Deur Rachel Jonker
Toe Afrikaanse rolprentgangers in 2012 die eerste keer met die rolprent Semi-Soet kennis gemaak het, kon niemand voorspel hoe vinnig dié romantiese komedie ’n tydlose treffer sou word nie. En toe dit eers in ’n musiekblyspel vir die verhoog omskep is, is ’n nuwe teatertreffer gebore.
Nou keer Semi-Soet – Die Musiekblyspel in September 2026 terug na die verhoog, hierdie keer op een van Suid-Afrika se grootste verhoë, die Teatro by Montecasino, te danke aan AfriForum en Inhoud Huis Musiek, met die ondersteuning van RSG en kykNET. En ja, Bobby van Jaarsveld (en sy Speedo) en Anel Alexander sal weer die karakters van JP en Jaci vertolk.
Toe die produksie in 2025 as die eerste oorspronklike Afrikaanse musiekblyspel van sy soort in bykans ’n dekade agt weke lank aand ná aand by AfriForum-teater uitverkoop was, was dit duidelik dat hulle met iets baie spesiaals besig as. Volgens Salet Smith, bestuurder van AfriForum-teater, was dit duidelik dat die storie sterk by gehore van alle ouderdomme aanklank gevind het. Nou bied die Teatro die geleentheid om op daardie sukses voort te bou en die produksie op ’n groter skaal aan te bied, sonder om iets van die hart, humor of sjarme te verloor wat dit in die eerste plek so geliefd gemaak het.
Volgens Anel Alexander, wat in die rolprent én die musiekblyspel die rol van Jaci van Jaarsveld vertolk, is dit waaroor teater gaan: om mense ’n blaaskans van hul stresvolle lewe te bied waar hulle vir ’n oomblik saam met vriende en familie kan saamkom en so kan lag dat jy huil.
Kom deel in die verhaal van Jaci en JP – twee mense wat voorgee om die perfekte paartjie te wees, net om te ontdek dat liefde soms op die mees onverwagse plekke wag.
rooi rose het ’n paar vrae aan die akteurs gestel:
Julle het Semi-soet al suksesvol in die Afriforum-teater opgevoer. Wat gaan hierdie keer anders wees by die Teatro by Montecasino?
Carmen Basson: Ons het verlede jaar Semi-soet by die AfriForum-teater gedoen, en vanjaar vat ons dit na Montecasino se Teatro. Dis een van Suid-Afrika se grootste teaterverhoë.
Daar was meer as tien jaar lank nie ’n Afrikaanse produksie op dié verhoog nie. Vir ons is dit ’n kans om Afrikaans en ons kultuur op ’n groter vlak te vier en te wys: Ons kan dit in Afrikaans net so goed doen!
En hierdie jaar is Semi-soet nóg groter: ’n groter geselskap, indrukwekkende danse, nuwe musiek en ’n groter gehoor.
Meer mense om saam te sing. Meer mense om saam te lag. En vir ’n paar uur net weg te breek van ’n wêreld wat soms swaar voel.
Dis nie net ’n musiekblyspel nie. Dis ’n viering van Afrikaans, en ons is ongelooflik trots om deel daarvan te wees.
Wat was vir julle die uitdagendste toneel om op die planke te vertolk?
Anel Alexander: Ek dink die hele proses is maar uitdagend, want dit is ’n splinternuwe musiekblyspel. Dit is nie cookie-cutter soos Mamma Mia of Cats, wat van Broadway afkom nie. Daardie tipe toneelstukke word al jare gedoen en die choreografie en so meer is lankal al bepaal. Ons s’n is ’n splinternuwe musiekblyspel en dit is in Afrikaans.
Aan die een kant maak dit dit great, want jy het die blank slate, aan die ander kant maak dit dit vreesaanjaend, want jy het die blank slate.
So ek dink laas jaar was ons nie seker dat dit gaan werk nie: Dit werk in die fliek en die humor is vinnig, maar met die fliek kan jy edit tussen shots en vinnig edit tussen scenes. Ons was nie 100% seker dat dit na die verhoog gaan deurspoel nie. Maar dit het! Dit het nie net ge-translate na die verhoog nie, dit was asof die musiekblyspel iets bygevoeg het. Dit het rêrig gevoel asof die musiekblyspel dit vat wat mense van die movie hou, en dit net so na die volgende vlak toe neem.

Die rolverdeling van Semi-soet – Die Musiekblyspel. Foto: Verskaf
Watter liedjie in die musiekblyspel is julle gunsteling om op te voer en hoekom?
Anel: Johan Vos en Jacomien de Wet het net rêrig vir ons sulke lekker treffers geskryf. Daar is nou repetisies aan die gang, en ek gaan slaap met die liedjies in my kop en as ek wakker word dan vang ek myself dat ek dit steeds neurie. Maar ek dink die wenner wat gaan uitstaan, is die nuwe liedjie wat ons vir Chadri geskryf het: “Rek strek baba”.
Dis is ook onlangs op alle stromingsplatforms vrygestel en Marcelle Peach, wat die rol van Chadri vertolk, gaan gehore verstom! Dit is nie net snaaks nie, maar daai girl se vocal capacity laat my sommer hoendervleis kry.
