Kan Lendré dalk Kate se biologiese seun wees?
Luan vertel meer oor die uitdagende rol, sy ervaring as deel van die Suidooster-familie en waarom kykers verder as Lendré se harde uiterlike moet kyk en hom nie te vinnig moet veroordeel nie.
Vertel ons meer van Lendré Blomkamp. Wie is hy, wat bring hom na Ruiterbosch en wat kan kykers van hom verwag?
Lendré Blomkamp is ’n astrante knaap wie se wêreld heeltemal omvergegooi word wanneer hy in Ruiterbosch aankom. Hy is ’n nutsman wat finansieel sukkel en probeer oorleef deur enigiets te doen wat die vinnigste en beste betaal – hetsy eerlik of oneerlik.
Hy is ’n opportunis en kan maklik ongeskik of selfs arrogant voorkom, maar dit spruit uit die feit dat hy van kleins af geleer het om net op homself staat te maak. In ’n mate is hy selfsugtig, maar toe ek sy agtergrond begin ontgin, het ek besef dat hy nie só is omdat hy dit wil wees nie, maar omdat hy glo hy móét wees. Volgens sy wêreldbeskouing was dit nog altyd elkeen vir homself.
Ruiterbosch daag daardie manier van dink uit. Skielik bevind hy hom in ’n gemeenskap waar mense vir mekaar omgee en waar hy iets leer ken wat hy nog nooit werklik ervaar het nie: onvoorwaardelike liefde.
Dit begin hom verander op maniere wat hy self nooit sou verwag het nie.
Wat het jou die meeste van Lendré as karakter aangespreek, en wat het jou opgewonde gemaak om dié rol aan te pak?
Ek moet bieg: aanvanklik het ek geen ooghare vir Lendré gehad nie. As Luan, die mens, was daar beslis baie oordeel van my kant af. Maar as kunstenaar het ek dadelik besef dit is ’n droomrol.
Ek glo ons moet juis tyd deurbring met die gebroke siele van die gemeenskap. Vir my is goeie kuns tegelykertyd ’n venster én ’n spieël. Dit gee ons ’n blik op ander mense se wêrelde, maar dwing ons ook om eerlik na onsself te kyk.
Wanneer jy die mantel van ’n karakter aantrek, ontdek jy dikwels nuwe perspektiewe op die lewe én op jouself.
Lendré is ’n uitdagende mens. Hy is nie maklik om te verstaan of te vertolk nie, en dit is presies wat my na die karakter aangetrek het. Hoe dieper ek egter in sy wêreld ingegaan het, hoe meer het ek besef dat daar agter sy harde dop eintlik ’n baie klein en ook ’n baie seer hart skuil.
Daardie ontdekking het my deurentyd tegelykertyd bang en opgewonde gemaak. Ek hou daarvan wanneer ’n rol my uitdaag en my dwing om my eie aannames te bevraagteken. Ek beskou myself as iemand wat redelik oopkop deur die lewe beweeg, maar Lendré het my steeds verras. Vir my is dit die grootste geskenk wat ’n karakter vir ’n akteur kan gee.
Sonder om te veel oor die storielyn weg te gee: Hoe beïnvloed Lendré se aankoms die bestaande karakters en verhoudings in Ruiterbosch?
Lendré is baie soos sy beroep: ’n nutsman. Hy het die vermoë om dinge af te breek sodat dit weer herbou kan word – of om dit wat stukkend is, reg te maak. Watter een van die twee gebeur, hang natuurlik van jou perspektief af.
Wat ek wel kan sê is dat sy aankoms in Ruiterbosch beslis nie ongemerk sal verbygaan nie. Hy gaan bestaande verhoudings uitdaag, mense dwing om moeilike vrae te vra en meer as een lewe omkeer. Of dit ten goede of ten kwade is, sal kykers self moet besluit.
Jy sluit aan by ’n gevestigde sepie met ’n rolverdeling wat reeds geruime tyd saamwerk. Hoe het jy dit ervaar om deel van die Suidooster-familie te word?
Ek is ongelooflik lief vir die Suidooster-familie. Van dag een af het hulle my met ope arms ontvang en my laat voel dat ek daar hoort.
Wat my die meeste opgeval het, is hoe goed almal na mekaar omsien. Agter elke hoek en draai is daar iemand – hetsy ’n mede-akteur of iemand van ’n ander departement – wat bereid is om te help en seker te maak jy voel tuis. Daardie gevoel van spanwerk maak ’n enorme verskil.
Ek sal ook eerlik wees: die tempo waarteen ’n sepie werk is nie iets wat ’n mens oornag bemeester nie. Dit het my ’n rukkie geneem om weer aan daardie ritme gewoond te raak, maar dit was ook ongelooflik opwindend. Daar is ’n dissipline en energie op stel wat ek baie geniet.
Dit is vir my ’n voorreg om deel van so ’n gevestigde span te wees, en ek sien opreg daarna uit om nog baie stories saam met hierdie mense te vertel.
Jy was ook in Diepe Waters te sien. Hoe verskil Lendré van die karakters wat kykers jou voorheen sien vertolk het? En geniet jy dit om rolle aan te pak wat mense se bestaande idee van jou uitdaag?
