Deur Maretha Botes
Dr Dale Bredesen is ‘n navorser en skrywer van verskeie boeke oor alzheimersiekte. Volgens hom bestaan daar drie tipes alzheimersiektes. Die een tipe word deur inflammasie in die brein en sekere genetiese merkers veroorsaak. ‘n Tweede tipe word deur metaboliese merkers soos insulienweerstandigheid en lae vlakke van sekere vitamines en hormone veroorsaak. ‘n Derde groep mense kry alzheimersiekte as gevolg van gifstowwe uit die omgewing. Op grond hiervan het dr Dale sekere dinge geïdentifiseer wat ‘n mens kan doen om dié gevreesde siekte teen te werk:
- Kry minstens agt uur se goeie slaap per dag. Dit help dat ‘n mens se brein kan herstel en van die skade wat in die dag plaasvind, uitgeskakel kan word.
- Vas vir minstens 12 uur per dag. Dit is moontlik as jy sewe-uur die aand en eers weer sewe-uur die volgende oggend eet.
- Doen dinge wat jou stres kan verminder, dinge wat jy natuurlik in jou lewe inwerk om spanning te verminder en om jou brein kans te gee om te herstel.
- Doen 30 tot 60 minute aerobiese oefening vyf keer per week. Maak dit natuurlik deel van jou alledaagse lewe deur te stap, dans, en in die tuin te werk.
- Doen breinoefeninge. Dit kan jy doen deur iets nuuts te leer soos ‘n nuwe taal, ‘n nuwe vaardigheid, ‘n kursus of speletjies soos Sudoku en blokraaie te doen.
- Volg ‘n gesonde dieet met baie donkergroen groentes ryk aan vitamiene.
- Drink baie water.
- Skakel gluten en suiker uit.
Prof Ignatius Gous van Unisa, wat mense help om geloofwaardige en betroubare navorsing oor die brein te gebruik om beter te leef, stem saam. Hy voeg by dat jy net op een manier ‘n gesonde brein kan kweek, en dit is deur ‘n gesonde leefstyl te handhaaf.
“Jy kan nie die verouderingsproses vermy nie. Jy kan wel beheer hoe jy verouder. As jy die regte dinge doen om jou brein gesond en fiks te hou, beteken dit jy gaan die wysheid van die grysheid saam met jou dra en die ‘dom’ uit die ouderdom haal,” sê prof Ignatius.
