Saamgestel deur Elna Rossouw
Gerridene Berg en Rachelle Fourie se lewensverhale inspireer en motiveer. Gerridene se Goed genoeg bly op die topverkoperlys en My hart klop so is Rachelle se getuienis hoe om jou ware identiteit te vind, te leef, en te vier.

Gerridene Berg se boek, ‘Goed genoeg’. Foto: Verskaf
Goed genoeg
In Goed genoeg (R229, Lux Verbi) skryf Gerridene Berg dat sy glo baie vroue is vasgevang in die leuen dat hulle nie goed genoeg is nie. Aan die hand van haar eie storie raak sy die volgende kwessies aan:
- hoe vroue dikwels probeer presteer om aanvaarding te kry
- die wortel van trauma en vrees
- hoe mislukte verhoudings ‘n selfbeeld kan skeeftrek
- en hoe God by ons is in ons donkerste oomblikke. Sy skryf ook oor vriendskap, eensaamheid en vergifnis. En vir die eerste keer oor seksuele trauma wat sy ervaar het.
-
Gerridene is ’n spreker en stigter van verskeie geloofstranformasieprogramme wat daarop gemik is om vroue te help ontdek wie hulle in Christus is. Sy het in Johannesburg grootgeword en behaal haar LLB-graad aan UJ. Gerridene is getroud met akteur en motiveringspreker Hykie Berg.

Rachelle Fourie se boek, ‘My hart klop so’. Foto: Verskaf
My hart klop so
Rachelle Fourie het bekendheid verwerf vir haar deelname aan die program Op My Eish! waar sy kykers se harte verower het. In haar boek My hart klop so (R320, LUCA) deel sy haar lewensverhaal en haar pad van geloof, roeping en identiteit. In haar vroeë twintigs het sy ‘n hartoperasie ondergaan nadat sy onverwags met ‘n atriale septumdefek gediagnoseer is, en dit was slegs een van die vele uitdagings op haar lewenspad. In haar boek vertel sy meer oor hierdie kwesbare oomblikke wat haar gebreek, genees en nader aan God gebring het.
-
Rachelle se opregtheid en geloofsgebaseerde lewensbeskouing het haar ‘n gunsteling onder televisiekykers gemaak. Sy word in 2024 aangewys as die Silwerskermfees se TV-persoonlikheid van die jaar. Ná ‘n lewensveranderende hartoperasie het sy in haar roeping verdiep om vroue en jong meisies te begelei om hul identiteit in Jesus te ontdek en innerlike genesing te ervaar.
Sit aan by Herman se tafel in die nuwe rooi rose!


Herman se Tafel. Foto: Verskaf
In die Augustus uitgawe van rooi rose, met die mooi Marciel Hopkins op die voorblad, kan jy ook vir Herman Lensing, wyd bekend en bekroon as sjef en kosboekskrywer in die rubriek “Lekker lees”, beter leer ken. Hy vertel dat hy sy geliefdes en vriende “bederf met kos wat die hart warm maak: bredie, sop, warm brood, goeie aartappelgeregte, en daar is ook altyd sjokoladenagereg op die spyskaart”. Hy vertel ook watter drie kosskrywers hy sou wou nooi om aan sy tafel te kom aansit en watter fynkoservaring sy asem weggeslaan het.
Wen ‘n kopie van Herman se tiende resepteboek
Drie gelukkige lesers* kan elk ‘n kopie van Herman se tiende kookboek, Herman se tafel met die komplimente van rooi rose en Penguin Books wen en as’t ware deur die boek se blaaie by sy tafel aansit!
*Slegs een inskrywing per persoon.
Bepalings en voorwaardes: Alle pryse in rooi rose is onderhewig aan beskikbaarheid en is nie oordraagbaar, herverkoopbaar of terugbetaalbaar vir kontant nie. Vir nog bepalings en voorwaardes, besoek www.rooirose.co.za.
Sluitingsdatum: 28 Augustus 2026
Lees ook: Nuut op die boekrak
