“Na ’n dag vol hoop, teleurstelling en opwinding waag ons boere en hul gekose vyf die volgende tree op pad na liefde,” het Reandi Grey die vyfde episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks ingelei. En uit die gekose vyf moes die boere weer hul harte op die spel plaas en net drie potensiële pasmaats kies om verder deel van die reeks te wees.
Dit was natuurlik ook die vroue se beurt om die boere met vrae te peper. Willie was baie gemaklik daarmee want hy het gesê hulle kan hom enigiets vra wat hulle wil want “ek is wie ek is”.
Op sy beurt het Jack dit as ’n baie groot uitdaging gesien, want hy het sommer vroeg reeds besef hy is eintlik reeds aangetrokke tot elkeen in sy top-5.
Francois het dit duidelik gemaak dat hy na iemand soek saam met wie hy net 100% kan wees wie hy is.
En wie gaan daarin slaag om vir Arno nuuskierig genoeg te maak sodat hy daardie persoon van naderby wil leer ken?
“Ek is baie ernstig,” het JD oor sy deelname aan die reeks gesê en sy hoop was daarop gevestig dat daar werklik iets positief hieruit sou voortspruit.
Smee die yster terwyl dit warm is
Elke boer en sy gekose vyf het die geleentheid gekry om by Kashief Booley, Prins Albert se ystermit, se werkswinkel touwys gemaak te word oor wat hierdie oeroue vakmanskap behels.
“Proper boer in ’n boer-pakkie,” is hoe Willie beskryf is toe hy en sy span hul hand aan die smee van yster gewaag het.
Ook JD se vermoë met die hamer en warm staal het lof ingeoes. Terwyl die algemene gevoel was dat hy ’n bietjie skaam kan wees, het die vyftal geglo hy sal weldra ’n bietjie meer “uit sy boks” klim …
Maar Arno het besef hy is in die sop, want terwyl die hamer op die aambeeld weerklink het hy ook potensiaal in elkeen van sy gekose vyf raakgesien. Vir hom was selfvertroue die sleutel tot die toekoms.
Vir Jack het dit meer gegaan oor persoonlikheid, maar die persoonlikheid wat meisies die meeste beïndruk het, was die gespierde voor- en bo-armspiere wat hulle kon sien terwyl hy die (swaar) hamer met gemak hanteer het.

O, aarde!
Reandi het saam met Francois en sy gekose vyf byeengekom en sommer dadelik met die deur in die huis geval vir Alicia die geleentheid gebied om ’n aankondiging te maak. Ongelukkig gaan sy nie vir die kuierweek op die plaas beskikbaar wees nie, selfs al wou sy hom nog beter leer ken.
Reandi wou by haar weet hoekom sy voortgegaan het met die proses omdat almal wat deel van die reeks is, reeds geruime tyd die skedule tot hul beskikking gehad het. Alicia het net genoem dat sy gedink het sy sou dinge kon bewimpel sodat die plaasweek moontlik was, maar dit het nie so vir haar uitgewerk nie.
Tot haar teleurstelling, maar op grond van haar besluit, kon Alicia nie deel van die dag se verrigtinge saam met die res deurbring nie. Sommige van die oorblywende vier was nie baie beïndruk met Alicia se besluit nie en hulle het gevoel dat deelname aan die program toewyding daartoe verg – soos plaas toe gaan omdat jy daar wíl wees.
Francois het erken, selfs al was dit een van die ander meisies, sou hy steeds teleurgesteld gewees het. Hy sou graag aan die einde van die dag drie wou kies wat hy geglo het die regte drie is.
Besluite, besluite, besluite
Nadat die boere en hul gekose groep by verskillende restaurante in Prins Albert etes geniet het, was daar geleentheid vir een-tot-een-gesprekke – en dit het die naderende keuse van hul top-3 nóg moeiliker gemaak.
Die groot vraag op almal se lippe was net om te weet wie gekies gaan word om op die plaas te kuier.
Plaaskuier-keuses
Arno (28), bosbouboer, Tzaneen (Limpopo)
- Joanè

- Mariska

- Rosanne

Francois (34), natuurbewaarder, Hoedspruit (Mpumalanga)
- Beniska
Danelle
- Sonel K

Jack (30), appel- en peerboer, Hermanus (Wes-Kaap)
- Anri

- Hanli

- Lené

JD (28), gemengde boerdery, Reitz (Vrystaat)
- Janke

- Lara

- Leoné

Willie (37), bees- en mielieboer, Harrismith (Vrystaat)
- Lezelle

- Madelé

- Tayla

En nóg ’n skok
“Vir sommige mense raak die druk net te veel … die lees van situasies te moeilik, en die selfvertroue om te glo, dalk iets wat ontbreek,” het Reandi die situasie opgesom toe nog een van die gekose dames na afloop van die dag se verfilming besluit het om van die reeks te onttrek.
Francois was ontredderd want Alicia het reeds vroegdag aangekondig dat sy haar van die reeks gaan onttrek. En nou was dit weer een van sy gekose top-5 wat nie kans gesien het om voort te gaan nie.
Hy sou graag vir Danelle op die plaas wou gehad het en hy het genoem dat hy wel mense vooraf die geleentheid gegee het om voort te gaan met die proses of dan nie.
Danelle het erken dat sy ’n konneksie met Francois gevoel het na die blitsafsprake … en toe voel sy net daar was nie meer ’n konneksie nie. Sy het haarself as ’n “all or nothing”-mens beskryf en genoem dat sy ook nie gedink het daar was ’n konneksie van Francois se kant met haar nie.
’n Teleurgestelde Francois het aan haar genoem dat hy haar nie sou gekies het as hy nie haar beter wou leer ken nie.

Inskrywings vir seisoen 19 is oop
Die vervaardigers van Boer soek ’n vrou is reeds op soek na boere vir die 19de seisoen van die reeks.
Manlike en vroulike boere van alle ouderdomme mag inskryf, mits hulle ongetroud en ouer as 21 jaar is.
Boere kan op die volgende maniere inskryf:
- Besoek www.kyknet.tv om aanlyn in te skryf of ’n inskrywingsvorm af te laai.
- Bel 079 614 2229.
- Stuur ’n e-pos na: boer@wolflightsa.com
Inskrywings sluit om middernag op 9 September 2026.
- Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Breyton Paulse se ‘Boerbokke’-rugbyreeks is reg vir afskop