Inge Lochner: Ons gunstelingliedjie is definitief Boudpars! Dit is ’n goedvoelliedjie wat vreeslik lekker is om op te voer met die energieke sang, dans en storievertelling. Die liedjie is so goed geskryf en gechoreografeer dat die gehoor definitief saam sal wil dans.
Wat dink julle voeg die musiekblyspelformaat tot die storie by?
Nadia Beukes: Die musiekblyspelformaat vat ’n storie soos Semi-soet, wat reeds soveel mense in die rolprentformaat bekoor het, na ’n volgende vlak met die mooiste musiek en lirieke deur Johan Vorster en Jacomien De Villiers en natuurlik ook die indrukwekkende choreografie deur Phillip Schnetler. Dit gaan beslis gehore se hartsnare roer en hulle hopelik van oor tot oor laat glimlag terwyl hulle saamsing en deel in die vreugde van hierdie tydlose liefdesverhaal.
Anel: Ja, dit is rêrig asof dit net alles, wat lekker is van Semi-soet, nog lekkerder kom maak. Ons is of heeltyd op ons fone, of heeltyd op ons laptop, of heeltyd op die TV. Om teater toe te kom, is so ’n gemeenskapservaring en Semi-soet – die musiekblyspel is die epitome van dit, want dit is rêrig so lekker om hierdie storie saam met ander mense te beleef.
’n Vraag aan Bobby: Die vorige keer wat ‘n Afrikaanse musiekblyspel, Liefling (2014-2015), op die planke by Montecasino was, het jy ook die manlike hoofrol vertolk. Hoe verskil Jan en JP? Op watter maniere het jou voorbereiding vir die rolle verskil?
Bobby: Ja, dit is twee heeltemal verskillende rolle en ek was ook baie jonger met Liefling. Ek het ook die hoofrol in die fliek gespeel, en dit was eintlik makliker vir my om dit toe op die planke te vertolk.
Dit was dus amper soos ’n copy en paste.
Ek het nie in die fliek Semi-soet gespeel nie, so dis definitief ’n bietjie moeiliker om hierdie een te vertolk. Hier is ook baie meer danse sowel as intiemer toneelspel betrokke.
Die beste wat ek kan doen, is om die fliek oor en oor te kyk. Nie om Nico Panagio te copy nie, maar om my eie flavour na die karakter te bring. Dis om seker te maak dat ek die regte vibe na die musiekblyspel toe bring.
En ja, dis maar net om oor en oor te repeteer, en om in die rol in te kom. Hierdie keer is weliswaar by Monte Casino Teatro wat baie meer intens is, en baie harder werk.
Daar is baie meer dialoog, baie meer snaakse oomblikke, en ook baie meer werk. My medespeler is Anel, en ek het baie vertroue in haar. Sy was in die fliek en sy weet wat sy doen. Ek vat haar leiding dus baie ernstig op. Ek kan net my beste lewer en goed voorberei.
‘n Vraag aan Anel: Hoe voel dit om meer as tien jaar later, na ’n vervolgfliek en ’n suksesvolle musiekblyspel, steeds gehore met Semi-soet te bekoor?
Anel: Ja, ek moet eerlikwaar sê, ek kan verskriklik duidelik die oomblik in 2009 onthou toe ek en my oorlede man, James, besluit het om Semi-soet te doen. Ek weet nie hoekom nie, maar dit is so duidelik in my kop. Dit was ’n Saterdagaand, en ons was op pad na vriende toe vir aandete. Ons het pas met ons eerste fliek, Discreet, klaargemaak, wat ’n onafhanklike fliek was. Ons het gepraat oor wat ons volgende gaan doen en besluit om iets meer kommersieel te doen. Ons het by ’n verkeerslig in Linden gestop, en toe draai James, my baie Skotse man na my toe, en sê vir my: “Anél, wat jy volgende moet doen, is om ’n Afrikaanse Hollywood-styl romantiese komedie vir die volk te maak.”
En dis waar Semi-soet gebore is, en as jy daai tyd, dit was 2009, vir my kom sê het 17 jaar later gaan dit ’n lokettreffer wees,’n gesinsgunsteling wat mense oor en oor kyk, en dat Semi-Soeter, wat die opvolgfliek is, die eerste Afrikaanse oorspronklike fliek op Netflix sou word, en dat dit ’n suksesvolle musiekblyspel sou wees, en boonop een wat by Montecasino Teatro, gaan speel, het ek genuine in jou gesig gelag. Maar hier is ons nou, en hoe lekker om te dink, dat die Teatro met sy 1 800 sitplekke nou soveel plek het om hierdie joy met meer mense te deel. Ek wil dus sê: Kom kyk, en moenie wag nie, want ons het laas keer uitverkoop. Moenie dat dit weer gebeur nie!
Kaartjies is via www.semisoetmusiekblyspel.co.za beskikbaar.
Lees ook: Semi-Soet is gesinsvermaak wat soet op die sak sal val + WEN dubbelkaartjies