Ek glo elke karakter het sy eie asemhaling en hartklop. Daarom probeer ek altyd verstaan wie die mens agter die woorde is. Woorde is gewoonlik die laaste uiting van ’n mens se innerlike wêreld. Dit wat iemand sê, word gevorm deur alles wat hy of sy reeds beleef het.
Ek geniet dit daarom om die persoon eers werklik te “ontmoet” en uit te vind hoe die ratte van hul innerlike horlosie werk.
Lendré verskil geweldig van baie van die karakters wat ek al vertolk het. Juis daarom was hy vir my so aanloklik. Ek dink akteurs word dikwels die meeste uitgedaag wanneer hulle iemand moet vertolk wat ver verwyderd is van wie hulle sélf is.
Ek is natuurlik nuuskierig – en dalk ’n bietjie skrikkerig – oor hoe kykers op hom gaan reageer. My hoop is dat hulle uiteindelik verder as sy optrede sal kyk en die mens daaragter sal raaksien, want dit was my ervaring terwyl ek hom gespeel het.
Agter alles wat Lendré doen, is daar ’n mens met seer, vrese en ’n wêreldbeskouing wat vir hom volkome sin maak. Ek hoop kykers gee hom lank genoeg kans om dit ook te ontdek.
’n Langlopende sepie het ’n vinnige produksietempo en vereis dat akteurs baie materiaal binne ’n kort tyd moet bemeester. Hoe ervaar jy dié ritme, en wat verg dit van jou as akteur?
Dit verg alles van jou. Ek haal my hoed af vir die kunstenaars wat hierdie ritme dag ná dag bemeester want ’n sepie beweeg vinnig. Die hartklop is sterk, presies en onophoudelik. Dit kan nogal intimiderend wees om jou toon in daardie see te waag en te hoop jy leer vinnig genoeg swem.
Dit het my aanvanklik ’n rukkie geneem om aan die tempo, werkslading en proses gewoond te raak. Elke sepie – trouens, elke produksie – het sy eie hartklop en unieke werksomstandighede. Dit is juis een van die redes waarom ek so lief is vir wat ek doen, want elke nuwe geleentheid vereis iets anders van jou.
Vir my is daar met ’n sepie byna die gevoel dat elke toneel ’n openingsaand is. Die skoenlappers is baie soortgelyk aan dié wat ’n mens in die teater ervaar. Daardie vrae stroom steeds deur jou kop: Is ek goed genoeg? Ken ek alles goed genoeg? Wat moet ek nou weer met my hand doen wanneer ek daardie spesifieke woord sê?
Die groot les was om myself te leer vergewe eerder as om myself oor elke fout te kasty. Sodra jy dit regkry, begin die spel se eie hartklop deurkom.
Ek sou sê ’n sepie is die medium van onmiddellikheid én aanpasbaarheid. Jy moet vinnig dink, vinnig reageer en vinnig laat gaan – alles terwyl jy soms tussen twintig en dertig bladsye dialoog per dag uit jou kop moet ken. Dit verg voorbereiding, dissipline en ’n groot mate van vertroue.
Jy het reeds as akteur, skrywer, regisseur, vervaardiger en dosent gewerk. Hoe beïnvloed dié verskillende fasette van jou loopbaan die manier waarop jy ’n rol benader, en wat hoop jy lê volgende vir jou voor?
Ek glo dit help geweldig baie om verskillende hoede te kan dra, solank alles onder dieselfde sambreel van storievertelling en vermaak val. Elke rol gee my ’n beter begrip van die ander.
As regisseur verstaan ek waarom ’n skrywer sekere keuses maak. As skrywer besef ek hoe belangrik elke woord kan wees. As vervaardiger sien ek die groter prentjie en al die bewegende dele wat nodig is om ’n produksie moontlik te maak. As akteur weet ek weer dat ek deel is van ’n veel groter geheel waarin elke mens op die ander staatmaak.
My werk as dosent herinner my daaraan dat kennis nie bedoel is om opgegaar te word nie. Dit moet aangegee word. Daar is iets besonders daaraan om die volgende geslag kunstenaars te sien groei en terselfdertyd self aan te hou leer.
Aan die einde van die dag wil ek net stories vertel wat mense raak en vermaak. My drome is groot en, as ek eerlik is, maak hulle my soms bang. Maar ek dink dit is juis hoe ’n droom behoort te voel. Ek werk oor verskillende mediums heen omdat elkeen my iets anders oor storievertelling en oor mense leer.
Ek glo elkeen van ons kry gawes om met die wêreld te deel. Ek is dankbaar dat ek myne kan uitleef, en ek hoop ek sal altyd die moed hê om nuwe uitdagings aan te pak – om aan te hou swem, saam met die golwe te beweeg en nooit die rede te vergeet waarom ek hierdie beroep gekies het nie.
Solank ek stories kan vertel wat mense laat lag, huil, dink of hoop, sal ek weet ek is op die regte pad.
Lees ook: Verwikkelde verhouding tussen pa en seun in kortfilm ‘Genoeg’ verken
